My ma se kos
Daar is niks wat ons so vinnig terugvoer en laat hunker na ons kleintyd soos die bekende smake van ons grootwordkos nie. Die geliefde kosskrywer Errieda du Toit vertel van herinneringe aan haar ma se kos in haar nuutste boek, Tuistafel.
Smelt-in-die-mond-koekies
Ma se koekblik met die rooi-en-wit strepies is ’n tydmasjien na my vroegste kombuisherinnering. Koekies word vir die somervakansie gebak, maar ek is te klein om van enige nut te wees. My broers speel buite, blind vir die misterie van die meelsak, die geel mengbak met die groen strepie en houtlepels.
Die kombuis is ’n kleinkoekiefabriek, die toorgoed is die vleismeultjie met die spesiale plaatjie wat sy vasskroef. Sy tel my op haar groen kombuisstoel. Hoewel ek te onhandig is om die koekiedeeg in die meul te sit, kan ek die slinger draai met haar hand om myne. Elke keer as sy aan die meultjie torring, kom ’n ander vorm kleinkoekie voor uit.
Die gestreepte koekieblik is saam met die opblaasballe, emmertjies en grafies see toe. Dis die einste vakansie by Somerset-strand waar sy sonsteek kry van ure se baljaar in die diep branders. Sy’s nog altyd die avontuurlike ouer, Elizabeth Taylor-mooi met haar swart hare en pers sonbril met vlerke. Die dokter watdiebrandkomuittrekhet, hetseker vreeslik gepreek, want die res van die vakansie sit sy sedig onder die sonsambreel en koekblik oppas, blink gesmeer met olie wat nes klapperkoekies ruik. Dis die laaste somer dat Ma die diepste van almal geswem het.
Die mengbak het dieselfde gebly, maar die handmeultjie het plek gemaak vir ’n nuwerwetse koekiebuis en ’n magdom patrone vir haar wonderwerke uit die alledaagse kyk, ons gaan nou hierdie stuk deeg verander in
sonne, mane, madeliefies en ’n blik vol verskietende sterre.
125 ml koekmeel 75 ml mielieblom 125 ml gesifte versiersuiker 20 ml bakpoeier Gerasperde skil van 1 suurlemoen Knippie sout 60 ml botter 1 eier, geklits Rooi en groen glanskersies
Voorverhit die oond tot 180 °C. Meng die eerste ses bestanddele en vryf dan die botter met die vingerpunte by die meelmengsel in tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Maak aan met die geklitste eier. Vorm die koekies met ’n groot ster-versierbuis. Plaas kersiestukkies op elke koekies. Bak 10-12 minute tot strooikleurig. Lewer 2 dosyn koekies.
Die pannekoek-gebooie
Op die Espost- familieportret van 1967 staan ek met boksterte skamerig langs my ma, Inez. Laatlam Anton wriemel op haar skoot en sit net-net lank genoeg vir die kamera om te kliek. Pa sit fier en regop, donker pak, short back and sides. Stille water, diepe grond Charlie het nog sy skoolbaadjie aan. Theo, die oudste, dra koordferweel. Al wat kort, is Wagter die steekhaarhond en ’n stapel pannekoeke, want as jy, soos ek, in ’n huis met ’n pan grootgeword het, ken jy pannekoek, eet jy dit en bak jy dit. Dis grondbeginsels van die lewe: Moederliefde = pannekoek; reënweer = pannekoek; peuselrig = pannekoek; olik = pannekoek; vrolik = pannekoek.
Ma Inez se pannekoektoertjies en haar gasvryheid was legendaries. Haar kleinkinders praat vandag nog oor hoe vinnig sy met ’n pannekoektoring kon verskyn. Dan gaan sit sy voor die klavier en speel “Fly me to the moon” vir ons vermaak. Van die stapel volmane bly net ’n wolk kaneelsuiker oor.
Die oomblik as my ma die krom pannetjie uitgehaal het, was my pa daar. Nie soseer om te help nie – hy kon glad nie kos maak nie – maar vir haar flikflakke en die gefrommelde inwypannekoek. Dit het sy vir hom op ’n mooi piering gegee: “Hier, Laspos, dis vir jou.” (Laspos was haar troetelnaam vir hom, na aanleiding van Espost.)
Die pannekoek-akrobaat kon die romatiese sy van die streng skoolhoof in ’n oogwink nader nooi. Soos die dag toe hy ’n angelier van sy lapel af in haar hare gesteek het met ’n soen. Ek vermoed haar blosery was nie oor die pannekoek wat sy misgeflik het nie, maar die flikflooiery voor die kinders.
Ma het pannekoek sonder moeite en sonder resep gebak. Die formule was in haar kop sodat sy dit maklik kon aanpas na gelang van hoeveel hongeres daar was.
10 pannekoeke = 2 koppies meel + 2 teelepels bakpoeier + 2 mespunte sout + 2 eiers + 2 eetlepels asyn + 2 eetlepels olie + 2 koppies water
Sy’t nie gelol met ’n gesiffery nie en het al wat klont is, uitgeklits. As die beslag te dik was, kom ’n bietjie water by, nooit melk nie; dit maak die pannekoek taai. Teen alle koswyshede in het die beslag nooit eers gestaan nie. Die pan is wel eers warm gemaak voor dit met olie gesmeer is, anders sit die pannekoek vas. Sodra die rand begin omkrul en die borreltjies verskyn het, is dit geflik. Selfs al was haar gunsteling-pannekoekpan se dun boom kromgetrek van al die kerkbasaars, het sy mooi daarna gekyk en dit nooit met seep gewas nie, net liggies met sout uitgevee. Die Moedersdagsgeskenk, ’n stewige gietysterpan, het stof vergaar, want hoe flik jy ’n pannekoek met so ’n swaargewig?