Landbou Boerekos

MAAK SÓ MET ’N BOERBOKKAR­KAS

-

Jay se raad vir lesers wat ’n Boerbokkar­kas in die hande kan kry, is om die slagter te vra om dit vir jou in bekende snitte te sny. Laat die nek in skywe opsaag vir kookvleis waarmee jy sop, bredie en stowegereg­te kan maak. Die nek is die geurigste deel van die bok, want hoe meer ’n spier werk, hoe geuriger is daardie vleis. Die enigste nadeel is dat dit taai kan wees. Gebruik dus lang, stadige, klam hitte, soos stowe, wanneer jy nek gaarmaak. Hou een blad heel en laat die ander in bladtjops sny. Bladtjops is ’n bietjie taaier as lendetjops, dus moet dit vooraf gemarineer word. Onthou om iets suurs by die marinade te voeg — ’n bietjie asyn, suurlemoen­sap of wyn. Dit help om die vleis sag te maak. Die rib hou hy heel om pekelrib te maak. (Vra jou slagter om die ribbes by die tjops deur die been te saag sodat jy dit maklik in porsies kan sny.) Een boud hou hy heel, want dis altyd lekker vir familie-etes op ’n Sondag. Die ander boud sny hy in blokkies om kerrie, bredie of wors te maak. Skenkels kan heel gehou word (daar’s darem min dinge so lekker soos ’n stadig gebakte skenkel op kapokaarta­ppels), of jy kan dit laat opsaag vir potjiekos of bredie. Iets wat baie mense uitgooi, is die lieslappe. Moenie, want dis heerlike, geurige vleis. Jay sny dit in blokkies en gebruik dit soms as worsvleis.

Vir die lekkerste bederf met ’n lieslap, maak jy soos volg: Voorverhit die oond tot 200 ° C. Sny lieslappe in blokkies of repies. Kook in soutwater tot sag. Braai die vet vir ’n paar minute in die pan uit, byna soos kaiings. Plaas die vleis in die oond en oondrooste­r dit vir 3-5 minute, tot bros. Sprinkel ’n bietjie suurlemoen­sap oor en sit voor as peuselhapp­ie.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa