Heugeniskos
In die agtste uitgawe van Boerekos besoek die span Namakwaland en die Olifantsriviervallei en ervaar dat die kos wat vandag nog daar geëet word, net so getrou is aan die omgewing soos dit jare gelede die geval was ...
Dit was danksy sy blomme dat Namakwaland wêreldbekendheid verwerf het. ’n Ontploffing van amper onbetaamlike kleure wat die andersins bruin veld tussen die gneisrante in die lente toestaan. ’n Planteglorie van sulke asemrowende afmetings dat dit elke jaar mense van oor die wêreld heen lok, mense wat geen moeite of onkoste hiervoor ontsien nie.
Maar die blomme is net die uitspattige versiering van ’n streek wat oor honderde jare al diep in Suid-Afrika se heugenis wortelgeskiet het. Want hier in Namakaland is die eerste Afrikaanse woorde, soos kraal (van die Portuguese curral, oftewel ’n groep inheemse huise), en plekname, soos Karoo (droog), die eerste keer gebruik. Dit is ook waar die eerste opregte Suid-Afrikaanse kookkuns ontstaan het, soos Renata Coetzee en Volker Miros in hulle uitstekende boek Koekemakranka: Khoi-Khoin-Kultuurgoed en Kom-Kuier-Kos so aangrypend beskryf.
En dit is die plek waar die eerste permanente inwoners van Suid-Afrika die laaste keer hul krale en kookskerms kom opslaan het. Hier het hulle vee begin aanhou, en die nimmereindigende swerwery oor die vlaktes eindelik aan die Boesmans oorgelaat. Dis ook die plek waar die gerief van kleipotte en asoonde ontdek is, en waar bokke en skape se melk mildelik voorsien in suurmelk-karringmelk en vleis vir gevlegte dermpies. En uit die veld is anyswortel vir speserye gebruik, bergkambro en veldpatat vir groente, en as vrugte, giftige wildeamandels, skoongewas in die water van bergstrome, en die sappige knolle van Khoi-Khoin-vygies.
Hier is die woord uintjie die eerste keer ge- bruik, nadat ’n veesmous heel waarskynlik uit die Kaap teruggekeer het waar hy per toeval ’n herbergier die Hollandse woord ajuin vir uie hoor gebruik – en dit só ’n indruk op hom gemaak het dat hy besluit het om die woord van toe af vir die meer as dertig ondergrondse bolplante te gebruik wat duisende jare lank as stapelvoedsel vir sy mense gedien het.
Dit is ’n onbedoelde toegewing aan die belangrikheid wat die nederige ui in die toekoms van Suid-Afrika se kooktradisie sou inneem. Wie begin nou nie die meeste aandetes met die braai van uie nie? In die Khoi-Khoin-kultuur is uintjies so belangrik geag dat die begin van die jaar bepaal is deur “uintjietyd”, wanneer die groen blare van die bolplante hul groen blare bo die grond sou uitstoot, en die aantal jare in die Khoi-Khoin-kalender gemeet is aan die aantal kere dat uintjies geoes is.
Dit is die eggo van die oerkombuise wat die redakteur, Arina du Plessis, en haar span in die agtste uitgawe van Boerekos herontdek. Dit is te vind in die streek se geurige skaapvleisdisse, soetsuurdeeggebak, en aardse rooibos-ekstrakte en alombekende aartappels. Kos wat ’n nuwe dimensie kry deur sy streekkarakters, soos Jopie Kotze en sy “heilige water”, ’n knertsie wat enige reisiger weer aan die gang kry! Of Kobus “Dassie” Nieuwoudt se bekende braaigeregte met netvet, wat die streek se voorliefde vir skaapvleis gestand doen.
Kom geniet dus die reis saam met ons.
CHRIS BURGESS Hoofredakteur: Landboutitels