Skilpadjies met droëperskeblatjang
Skilpadjies 1 skaaplewer Sout en vars gemaalde swartpeper Genoeg netvet ( caul fat)
Droëperskeblatjang 250 ml droëperskes, oornag in kookwater geweek en fyn gekap 3 heel droëpere, gekap 60 ml droë-appelkose, gekap 350 ml appelsap 125 ml water 200 ml appelasyn 250 ml suiker 1 ui, gekap 6 cm vars gemmerwortel, gerasper 3 fyn kaneel 3 ml wonderpeper (pimento) 2 ml fyn naeltjies 10 ml sout 5 ml vars gemaalde swartpeper
Skilpadjies: Verwyder die vlies om die lewer en sny die buise en harde dele weg. Sny die lewer in stukkies – nie dikker as 2 cm en 7 cm tot 10 cm lank nie. Geur liggies met sout en peper. Sny die netvet ook in blokkies (groot genoeg om een en ’n half keer om ’n stukkie lewer te draai) met ’n skerp mes of skêr. Vou die netvet styf om die lewer en pak in ’n plastieksakkie of bak (jy kan dit met peuselstokkies vassteek as jy wil). Bedek en bêre in die vrieskas tot jy dit wil gebruik. Ontdooi die skilpadjies in die yskas. (Maak seker dit is heeltemal ontdooi voor jy dit gebruik.) Braai oor vinnige kole en bestrooi weer liggies met sout en peper terwyl jy braai. Belangrik: Moenie skilpadjies oorgaar maak nie – die netvet moet bros en uitgebraai wees, maar as die lewer té gaar word, word dit droog en taai. Toets een deur dit met ’n mes deur te sny. Die pienkerigheid in die middel moet net-net weg wees, dan is dit reg om geëet te word. Lewer ongeveer 25 skilpadjies.
Droëperskeblatjang: Verhit ál die bestanddele vir die blatjang saam oor lae hitte tot die suiker gesmelt is en verhit dan tot kookpunt. Laat prut vir 30-40 minute, terwyl gedurig geroer word, tot glansend en dik. Skep in gesteriliseerde flesse en verseël. Lewer 500 ml blatjang.