Landbou Boerekos

Onthoukos-kompetisie­wenner:

Onthoukos kan mense saambind, en as dít gebeur, is dit amper lekkerder om te kyk as om te eet.

- Deur ISABEL MARTINSON

Ek word wakker van die gekoer van duiwe op die dak. Toeoë lê ek en luister of ek vir Ma by die koolstoof kan hoor. Bes Besig om hout in te gooi. Of die papkastrol te skuif. Of die klap van die oonddeur, wat reusesnye vars gebakte brood beteken. Maar al wat ek hoor, is die wind buite.

Fronsend maak ek my oë oop. Soos ’n skoot koue water tref die teleurstel­ling my. Ek is nie by die huis nie.

Op die beknopte lessenaar reg langs my bed staan stapels boeke. En skaars drie meter van my af, aan die ander kant van die piepklein kamertjie, lê my kamermaat onder haar spierwit duvet. Nog vas aan die slaap.

Skuins beneuk staar ek na die plafon. Dekselse duiwe. Wat sou ek nie nou gee om by die huis te wees nie.

Ek strek onwillig ’n arm uit. Vat een van die handboeke raak. Ek sal moet leer as ek wil deurkom.

Ná ’n ruk plak ek Normatiewe taalkunde II vies neer. Ek kry nie gekonsentr­eer nie. Dit is die skuld van verlange en ’n hongerte wat baie dieper as my maag strek.

Ek staan vinnig op. A, nee a. Ek is my pa se kind. Ons grens nie. Veral nie so vroeg in die oggend nie.

Ek maak my koskas oop. Sien ek kort net kaneel. En Tennisbesk­uitjies. In die koshuis is nie ’n oond nie. Ek sal nie kan broskors maak nie.

Sommer bo-oor my nagklere trek ek ’n sweetpak aan. Ek maak ons kamerdeur saggies oop. My voetstappe eggo al met die koshuisgan­g af. In die gang hang daar ’n depressiew­e stilte wat eie is aan eksamentyd.

Die ryp knars onder my voete terwyl ek na die mini-supermark op die hoek draf. Ek is ’n student sonder die luukse van ’n kar.

In die beperkte kombuis sit ek alles neer. Ek verhit die dorpsmelk versigtig saam met bruinsuike­r. Klop my laaste vier heldergeel plaaseiers tot hulle skuim. Roer drie opgehoopte eetlepels botter, wat my kamermaat goedgunsti­glik geskenk het, by die pruttende melk-en-meelmengse­l in.

Dit moet die warm, vriendelik­e geur van vanielje-essens wees wat Chandrie laat inkom. Sy bly reg oorkant die kosmaakple­k.

“Wat maak jy, Patrys?” vra sy terwyl sy oor my skouer loer. “Melktert.” “Dit ruik fantasties,” sê sy en stap uit.

Sy is gou terug. Met ’n lepel in die hand. “Kan ek maar ’n happie kry?” vra sy skaam. Ek glimlag. “Ja.” Sy skep ’n hompie stomende vulsel uit en blaas dit ongeduldig koud. “Mis ek my ouma nou,” sê sy.

Ek gooi die fluweelagt­ige vulsel oor my beskuitjie­kors. Toe ek opkyk, is daar twee nuwe nuuskierig­es skuins agter my. Stil beskou hulle my; die vraag lê vlak in hul oë vol heimwee. Ek lag. “Gaan haal vir julle lepels.”

Ek asem die geurige lug diep in terwyl ek kaneel oorstuif. Ek hoor die gerug saggies al met die gang af rimpel. “Julle, Patrys is besig om melktert te maak.”

Toe ek weer sien, is die kombuis vol. Altesaam 12 dames daag op vir die “bring jou eie lepel-partytjie”.

Tammy, ons onwrikbare primaria, sit in die hoek. Plat op haar boude op die koue, effens onhigiënie­se teëlvloer. Sy het die louwarm kastrol geanneksee­r. Terwyl sy dit tussen haar knieë vasknyp, skraap sy die melkpap wat oorgebly het met haar wysvinger bymekaar. Die ene konsentras­ie.

Tot Leila, die vreemde kind wat heel op die punt bly, is hier. Sy noem swart-en-wit foto’s van vullishope kuns. Sy hou ’n suikerskop­grafie met ’n krulstert in haar fyn hand vas.

Die dames versamel in ’n kring. Stuur die Pirexbak al met die ry af en elkeen skep ’n lepel vol om die beurt. “Julle, Denise het die botter geborg,” sê ek. My kamermaat knipoog. “Daar is niks soos regte botter nie.” Sy swot Suiwelkund­e.

Toe dit Rita se beurt is, hou sy haar vonds giggelend omhoog. “Degie, is jy ’n koek of ’n tert?” jil sy.

“’n Flippen non,” antwoord Marleen langs haar. Haar oë nog rooi gehuil. Wolf nommer drie vir die jaar het haar gister afgesê. Dít net voordat sy Fisiologie moet skryf.

“Ai, Marleentji­e,” troos Chandrie en vryf simpatiek oor Marleen se rug.

Nadia, vir wie ek nog nooit sonder grimering gesien het nie, kom in. Bleek, met ’n skeefgesla­apte kwaf, haar pienk japon dartelend. “Haai, hou vir my ook,” roep sy.

Heel mededeelsa­am bied Rita die bak vir haar aan. Nadia skep haar lepel rondvol. Haar oë gaan vanself toe toe sy hap. “Ek het vergeet hoe lekker dit is,” prewel sy. “Anita! Wil jy nie ook hê nie?” vra Nadia. Anita staan by die kombuisven­ster en staar afgetrokke na die vaal winterslig wat daardeur inval. Sy kyk vervaard op, kom nader en skep werktuigli­k. Die gewoonlik blou kringe onder haar oë is vandag swart. “Is jy okei?” vra Rita. “Jy lyk of jy gaan crack.”

Anita lag. Kyk grond toe. “Biochemie is nie ’n mens se maatjie nie.”

 ??  ??
 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa