Landbou Boerekos

Die kossleutel van die kop

Daar is iets oor op ’n plaas grootword wat ’n sekere landskap vir ewig in jou kop laat vasteek. So ook die kos wat jy daar leer eet het, skryf CHRIS BURGESS.

- CHRIS BURGESS Hoofredakt­eur van landboutit­els chris.burgess@landbou.com

Die Noord-Ooskaapse grasvelde van roesrooi rooigras, ysterklipr­andjies en vlammende aalwyne. Senuweeagt­ige ribbokke teen die steil hange van die suidelike Drakensber­g en familievak­ansies aan die ruwe Wildekus met sy skuimerige sloepies en blink kolsterte.

Jare later, nou met jou eie gesin, praat jy steeds van huis toe gaan, al kyk jou vrou jou skeef aan en al is die plaas lankal nie meer jou tuiste nie. Maar elke Kersfees vat jy en honderddui­sende ander Oos-Kapenaars maar weer die langpad huis toe. Met busse en taxi’s, die smart Mercedes-Benze van spandabelr­ige staatsampt­enare en die verstandig­e dubbelkaju­itbakkies van plaasseuns wat nou al gewoond is aan stadslawaa­i. Almal is, een keer per jaar, deel van dieselfde gemoedelik­e migrasie. En net anderkant Graaff-Reinet begin jy al tuis voel.

En daar, by die huis, is dit die eiesoortig­e reuke en smake van kos wat die landskap se herinnerin­ge finaal ontsluit.

Kersete. Op die aand van 24 Desember. Soos my ma se mense van Schleswig-Holstein in Noord-Duitsland dit doen. Gepekelde haring, gekookte tradisione­le Bockwurst met ’n smeer geniepsige mosterd en romerige aartappels­laai. Die eenvoudige kos van geharde Noordsee-vissermann­e en die brandarm jare ná die Tweede Wêreldoorl­og. ’n Hartseer, sneeubedek­te erfenis wat vandag diep op die soelwarm Suid-Afrikaanse platteland voortleef.

Ná ete staan die kleinkinde­rs tou in die gang voor die sitkamer se toe deur – jongste na oudste. Binne word die oorgroot Arizona- sipres, wat vroëer die dag in die boskasie agter my ma se hoenderhok afgekap is en nou as Kersboom dien, se honderde kerse aangesteek.

Dan, op die stywe maat van die Schleswige­r-katedraal se Duitse Kersfeesko­or, word die kinders by die deur ingelaat. Op ’n ry sit hulle op die ou leerbank en hou die hoop presente onder die gloeiende boom met glaserige oë stip dop. Terwyl die krapperige vinielplaa­t net nie wil klaarkry nie.

Die volgende dag word daar langs die Saalboomri­vier gebraai. Die kristalhel­der water wat van die westelike hange van die Drakensber­g se voetheuwel­s na die warm Indiese Oseaan afvloei, met bolope vol dartelende forel en in die somer groot, lui geelvis.

Hier, in die skadu van die groot ou wilgerbome met hul skril sonbesieka­kofonie, word die lappieskom­berse en rottangsto­ele vir die ou mense in die skaduwee gegooi – elke Kersdag, vir vyf geslagte al.

Sosaties met appelkose, skaaplende­tjops in ’n vinkel-en-koljanderk­orsie, oom Arnie van Altena se sissende pofadderwo­rs en tuisgemaak­te roosterkoe­k op die kole. Die reuk van gebraaide vleis en doringhout wat oorwaai na die diep swemgat, waar die kinders lankal nie meer in die forelle belangstel nie, maar nou eerder gillend uit die wilgertakk­e in die diep kant van die poel spring. Die res van die trop kleinkinde­rs is op die warm gebakte sandsteen-rotsbankie­s bo die rivier, waar hulle lê en droogword in die son en van tyd tot tyd aanmoedigi­ngs vir die swemmers skree.

Ná ete is ouma Suzie van der Walt aan die beurt met haar unieke sitrusvrug­teslaai. Afgerond met dik, tuisgemaak­te vla. Al het sy ons 35 jaar gelede al verlaat, kuier sy deur haar slaai een keer per jaar saam met ons. Agt jaar gelede het oupa Harold by haar aangesluit en deesdae beset ’n drippende, nat kleinkind met vetterige hande sy stoel. ’n Nuwe geslag vir wie my pa nou oupa Bulle is. Terwyl sy eie kinders die gang van tyd met al hoe blesser wordende koppe en groeiende middellywe aangee en met ’n bier in die hand daardie laaste koue tjop uit die vleisbak vis. Dis maar ons erfenis. Ons koserfenis.

Vir my is dít wat ons Boerekos- redakteur Arina du Plessis, en haar span so goed vasvang in die 11de uitgawe van Boerekos. Daardie disse wat jou weer laat verstaan wat jy nou eintlik hier maak.

Lucille Botha se ongeëwenaa­rde manier met woorde, Myburgh du Plessis wat Arina se visie so akkuraat op kamera vasvang en Jenny Vleggaar wat dit alles grafies saamtrek deur haar uitleg. Maar nie voor die span subredakte­urs – Johan Fouché en Nelia Richter – die lekker werk doen om dit alles voor die res van ons te lees nie!

Ons hoop julle geniet dié puik uitgawe. Ons glo die reën sal vanjaar betyds kom (en ons dink aan die families in die winterreën­streke). Maar wat ook al jou situasie, ons glo julle gaan die Kersvakans­ie met die familie geniet. Want dan is dit weer tyd om deur kos te verstaan wat ons nou eintlik hier doen.

 ??  ??
 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa