My ou­ma se re­sep­te­boek

My ou­ma se ou re­sep­te­boek het ’n he­le fa­mi­lie se her­in­ne­rin­ge en sto­ries los­ge­woel, skryf A­LET­TE DE BEER.

Landbou Boerekos - - Inhoud -

Op Va­ders­dag stop my pa my ’n ver­flen­ter­de groot­boek, in blou leer ge­bind, in die hand. Vol knip­sels, spat­sels en vlek­ke en die ink van ’n blou Bic-pen wat tra­ne maak waar die ko­ke­ry té gees­drif­tig ge­beur het. My ou­ma Let­tie, my naam­ge­noot, se re­sep­te­boek.

El­ke re­sep is net­jies ge­nom­mer, kom­pleet met ’n in­deks voor in die boek en ’n kop­knik by el­ke re­sep aan die een wat dit oor­ge­dra het. Die re­sep­te is in so ’n eg Vry­staat­se A­fri­kaans-En­gel­se war­boel. Daar is “warm choc poe­ring”, “rys­slaai” én “ri­ce sa­lad”, “fai­ry dum­plings” en “te­le­foon­poe­ding”, “kaasskons” én “chee­se fros­ted sco­nes”, “kol­wyn­tjies” én “cu­p­ca­kes”.

Ek be­gin uit­vra, my ou­ers be­gin ver­tel en skie­lik kry my oer­fa­mi­lie le­we in ’n stel ka­rak­ters wat e­ni­ge ro­man­skry­wer ja­loers sou maak. Daar was goud­soe­kers, kuns­te­naars, a­von­tu­riers, ou­jong­nooi­ens, Boe­re­nooi­ens en sol­da­te wat die oor­loë en die De­pres­sie oor­leef het. Hul­le was arm, maar hul kle­re was heel en skoon, hoor ek al­tyd.

By­ge­lo­we, boererate en po­li­tie­ke oor­tui­gings her­leef in die re­sep­te. Die re­sep in die boek is by­voor­beeld beslis vir Jan S­mut­s­koe­kies. Let wel, nié Hert­zog­gies nie. Daar is re­sep­te vir seep en vloer­po­li­toer en ra­te teen ru­ma­tiek, bed­se­re en tan­de­kry­pro­ble­me. Heel­wat ra­te is teen gal, gal­ste­ne en swak spys­ver­te­ring. Lees jy die re­sep­te, ver­staan jy hoe­kom: Al­les be­vat bot­ter, sui­ker en skaap­vet by die gel­lings.

Langs ’n el­le­lan­ge, ge­de­tail­leer­de re­sep vir roer­brood van my ou­ma se ma, ou­ma Hester, staan daar tus­sen ha­kies “die per­fek­si­o­nis”. Dit spreek glo boek­de­le oor die hi­perspaar­sa­mi­ge, pun­te­ne­ri­ge ou da­me wat nie kaart speel, gri­me­ring of mans­broe­ke aan vroue ge­duld het nie. Sy het let­ter­lik vuur­hout­jies in die helf­te ge­splyt om te be­spaar en sou jou vin­nig ’n do­sis kas­ter­o­lie, jo­di­um of pie­ter­sie­lie­wa­ter in­jaag as jy net ef­fe o­lik lyk. My pa eet nou nog nie pie­ter­sie­lie nie. Maar sy het glo ’n won­der­li­ke vrug­te­boord ge­had en kon bak dat die stof staan.

En dan is daar my an­der ou­ma, ou­ma El­sie, se vis­voor­ge­reg. Die hoe­veel­he­de wat so net­jies neer­ge­stip is, is ab­so­luut fik­tief. Dít weet e­nig­ie­mand wat ooit ’n re­sep by haar pro­beer kry het. Sy’t nie eint­lik ge­kook nie; sy’t met kos ge­toor, en die kre­a­tie­we pro­ses kon nie deur pre­sie­se hoe­veel­he­de be­grens word nie. Maar die vis­voor­ge­reg onthou ek goed. As jy nou die re­sep so be­kyk, lyk dit bra “kom­min” – ’n blik tu­na, ma­yon­nai­se, ta­ma­tie­sous, gherkins en uie. Maar ou­ma El­sie het dit só lek­ker ge­maak en só swie­rig voor­ge­sit op haar fyn skul­pie­bor­de – reg­te-eg­te S­hell- skul­pe – met ’n blaar­tjie en ’n fyn vur­kie langs­aan dat dit soos ’n ko­nink­li­ke ont­haal ge­voel het.

Dis voor­af­ge­gaan deur kaas­be­skuit­jies en ge­volg deur Die Ete. Tien­tal­le sto­men­de, warm pot­jies vol hoen­der­pas­tei, skaap­nek, bre­dies, vier soor­te groen­te, rys, aar­tap­pels, pa­tats . . . By ou­ma El­sie het ek leer af­val eet voor ek kon won­der waar­van dit af ge­val het. En ag­ter­na die blik­ke koe­kies en lek­kers wat o­ral staan en wink het.

Va­nog­gend draai hier ’n vreem­de bak­kie op ons werf in en die Ma­rit­ze van Mol­te­no klim uit. Oom Ras se ou­pa het des­tyds hier ge­boer en hy wou som­mer kom kyk hoe lyk dit nou. Op dáái bult het hy ’n steen­bok met ’n ket­tie ge­skiet, on­der doe­rie boom het hy sy biltong op­ge­hang, en doer on­der in die vlak was ’n bon­del turks­vye waar sy ou­pa sy “pri­vaat” ge­had het (die ou­pa het nie ’n mo­der­ne bad­ka­mer ver­trou nie).

So­ver ons loop en kyk, onthou hy. In­tus­sen doen ek en sy vrou daai ding wat plat­te­lan­ders doen: Van waar is jy oor­spronk­lik? Nou ken jy nie vir so-en-so nie? Kan jy glo? Dis my nig­gie. Ja, ek ken hul­le net so goed. Ja, ons ou­ers was groot pel­le. Nou toe nou!

Dit a­mu­seer my nog al­tyd dat dit ons men­se so bly maak om ’n ge­meen­skap­li­ke ken­nis of ver­want­skap te ont­dek. Soek ons na iets om ons aan die aar­de vas te an­ker? Want her­in­ne­rin­ge en flen­ter­tjies pa­pier in ’n re­sep­te­boek is uit­ein­de­lik al wat oor­bly.

Toe ek my ou­ma se re­sep­te­boek deur­blaai en by el­ke in­skry­wing my pa moet vra: “Wie was tant Ro­sa? En tant Miem? En tant Ba­by?” be­sef ek hoe dun die draad­jies eint­lik is wat ons aan die aar­de en ons fa­mi­lie bind. Van ou­ma Let­tie onthou ek veels te min, maar ek onthou hoe ons die kom­buis op ho­rings ge­neem en kleinkoekies ge­bak het as sy kom kui­er het. Sy was ge­woond aan ’n plaas­kom­buis met tal­le hel­pen­de han­de om ag­ter haar op te ruim en my ma moes be­hoor­lik bont­staan. Vir ons kin­ders was dit eg­ter won­der­lik om daar­van deel te wees.

Ver­der steun ek op hoor­sê. My pa raak steeds tra­ne­rig as hy haar spek­frik­ka­del­le her­roep en my ma ver­tel graag hoe sy ’n groot plaas­brood on­der haar arm vas­ge­knyp en vaar­dig in die lug met ’n brood­mes in skaap­wag­ter­snye ge­sny het. My onthou is twee­de­hands, maar dis soos ’n her­in­ne­ring waar­van jy nie weet of dit die fo­to of die wa­re ge­beu­re is wat jy onthou nie. Die re­sep­te­boek en die sto­ries daar­mee saam laat my ou­ma her­leef . . . pu­re ont­hou­kos.

A­let­te de Beer is ’n be­roeps­ver­ta­ler en woon saam met haar man, Ber­tie, en dog­ter­tjie, Mi­ra, op hul plaas, Lo­wer­land, by P­rie­ska.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa

© PressReader. All rights reserved.