Bloem se besige bakster
Met ’n graad in rekeningkunde, ’n loopbaan as onderwyseres en ’n suksesvolle boerdery in die sakkie, het Annatjie Wessels half toevallig begin bak. Vandag, op 75, lewer sy steeds elke week ’n verstommende hoeveelheid gebak aan tuisnywerhede reg oor Bloemf
Annatjie Wessels, oorspronklik van Brandfort en deesdae van Bloemfontein, is van sonop tot sononder op ’n drafstap. Luister jy na wat sy alles in ’n dag uitrig, is dit amper onmoontlik om te glo dat dié ouma van drie al 75 jaar oud is.
“Ek weet nie hoe lank ek nog so sal kan aangaan nie, want ek word nou ’n bietjie oud. Gelukkig het ek nog niks kwale nie. Ek het ’n ruk terug nuwe knieë gekry, en, jong, hardloop hulle nou vir jou lekker!” lag sy.
Terwyl sy oor haar lewe praat, dink ek aan die Engelse sêding wat begin met Jack of all trades. Net die eerste deel daarvan is egter op haar van toepassing, want al is sy beslis ’n Jack of all trades, is sy ’n meester in alles wat sy aanpak. BEGINDAE
Annatjie is ’n slimkop wat in die distrik Brandfort grootgeword en haar skoolloopbaan aan die Hoërskool Sentraal in Bloemfontein voltooi het. Daarna het sy B.Com. (Rek.) aan Tukkies gaan studeer. Nadat sy haar graad verwerf het, het sy ook ’n diploma in onderwys aan Tukkies voltooi.
Sy het twee jaar lank op Bethlehem skoolgehou voor sy met Piet Wessels, ’n mielieen-beesboer, getroud is.
Hul plaas, Rietkuil, was naby aan waar Kriel-kragsentrale vandag is. Toe hulle daar gaan woon het, was daar net ’n poskantoor, polisiestasie, winkel en laerskool op die dorp. Annatjie was ’n jong boervrou toe die skool se een onderwyseres aftree en die skoolraad haar gevra het om daar te kom skoolhou.
“Ek het nie ’n clue gehad van skoolhou vir klein kindertjies nie – ek het boekhou en handelsreg vir hoërskoolkinders gegee. Maar’ n vriendin wat’ n laerskool onderwyseres op Bethal was, het my aangemoedig om die nuwe uitdaging aan te pak.
“Toe gaan doen ek dit. En wat kry ek? Kinders van graad 1, graad 2 en graad 3 in een klas. En ons is net twee onderwysers – ek met my 29 kleintjies in een klas en die res van die skool se 15 kinders is by die skoolhoof in die klas!”
Die dorp het vinnig ontwikkel en teen die tyd dat Annatjie ophou skoolhou het by die laerskool, was daar 1 300 kinders in die skool. Later is daar nog ’n Afrikaanse laerskool, ’n Engelse laerskool en ’n hoërskool gebou. Toe haar en Piet se twee kinders, Christelle en Louis, mooi opgeskoot was, het sy begin om by die Engelse laerskool vir
buitelandse volwassenes Afrikaans te leer.
“Die kragstasie het baie buitelandse kontrakteurs in diens geneem van onder meer Finland, Swede en Duitsland. Almal wou natuurlik basiese Afrikaans leer. Dit was vir my baie interessant en ook half snaaks om grootmense soos graad 1’tjies te leer om ’n nuwe taal te praat.”
JUFFROU WORD ’N BOER
Ná jare in die onderwys was sy lus om ’n nuwe koers in te slaan en vir haar ’n loopbaan op die plaas uit te kerf. Getrou aan haar aard het sy nie stadig of klein begin nie. Sy het ’n hoender- en ’n varkboerdery op die been gebring. “Ek het 200 teelsôe gehad en ons het sowat 3 000 hoenders per week geslag,” vertel sy nonchalant.
“Ek het die boerdery ontsettend geniet. My man het aangegaan met die graanboerdery en sy Pinzgauer-stoetery en ek met my varke en hoenders. Maar toe begin die myne die grond om ons opkoop. Ons het na ’n ruk besluit om ook ons plaas te verkoop en op my pa (wat in 1989 oorlede is) se plaas, Rietfontein, in die distrik Brandfort te gaan boer. Dit is hoe ek weer terug op my geboortegrond beland het.”
DIE BEGIN VAN DIE BAKKERY
Sy het haar liefde vir kosmaak, bak en naaldwerk by haar ma gekry, asook baie van die praktiese vaardighede wat sy vandag nog in haar bakkery toepas.
“My ma was ’n praktiese mens en kon alles onder die son doen. Sy kon klere maak, kosmaak en sy het ongelooflike gebak opgetower,” sê Annatjie.
Haar kinders was op Bloemfontein in die skool en sy het nie meer haar hoender- of varkboerdery gehad nie.
“Ek het by die plaaslike laslapgilde aangesluit en het nou en dan sommer ’n koek gebak en saamgeneem vir die vroue om te geniet. Een vriendin wat ’n tuisnywerheid gehad het, het my gevra of ek nie vir haar winkel ’n paar koeke wil bak nie. Ek het gebak en vir ’n paar weke elke Vrydag as ek die kinders by die koshuis gaan haal het, die koeke gaan aflewer.”
Toe ander mense daarvan hoor, het hulle ook begin vra, en die bestellings het vinnig begin instroom. Haar koekbakbesigheid het later só groot geword dat sy elke dag van die week tuisgebak aan tuisnywerhede reg oor Bloemfontein afgelewer het.
“Bak is harde werk, maar lekker werk. En die koekgeld het nuttig te pas gekom. Dit het gehelp met die boerdery wanneer dit nodig was. En dit het gehelp om die kinders deur skool en universiteit te sit.”
Piet is in 2000 oorlede en Annatjie en die kinders het besluit om die plaas te verkoop en Bloemfontein toe te trek.
“Die koekbakkery het my daardeur ook gehelp. As jy besig bly en ’n verantwoordelikheid het, is daar nie tyd om op ’n hopie te gaan sit nie. Dit is nou nog so. Ek meen, wat moet ek nou elke dag doen? Opstaan in die oggende, en dan? Ek kan mos nie die hele dag kuier of sit en lees nie. ’n Mens moet besig bly.”
BAKKER MET ’N SIN VIR SAKE
Toe hulle nog op die plaas gebly het, het sy vir baie meer tuisnywerhede gebak as die vyf winkels aan wie sy nou, op die ouderdom van 75, lewer. “Toe my seun nog in die huis was en my gehelp het met die aflewerings, kon ek meer doen, maar nou lewer ek alles self af. Daarom het ek afgeskaal.”
“Afskaal” beteken duidelik iets anders vir haar as vir meeste mense, want sy bak weekliks ongeveer 500 koeke. In haar netjiese bakkery teenaan haar huis staan hoë rakke met verpakte koeke, terte en kleinkoekies wat afgelewer moet word en ry op ry pas versierde laagkoeke op tafels. Dit lyk en ruik heerlik.
“Ag, ons maak sjokoladekoek en vanieljekoek in allerhande vorms, roomkoek, moussekoek, grenadella-en-pynappelkoek, vlakoek, Swartwoudkoek, rolkoeke, melktert, suurlemoenterte en kaaskoek,” rits sy die reeks gebak af wat sy elke dag lewer. “En dan bak ek natuurlik ook beskuit en kleinkoekies, wat altyd in aanvraag is. Ons maak sowat 12 soorte kleinkoekies,” voeg Annatjie by.
Sy en haar drie helpers bak vyf dae per week van Maandag tot Vrydag. “Wat ons Maandag bak, lewer ek Dinsdag vars af.”
Annatjie het lankal agtergekom dat die voorkeure en smaak in gebak by haar vyf afsetpunte baie verskil. Dit is deel van haar sukses en een van die redes waarom die vraag na haar gebak konstant bly. By een winkel in ’n sekere deel van die stad soek die kliënte basiese vanielje- of sjokoladekoek met botterversiersel of gevul met room. En hulle hou van ’n plaatkoek, wat maklik in ’n boksie verpak en gedra kan word. By ander winkels wil die kliënte deftige laagkoeke met vulsels van vla, kersies of ander vrugte hê. Dan is daar weer sekere winkels waar kaaskoeke, suurlemoenterte en melkterte altyd in aanvraag is.
“Ek doen alles self – die aankope, die aflewering en die boeke,” sê sy.
“Dit is ’n groot werk, maar as jy ’n goeie roetine het, is dit makliker. Die aankope is amper vir my ’n groter werk as die bakwerk.
Ek moet die pryse voortdurend fyn dophou en die aankope mooi uitwerk, anders maak ek nie ’n goeie wins nie. Ons gebruik ongeveer 30 dosyn eiers, 25 kg versiersuiker en 15 kg suiker op ’n dag. Al bespaar ek dus R5 op ’n koek of ’n tert, maak dit ’n groot verskil aan my wins.”
GEHALTE IS ONONDERHANDELBAAR
“Ek bly ver weg van daardie kitsmengsels waarby jy net ’n paar eiers en olie hoef te voeg,” sê Annatjie.
Sy gebruik slegs goeie, vars bestanddele en maak alles vir elke produk in haar reusagtige reeks van meet af vars. Sy kook selfs haar eie karamel om haar gebak te versier. “Dié wat jy in die houers koop, is nie vir my lekker nie en ná ’n dag of twee word dit so vaal op die koeke. Ek maak die ware Jakob – regte, outydse gekookte kondensmelk, want dit lyk en smaak net soveel beter.”
Het sy raad vir iemand wat vir ’n inkomste wil begin bak? Sy dink ’n rukkie.
“Begin stelselmatig. Moenie haastig wees nie. Kyk eers wat verkoop en waarvan die mense hou. Leer ken die mark waarvoor jy bak. As jy eers op dreef is en jou gebak kry aftrek, stel dan iets nuuts bekend en brei jou reeks só uit,” gesels sy terwyl sy tee skink.
Dan voeg sy by: “Die heel belangrikste, natuurlik, is om te sorg dat dit wat jy maak, die beste is. Jy moet trots wees daarop. En dit geld nie net vir koekbak nie.”