MEELKOS
Brood, beskuit, kluitjies, snysels en pap was reg van die begin af stapelkos. Kluitjies (soet en sout) was van 1652 af tot in die 20ste eeu só ’n groot deel van die Afrikaners se manier van eet dat daar in vroeë resepteboeke hele hoofstukke daaraan gewy is. Melkkluitjies, vleiskluitjies, souskluitjies en ryskluitjies word in elke naslaanbron oor die vroeë dae aan die Kaap aangetref. Melkkos en -snysels (in die volksmond bekend as slinger-om-diesmoel) kom oorspronklik uit Persië en variasies daarvan word al van die 15de eeu af in Europa gemaak. Van daar het die resep Kaap toe gekom.
Vir ’n paar jaar ná Van Riebeeck se aankoms was daar geen goeie brood aan die Kaap beskikbaar nie. Die harde, uitgedroogde brood (skeepsbeskuit) was byna oneetbaar. Later is daar wel beter brood gebak met meel en hops uit Nederland. Met die koms van die Hugenote het die Franse hul kennis van suurdeeggebak, maar ook van druiweprodukte, saamgebring. Toe het sake aansienlik verbeter. Tydens parstyd kon soet mos as rysmiddel gebruik word. Dit is waar ons mosbolletjies en rosyntjiebrood vandaan kry, waarvan natuurlik ook heerlike, geurige
beskuit gemaak is. Wanneer mos nie beskikbaar was nie, is suurdeeg van rosyntjies wat gestamp en laat gis is, gemaak, of tuisbakkers het soet suurdeeg gemaak. Dit is gedoen deur aartappels, gars of meel met ’n klein bietjie heuning of suiker en lou water te meng en dit op ’n warm plek te laat staan om te gis. Op bakdag, wat meer as een keer per week was, is daar dikwels ook ’n stuk oorskietdeeg gebruik om vetkoek te bak. Asbrood, askoek en roosterkoek is reeds van daardie dae af aan die Kaap gemaak.