Seekos uit die veld
Hoekom voel dit asof die mense wat regtig lekker kos kan maak, nie die mense ken wat regtig goed boer nie?
Dit proe toe soos calamari, net lekkerder. “Ons noem dit frillies,” sê my boerevriend uit die Oos-Kaap terwyl hy die bord kos op die tafel sit. Hy kuier by ons in die Kaap en het aangebied om te braai. “Dis skaap-dikderm, omgedop en in repe gesny.”
Die naam kom van die geruite oppervlak van ’n dikderm, maar as jy wil hê mense moet dit eet, moet liefs nie vir hulle sê wat hulle eet nie, gee ek raad.
My vriend glimlag: “Probeer nog ’n stukkie. Ek braai dit graag in olyfolie.”
En ja, dit is een van die aangenaamste kosverassings wat ek nog geproe het. Met ’n effense Portugese peri-peri-byt en ’n lekker koue bier, kan ek myself amper verbeel ek sit op die koel stoep van die Costa do Sol- hotel in Maputo met ’n bord calamari. Dit is niks minder as seekos van die veld af nie.
As ek dink aan die wonderlike vleis wat ons boere produseer, veral rooivleis, dan wonder ek altyd hoekom daar nie ’n groter ophef hiervan gemaak word nie. Neem byvoorbeeld die feit dat sekere inheemse beesrasse, soos Afrikaners, die perfekte balans van omega 3- en omega 6-olies in hul vleis produseer as hulle op natuurlike veld wei voor hulle geslag word. Dis dieselfde gesonde olies wat mens in vis kry en wat help om hartaanvalle te voorkom en die brein beter te laat werk.
Boere het ongelukkig nie die soort verhouding met die verbruiker wat jy nodig het om dié boodskap oor te dra nie. Dis deesdae meestal die kettingwinkels, waar gewone mense hulle kos koop, wat met die mark praat.
Dis jammer, want dis tog die boer wat daardie stuk vleis produseer; wat in die nag opstaan om ’n koei te help kalf; wat tob oor of sy diere genoeg weiding gaan hê om deur die winter te kom; en wat op sy gelukkigste is wanneer sy beeste, blinkvet en gesond, in die somer halflyf deur die rooigras loop.
Maar wanneer die veeagent se lorrie op my pa se plaas in die Oos-Kaap, volgelaai met Bonsmara-speenkallers, aan die onderpunt uit die dennelaning draai, dan is dit die laaste keer dat hy sy eie diere sien of enigiets met hulle te doen het. Van hier af is dit net voerkrale, slagters en kettingwinkels.
Die enigste inligting wat verbruikers deesdae het om hulle te help kies tussen die verskillende snitte op die winkelrak, is wat op die verpakking staan. Kyk maar self wanneer jy volgende keer ’n steak koop – dit sê niks oor die gehalte van die vleis nie. Net watter snit dit is en hoeveel dit kos. Mens kan dus aanneem dat alle grade vleis teen dieselfde prys verkoop word, of hoe?
Hopelik kan Boerekos in dié verband help deur verbruikers die kans te gee om sommer by die boer self ’n bietjie meer te hoor oor die wonderlike produkte wat hulle produseer. Dit is dus met groot trots dat ons in dié uitgawe ’n paar bloubloedboere-adverteerders, soos die Afrikaner- en Nguni-beestelergenootskap, verwelkom.
Want wie weet, as ’n boer self sy storie aan jou vertel, proe jy straks aan nóg ’n stukkie frilly.