Varkvleis sosaties
Die geure van paprika en komyn pas goed by varkvleis. Ek het net varkvleis en spek op die stokkies geryg, maar as jy verkies om groente by te sit, sal blokkies rooi soetrissie goed werk by die geure van die speserye.
10 ml paprika 10 ml geroosterde, fyn komyn Sap van 1 groot suurlemoen 30 ml tamatiepuree 45 ml olyfolie 1 kg varkfilet, in blokkies gesny 1 pak repiespek (met lekker baie vet), in repies gesny Sout en vars gemaalde swarpeper
Meng die paprika, komyn, suurlemoensap, tamatiepuree en olyfolie saam en giet dit oor die varkvleis in ’n nie-metaalbak. Meng die vleis en speserye goed. Bedek en laat vir 1-3 uur in die yskas marineer. Ryg die varkvleisblokkies en stukkies spekvleis op sosatiestokkies. Geur met sout en swartpeper en braai die sosaties oor matige hitte tot gaar na smaak. Sit voor met aartappelslaai en braaibroodjies. Lewer 6 porsies.