Gevlamde niertjies in tiemieroomsous
8 lamsniertjies, goed skoongemaak 5 ml suurlemoensap 5 ml sout 10 ml aangemaakte mosterd Paar druppels worcestersous Knippie paprika 1 ui, grof gekap 45 ml botter 30 ml brandewyn 100 ml room Paar takkies vars tiemie Sout en vars gemaalde swartpeper na smaak
Halveer die niertjies in die lengte en sny die kliere uit. Laat die niertjies vir ’n uur in soutwater week. Dreineer en druk droog. Meng die suurlemoensap, sout, mosterd, worcestersous en paprika. Sprinkel oor die niertjies, bedek en verkoel vir 1 uur. Verhit die botter in ’n pan en braai die ui daarin tot sag. Voeg die niertjies by en braai vir ongeveer 7 minute aan elke kant of tot gaar. Voeg die
brandewyn by en laat opvlam. Voeg die room en tiemie by en prut tot ’n geurige sous vorm. Geur met sout en peper en sit voor as deel van ontbyt of bedien op roosterbrood. Lewer 4 porsies.