Kuier

HOE HANTEER EK DIT?

-

’n Angstige kind is nie bloot “moeilik” of “stout” nie, sê Lindsey. “As jy ’n kind se angs só misverstaa­n, kan dit hul baie eensaam laat voel.”

Jy kan jou kind help verstaan wat angs is, en hoe om dit te herken en te hanteer as jy weg is. “Dis belangrik dat die kind verstaan almal ervaar dit die een of ander tyd, maar hoe húl dit hanteer, maak die verskil,” sê Lenette.

1

Luister

Luister met geduld en begrip na wat jou kind sê – nie net om te antwoord nie, sê Lenette. “’n Kind moet veilig by sy of haar ouer voel om gevoelens en gedagtes te deel sonder om te voel hulle gaan nie ernstig opgeneem word nie.”

Vra elke dag uit oor hul dag. Só hou jy die kanaal oop, en sal jou kind gemaklik wees om met jou te gesels as ’n probleem of iets opduik wat hulle angstig laat voel.

2

Stel ’n voorbeeld

Kinders moet eerstens sien hoe emosionele intelligen­sie lyk voor hulle dit self kan aanleer. Identifise­er jou eie gevoelens en emosies hardop deur te verduideli­k hoe ’n sekere situasie jou laat voel. Sodoende sal jou kind begin besef hy is nie al een wat soms oorweldig voel nie, en dan mettertyd ook leer om dié emosies self te verwoord.

3

Wees positief

Moedig positiewe gesprekke aan deur die soort vrae wat jy stel, byvoorbeel­d:“Wat het jou vandag laat glimlag?”; “Wie was vriendelik teenoor ander maatjies?”; “Wat is jou favourite speletjie wat pouse gespeel word?”; “Het jy vandag iets geleer wat jou verras het?”

Jy kan ook jou kind help om iets wat hulle as oorweldige­nd negatief ervaar, te herformule­er, sê Lenette. As ’n kind byvoorbeel­d iets sê soos: “My hele lewe is ’n flop”, kan jy voorstel dat hulle eerder sê: “Dié ervaring was goor, maar wat kan ek daaruit leer?”

Prys jou kind wanneer hulle iets regkry of doen wat hulle eers bang gemaak het. Dít herinner hulle waartoe hulle in staat is as die vrees weer sou opduik, en gee hulle selfvertro­ue.

4

Haal die angel uit die onbekende

Doen moeite om die vreemdheid minder te maak, sê Pauline. Ry verby die skool, laat jou kind hul nuwe onnie ontmoet, en laat hulle jou help om hul boeke en skryfbehoe­ftes gereed te kry. “Praat met hulle oor die nuwe skooljaar, wat hulle bekommerni­sse en kwellings is, en vra wat hulle nodig het om hulle te help om beter te voel,” voeg sy by.

Roetine is ook belangrik, sê sy. “As kinders weet wat om te verwag, haal dit die vrees uit die onbekende. Vertel hulle hoe laat jy hulle sal aflaai en kom oplaai, pak saam die kosblikkie en tas, en hou by genoeg slaaptyd.”

Jy kan selfs vooraf jou kind se nuwe onderwyser vra hoe die beplanning vir die dag lyk sodat jy hulle kan voorberei op wat wanneer gaan gebeur.

As die angs oor nuwe maats gaan, reik uit na ouers in die klas en reël ‘n playdate, sodat daar bekende gesigte in die klas is.

5

Raadpleeg ’n kenner

As jy voel jy dring nie tot jou kind deur nie – of net oorweldig voel deur die situasie – moenie huiwer om by ’n opvoedkund­ige sielkundig­e of spelterape­ut aan te klop vir raad nie. Jou kind se onnie behoort ook wenke te kan gee oor hoe om jou kind se angs met praktiese ingrypings te takel.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa