JAY OELOFSE
Landbouweekblad se eie kosblogger, die sjef en Karooboer JAY OELOFSE, het Arina du Plessis onlangs meer geleer oor Boerbokvleis. Na dese kan sy met reg sê dat jy iets groots misloop as jy nog nie die soetsagte vleis van ’n Boerbok geproe het nie.
Jansenville mag klein wees, maar die mense daar ken van kosmaak. En opregte boerekos daarby. Dis op dié klein dorpie, in sy ouma se tuisnywerheid, waar Jay sy kosmaaktande gesny het. Só hard het die kosmaakgogga kleintyd gebyt dat dié boerklong ná sy studentejare aan die landboukolleges Saasveld en Grootfontein besluit het om hom as sjef te laat oplei. Ná hy dié kwalifikasie in die sak gehad het, het hy ondervinding in toprestaurante opgedoen voor hy sy ander groot liefde – om te reis – met sy passie vir kos gekombineer het. Hy het Afrika gaan verken.
“’n Werk wat as ’n avontuurlustige reis begin het, het ’n onskatbare biblioteek vol kos en kultuur geword, van Kaapstad tot in Uganda. Met ’n gasstofie en twee koelbokse was ek gereeld op maande lange ekspedisies. Ek het my Afrikaanse boerekos vir hordes toeriste berei, met Afrika as my kombuis.”
Vandag is hy terug op die plaas waar hy en sy vrou, Helette, hoofsaaklik met Angora- en Boerbokke boer.
“Ons boer met Angoras omdat bokhaar tans ’n baie duursame produk op die mark is. En ons boer met Boerbokke om ons bergveld en buitekampe te benut. ’n Boerbok is ’n uiters geharde en aanpasbare dier.
“Ons bemark die Boerbokvleis hoofsaaklik oor Paasnaweek en Kersfees, en ons afsetpunt is KwaZulu-Natal,” vertel Jay.
“En dan is daar basterbokke – hulle is eintlik ’n glips wanneer ’n Boerbokram ’n Angora-ooi beetkry. Dis seker waar die gesegde ‘ ’n man is ’n bok en ’n bok is ’n bliksem’ vandaan kom! Maar dis nie noodwendig ’n slegte foutjie nie, want met ’n basterbok kry jy die beste van albei bokke,” lag hy.
Die vleis van ’n basterbok is soeter en sagter as ’n Boerbok s’n, met ’n goeie lagie oppervlakkige vet, en die geur is besonders.
Daar is verskeie maniere om bokvleis gaar te maak dat jou gaste hul vingers sal aflek. Jay maak veral graag pekelrib. Bokrib het nie die oormaat vet van ’n skaapribbetjie nie, en dit braai dus vinniger. Dis ’n wenner, veral as jou gaste honger is en nie ure wil wag voor hulle eet nie. ’n Ander gunsteling is ’n heel, jong bokkie, gespitbraai op die Argentynse manier ( asado).
“In Argentinië spitbraai hulle die bokke teen 45 grade, pleks van heeltemal horisontaal soos ons dit in Suid-Afrika doen. Die Argentyne beweer op dié manier loop die vet teen die bok af terwyl hy braai. Dus word die bok die heeltyd bedruip met sy eie vet, wat sorg vir sappige vleis,” praat hy my honger.
“Ek is ook gek na Boerbokkerrie, veral in die winter, en ek meng en rooster my eie kerriespeserye daarvoor.
“Dit is die enigste keer dat my kookvernuf aan my ouma se hak byt!”
Hoewel hy ook lief is vir meer eksotiese geure, kook hy en Helette met wat hulle op die plaas en in die huis het – dus, boerekos.
“Om op ’n plaas te bly, het voordele en nadele as dit by kosmaak kom. Ek is een van min bevoorregte mense wat nooit regtig vleis hoef te koop nie. Maar die ‘nadeel’ van op ’n plaas bly, is dat ander bestanddele nie altyd so maklik bekombaar is nie. In dié opsig het ek baie by my pa geleer. Hy weet hoe om te improviseer en resepte in ’n oogwink aan te pas met dit wat hy in die huis het.”
As hy nie op die plaas besig is of kosmaak nie, maak hy planne.
“Ek het onlangs my eie vleishandelsmerk, KarooKarma, begin en verkoop koedoewors, carpaccio en chorizo onder daardie naam.” Hy is ook besig om sy droom om met Wagyu-beeste te boer, te bewaarheid.
Jay het die laaste woord: “Boerdery en kos is my voorliefdes – en ek leef dit. Die plaaslewe, lekker kos, lang kuiers, braai, jag, vriende en familie – dit is die lewe!”