Kuier

WAT DIE HART VAN VOL IS

Staan sterk en hou jou doel voor oë as die lewe se storms jou boompie laat knak

- DEUR LITTICIA TARENTAAL-BROWN

Wanneer ek terugkyk op die jaar wat verby is en sien hoe baie mense in hul drome en doelwitte floreer, besef ek dat God dit só bestem het vir hulle.

Sommige het in 2023 genees van innerlike pyn en ou wonde wat hulle van hul drome en doelwitte beroof het – soveel só dat hulle nie eens in die spieël wou kyk nie.

Dis dié einste mense met letsels wat ’n paar jaar terug die soet vrugte van sukses gepluk het; mense wat heel bo-aan die suksesleer gestaan het toe omstandigh­ede hulle so platslaan dat hulle net nie weer kon opstaan, lag, droom of vreugde ervaar nie. Ja, om bo-aan die suksesleer te staan het soms ’n duur prys te betaal. Soos die spreekwoor­d lui:“Die hoogste bome vang die meeste wind.”

In dié geval is dit mense wat van onder af klippe na dié bome gegooi het, sodat dit sodoende vrugte verloor het totdat daar niks meer oorgebly het nie.

Oor die jare het daardie bome sterk gegroei deur wind en storm, maar nou, met die klipgooier­y, buig dit effens vooroor en val die vrugte hard op die grond.

’n Boom het baie reën en sonskyn nodig om weer vrugte te kan dra, maar as die reën vir lank nie geval het nie, vat dit langer om weer vrugte voort te bring. Maar die son sal altyd weer oor daardie boom skyn.

Al vat dit ons as mens ’n jaar of twee om te genees van die aanvalle van onder op die grond en om ons, moet ons sterk staan en moed hou. Vat jou tyd om te genees en weet: hierna sal jou boom weer regop kom met wortels stewiger as ooit geanker, want eens op ’n tyd was jou lewe byna ontwortel, maar net toe hulle dink jy gaan val, toe buig God jou weer regop.

’n Wyse het eenkeer gesê mense gooi nie klippe na bome wat nie vrugte dra nie, so as hulle klippe na jou boom toe gooi, moet jy weet jy dra waardevoll­e vrugte.

Dis nie altyd maklik om die soet smaak van sukses te proe nie. Maar dis wel die moeite werd, want op jou pad na bo ontmoet jy die wonderliks­te mense. Individue wat jou lewe vir ewig verander en hul merk permanent laat.

Jy bevind jou op plekke waaroor jy voorheen net kon droom, en besef God se hand is oor jou lewe. So, werk wanneer jy moet, wanneer ander slaap, wanneer ander speel. Werk hard om jou drome te bewaarheid. Staan op, buig jou boom weer regop, glimlag vir die wêreld en gee jou beste soos nog nooit tevore nie.

God het ons met unieke talente geseën. Gebruik joune. Dis wat Hy van ons verwag. Moenie dat ou wonde maak dat jy jou talente onder ’n maatemmer laat begrawe waar mot en roes dit kan vernietig nie.

Almal wil sukses in die lewe behaal en almal maak hul kinders groot om ook eendag sukses te behaal, maar die pad na bo is steil en vol opdraande. En langs dié pad gaan jy baie teëspoed en struikelbl­okke ervaar, maar onthou: niks wat die moeite werd is, kom verniet of maklik nie.

Ons voorouers was vir ons ’n toonbeeld van hardwerken­dheid en deursettin­gsvermoë. Kom ons volg in hul voetspore en laat hul legacy voortleef.

Ons kinders kyk op na ons. Hulle leer nie noodwendig altyd uit wat vir hulle gesê word nie, maar wel uit die voorbeeld wat hul ouers stel.

Kom ons vat die leiding en trap die paadjie na bo vir hulle oop en leer hulle niks is onmoontlik by God nie, en dat jy nie sukses sonder Sy magtige hand kan bereik nie. Die Bybel sê mos:“Ken Hom in al jou weë en Hy sal jou paaie gelyk maak.”

Moenie vergeet om aan te hou droom nie. Drome hou jou aan die gang en bied hoop wanneer als donker lyk. Klou vas aan jou drome, al waai die wind jou boom herwaarts en derwaarts. Trek die rieme aan jou takke stywer sodat dit nie in storms afbreek nie.

En wanneer jy eendag bo-op daardie berg staan en jy kyk af na die wêreld aan jou voete, sal jy met‘n glimlag vir jouself kan sê dit was alles die moeite werd – al daardie nagte se harde werk toe almal geslaap het; die bloed, sweet en trane wat jy ingesit het om bo uit te kom.

Onthou, niemand kan ooit daardie opoffering­s van jou af wegneem nie. Dis vir die res van jou lewe deel van jou bestaan, en sal ook so in jou nalatenska­p opgegravee­r word.

Staan op, buig jou boom weer regop, glimlag vir die wêreld en gee jou beste soos nog nooit tevore nie.

 ?? ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa