Lewerkoekies vir die langpad
Haar kosherinneringe is gevul met Weskuskreef, koue padkosfrikkadelle en lewerkoekies op die langpad deur die Karoo, skryf WINNIE BOWMAN.
Ek het op Port Nolloth aan die Weskus grootgeword – die laaste stop voor Alexanderbaai en die grens tussen Suid Afrika en Namibië. Daar het ons in die seisoen elke naweek vars kreef gevang (elkeen in die gesin het ’n lisensie vir vyf krewe gehad). Dit was wonderlike dae, want ons het ’n klipgooi van die see gewoon en kon ná skool afhardloop na die poele tussen die rotse en ná ’n hooggety die krewe sommer met die hand vang! Verbeel jou, kreeftoebroodjies vir skool! Maar vir my was wintervakansies die beste toe ons altyd by my tannie in die distrik Steytlerville naby Uitenhage in die OosKaap gaan kuier het. Dit was in die jagtyd en my pa se heel beste vakansie. Ons het altyd in die vroeë oggendure vertrek met mandjies heerlike padkos. My gunstelinge was eiermayonnaisetoebroodjies (met blaarslaai en ’n sny tamatie) en koue frikkadelle. Ons het dit langs die pad by een van die baie rusareas onder die bome geeët. Lang road trips (ek weet nie wat dit in Afrikaans is nie) deur die dorre Karoo was ook die enigste tye dat ek en my twee sussies toegelaat is om Pinenutkoeldrank te drink. Vir ons was dit elke keer ’n avontuur, maar ek het altyd uitgesien na ontbyt in my tannie se plaaskombuis: Lewerkoekies van koedoelewer. Dit was hemels en ek kan dit nou nog proe. My tannie het altyd seker gemaak dat ek dit elke dag kon eet. Ná die daaglikse jagtog het sy ’n vars lewer in my ouma se handmeul gemaal en in die yskas gesit tot die volgende oggend. Ek het altyd vroeg opgestaan om te kom help lewerkoekies maak. Die resep was eenvoudig – gemaalde lewer, ’n skeppie meel, ’n eier of twee, ’n groot hand vol gekapte pietersielie, sout en peper. Dit was al. Daarna is die koekies in vars plaasbotter gebraai en uit die pan op vars gebakte brood bedien. My mond water sommer nou soos jare gelede! Nou is ek ’n stadsmens en kyk baie met heimwee terug na daardie sorgelose dae wat ons op die plaas deurgebring het. Op pad terug huis toe het ons motor behoorlik geknor onder die gewig van al die wildsvleis, biltong en droëwors. Elke keer wanneer ek na die ou foto-albums kyk, kan ek die lewerkoekies proe. Dan mis ek die uitdrukking van pure plesier op my pa se gesig.
Winnie is ’n fisioterapeut, biomediese wetenskaplike én het ’n doktorsgraad in opvoedkunde agter haar naam. Haar grootste belangstelling is egter wyn. Dié passie het in haar dae as Matiestudent opgevlam en het gelei tot nóg ’n kwalifikasie, dié keer as Kaapse Wynmeester. Sy bied gereeld wynproeë aan, beoordeel op plaaslike en internasionale wynkompetisies en skryf graag oor wyn en kos.