HOEKOM DIE BOHAAI OOR BEESTE SE BYDRAE TOT AARDVERWARMING?
In sy boek Should Meat Be on the Menu? skryf die Australiese landboujoernalis David Mason-Jones dat dit loutere twak is dat beeste tot aardverwarming bydra.
Die eerste wanvoorstelling is dat beeste net daar in die middel van die veld staan en uitasem en groot volumes “nuwe koolstof” in die vorm van koolstofdioksied en metaangas uitlaat, wat aardverwarming veroorsaak.
Maar daar is nie iets soos “nuwe koolstof” nie. Daar was nog altyd net ’n sekere, beperkte, hoeveelheid koolstof op aarde. Dit word in die grond, die lug, die water of koolstofgebaseerde lewensvorme, soos mense en plante, geberg.
Wanneer ’n koei (of ’n skaap of ’n bok) wind opbreek, is die resultaat eenvoudig ’n terugkeer van koolstof na die atmosfeer. Dit is ’n ewigdurende, geslote kring. Daar is geen netto toename in koolstof nie.
Dis ’n natuurlike, organiese siklus, aangedryf deur sonenergie, waarin die beeste en ander vee komponente is.
Diegene wat vra dat mense minder vleis eet om die planeet van aardverwarming te red, ignoreer die basiese feite oor die natuurlike koolstofsiklus.
Hulle verwar dit met kragsentrales wat met fossielbrandstowwe, soos steenkool, aardgas en olie, werk.
Kragsentrales kry hul koolstof in die vorm van fossielbrandstowwe wat eeue lank diep onder die grond onversteurd opgeberg was. Hulle bring dit na die oppervlak, verbrand dit en skep só wesenlik meer koolstofdioksied in die atmosfeer.
Dit is koolstofdioksied wat deur menslike bedrywighede gegenereer is.
Jy kan dus beslis bo-op ’n kragsentrale se skoorsteen staan en redeneer dat die koolstofdioksied daaruit die omgewing verwarm. Jy kan egter nie in die veld staan waar beeste of skaap wei en dieselfde argument aanvoer nie.
Mense wat ’n beperking op vleisetery wil instel, verwar kragsentrales met vee.
Nog ’n verskil is dat die kragsentrale nooit sy eie afval-koolstofdioksied kan gebruik nie. ’n Skaap of koei kan. Die volgende mond vol gras verteenwoordig ’n nuwe aftrekking van koolstofdioksied uit die atmosfeer. Vrylopende beeste is eerder deel van die oplossing van koolstofvrystelling as die probleem.
Die weidingsverhouding tussen plante en vrylopende diere is een van die weinige maniere om oortollige koolstofdioksied uit die atmosfeer te onttrek en as koolstof in die grond te berg.
Voerkraaldiere val in ’n ander kategorie weens die bykomende koolstofspoor van die fossielbrandstowwe wat gebruik word met die ploeg, saai en oes van graan. Daar is ook ’n fossielbrandstofkomponent in die produksie en verspreiding van kunsmis vir die verbouing van graan.
’n Verdere fossielbrandstofkomponent kom in by die vervoer van die graan na die voerkraal.
Net so word mense gewaarsku oor die gevare van metaanproduksie by koeie asof dit iets bisars en ongewoons is. Metaanproduksie by diere is ’n heeltemal natuurlike en organiese proses wat uiteindelik deur die son se energie aangedryf word.
Metaanproduksie by fossielbrandstowwe is ’n verskillende proses wat heeltemal onverwant aan beeste is.
Die feit dat ’n ernstige veldtog teen beesboere begin is op grond van misleidende inligting en wetenskap wat swak verstaan word, is verstommend.
Gelukkig het beesboere nou ’n hoëprofiel-wetenskaplike aan hul kant in die vorm van prof. Tim Flannery van die Macquarie-universiteit in Sydney. Hy is ’n voormalige Australiër van die Jaar.
Tim het onlangs op ’n seminaar in Australië ’n praatjie gelewer met die titel “Can red meat be green? Experts debate sustainable food production”.
In sy praatjie het hy beklemtoon dat die mens deur die verhouding tussen plante en diere te gebruik, die koolstofbergingsvermoë van die grond kan stimuleer.
Dit is uiters belangrik vir alle veeboere om die boodskap uit te dra omdat die wêreld se voedselsekerheid, die omgewingstabiliteit en mense se bestaan op die spel is.
NAVRAE: David Mason-Jones, tel. +61 (0) 411 172 328. E-pos: david@journalist.com.au. Webwerf: www.journalist.com.au