Uit haar kombuis kom liefde
Om haar kinders en kleinkinders met ingemaakte lekkernye, koekies of beskuit te bederf, is tweede natuur vir Lucille Liebenberg van die Strand.
“Hier staan die oorsprong van my swakheid vir brood, beskuit en koekies,” stel my kollega Lucille Botha my voor aan haar naamgenoot en ouma. Dit is nie die eerste keer dat ek hoor van die lekker eetgoed waarmee Lucille Liebenberg (79) gereeld haar kinders en kleinkinders bederf nie. Klein Lucille het my al baie vertel van die flesse ingemaakte vrugte en konfyt en veral van die voortreflike tuisgebakte kleinkoekies en beskuit wat haar ouma aandra. KLEINKOEKIES VIR KOSHUISKINDERS
Lucille Kock het op haar ouers se skaapplaas, Grootfontein, 30 km buite Richmond in die Karoo grootgeword. Die vier Kockkinders moet vroeg al leer om selfstandig te wees. Vandat hulle sub A begin het, was sy en haar drie broers in die koshuis op Richmond. Naweke en vakansietye het die seuns hul pa op die plaas gehelp en was Lucille saam met ma Gerrie in die kombuis.
Al was die plaas nie so afgeleë nie en al het hulle elke week dorp toe gegaan, het hulle geleef van wat op die plaas geproduseer is.
“Ons het vir huisgebruik gemelk en my pa het gereeld geslag. My ma het gewone boerekos gemaak. Vleis, rys en aartappels, maar ook baie soorte groente. Ons het ’n groot groentetuin op die plaas gehad,” onthou sy.
“Maar my ma was nie lief vir bak nie. Ek was nog vroeg in die laerskool toe dit my werk geword het om die kleinkoekies en beskuit te bak vir ons tuckbokse wat moes saamgaan terug koshuis toe.”
Toe sy in standerd 6 haar hoërskoolloopbaan aan Paarl Girls’ High begin het, is Lucille net vakansietye terug huis toe met die trein. Steeds was dit haar werk om te sorg dat daar gedurende die vakansie genoeg koekies en beskuit gebak word om die blikke vol te maak en op die trein te laai vir die nuwe kwartaal.
Haar heerlike sin vir humor kom gereeld na vore terwyl sy gesels oor haar kinderjare.
“Ek het Tasty squares gebak vir die kosblikke, asook karringmelkbeskuit, koffiekoekies en Post Toastie-koekies …”
“Het hulle in daardie jare al Post Toasties gehad?” val klein Lucille haar in die rede.
“Man, ek was darem nou ook nie saam met Noag op die ark nie,” kap sy terug. KAAPSE DRAAI
Nadat sy as dux-leerling van Paarl Girls’High gematrikuleer het, het sy verpleging aan die Universiteit van Kaapstad gaan studeer.
‘Om die lang houttafel in haar kombuis is daar middae groot geëet: Vleis, afval, hoenderpastei, boontjies, soetpampoen en skorsies. Nagereg was dikwels ingemaakte koejawels en vla of sagopoeding. Een koue wintersoggend, dit was nog pikdonker buite, voor ons saam met my oupa in sy bakkie sou plaas toe ry, het sy soet mielieblompap gemaak. Vir ’n klein dogtertjie was dit die lekkerste ontbyt nóg en ek onthou nog hoe lekker warm dit my gemaak het. Van toe af moes sy dit gereeld maak!’ — Lucille Botha
Daarna het sy by die Groote Schuur-hospitaal gaan verpleeg. In hierdie tyd het sy haar hart verloor op die broer van een van haar verpleegster-vriendinne. Toe Hannes Liebenberg haar vra om te trou, het sy eers ’n bietjie teëgestribbel en vir hom gesê dat sy haar eintlik nog as kraamsuster wou bekwaam voor sy trou.
“Toe sê hy vir my, toemaar, hy is juis van plan om my ondervinding in daardie veld te gee,” lag sy.
Hannes (85), nog ’n groter platjie as sy vrou, het met sy jong bruid op hul plaas, Sandfontein, tussen Albertinia en Mosselbaai in die Suid-Kaap, gaan woon. Daar het hy met melkbeeste, graan en volstruise geboer. Hul drie kinders, Gerda, Coba en Hendrik, is daar gebore. ’N PLAAS NABY DIE SEE
Die kinders was, anders as hul ma, nie in die laerskool al in die koshuis nie en het uit die huis skoolgegaan.
“Hulle het sommer self met ’n bakkie van die plaas af tot by die grootpad gery en die ryding daar teen die pad gelos waar hulle op die skoolbus geklim het. In die middae as hulle van die skool af kom, het hulle weer die bakkie gevat en huis toe gery. Partykeer was die bakkie maar vol bosse en geskraap, maar hulle het darem altyd huis toe gekom,” lag Hannes.
Hy het self ’n goeie aanvoeling vir kosmaak en saam vertel hy en Lucille die lekkerste stories oor 40 jaar van slag, vleiswerk en wors maak op hul plaas.
Ek vra hoe gereeld hulle skaap geslag het. “As die vleis op was,” kom die antwoord uit een mond.
In die winter is daar bees geslag. “Ons twee het baie gou ’n bees klaar bewerk, want ons het die regte gereedskap gehad,” sê Hannes.
Hulle het baie biltong gemaak en net so baie wors. Daar is elke winter ook ’n paar springbokke in die Karoo geskiet vir droëwors en biltong.
“Ons het ook droëwors gemaak sonder die derm,” sê Hannes.
“Worsderms is baie dig en die wors vat lank om droog te word. Ek het ’n droogmat gehad waarop ons die wors sonder die derms gedroog het. Soos die wors by die masjien uitkom, vang jy dit versigtig en sit dit op die droogmat op ’n stellasie. En binne ’n dag of twee is die droëwors winddroog.” VLEIS EN VRUGTE
Omdat daar volop vleis en baie vars vrugte en groente tot haar beskikking was, was dit ook waarmee Lucille graag gekook het. Sy vertel van die afval (iets wat sy nou nog graag maak), skaapkop, skaapboud en potbraaistukke wat sy lank en stadig in haar Esse-stoof op die plaas gaargemaak het.
Die kinders het ook hul gunstelinge gehad. Sy ma se skaapvleis met groenboontjies was vir hom die lekkerste, onthou Hendrik. Gerda het weer van haar ma se groentesop met murgbene gehou. Wanneer hulle nou en dan by die hotel op Mosselbaai gaan eet het, het die kinders die spyskaart net gelees tot by hul almal se groot swakheid – die murgbene op roosterbrood, vertel Lucille.
“En daar het hulle vasgehaak. Altyd dieselfde bestelling.”
Nog ’n gunsteling was skaapstertjies. “As die lammers se sterte afgesny moes word, het ons die sterte met wol en al oornag in die lou-oond gesit. Môreoggend is hy lekker sag, dan trek jy die wol af en eet die stertjies vir ontbyt,” vertel sy.
In haar kinders en kleinkinders se kombuiskaste is daar altyd ’n paar flesse van haar ingemaakte koejawels en geelperskes of haar goue, stroperige maketaanstukke en bittersoet siterkonfyt.
“In die Suid-Kaap, anders as waar ek grootgeword het, was daar vrugte in oorvloed. Dit is maar waar ek so begin inmaak het. Iemand bring vir jou ’n hele kis perskes of koejawels. Jy kan tog nie alles opeet nie. Dit moet gebotteleer word.”
Sy glo ’n groot swaarboomkastrol is die beste vir konfytkook omdat konfyt wat vinnig kook, die mooiste kleur het. BOGGOMSBAAI TOE
Hulle het ook baie seekos geëet. Omdat die plaas so naby aan die kus was, het Hannes en sy vriende gereeld met hul visstokke afgesit see toe.
“Daardie jare was die vis volop. Ons het nie eens kos saamgeneem op so ’n naweek nie, want jy’t geweet jy sal genoeg vang vir eet én om huis toe te bring,” vertel hy.
Toe Hannes en Lucille aftree, het hulle op Boggomsbaai, ’n klipgooi van waar hulle plaas was, gaan woon. Toe was daar nog net vier huise op dié kusdorpie.
Die kleinkinders onthou goed hoe hulle soggens douvoordag saam met hul oupa afgestap het rotse toe om te gaan oesters afhaal wanneer hulle op Boggomsbaai gekuier het. ’N GEDUGTE SPAN
Terwyl hulle in die kombuis besig is om koffiekoekies met die vleismeul te maak vir die fotosessie, kan ek nie help om te dink hoe mooi hulle by mekaar pas nie. Terwyl Hannes die deeg behendig by die meul se voergat inwerk en Lucille die lang repe deeg met ’n geoefende hand vang en op die tafel neerlê, gesels en skerts hulle aaneen. Dit is byna asof ek hulle kan sien daar in die slagkamer op hul plaas in die Suid-Kaap, saam-saam besig om vleis te verwerk of wors te maak.
Hulle is vanjaar 57 jaar getroud en, ja, hulle het al ’n hele paar uitdagings saam aangepak. Toe die kinders eers klaar was met skool, het die twee op ’n slag besluit om saam met hul vriende Michiel e nP h i lna Möller van Vlees baai aan die groot K ell ers p rin z-gebied s vleisbraai kompetisie deel te neem.
“As ons tot die eindronde kon deurdring, kon ons groot pryse wen. Die eerste prys was twee Mazda-motorkarre, een vir elke lid van die wenspan. En die tweede prys was twee karavane,” vertel Hannes.
‘Wanneer ons by my ouma-hulle gekuier het, was daar altyd anysbeskuit en koffiekoekies in die huis. Ons was behendige beskuiteters, want met anysbeskuit moet jy jou storie ken. Net ’n oomblik te lank en die beskuit suig te veel tee op, breek af en gaan lê in ’n pappery onder in jou koppie (dié het ons met ’n teelepel geëet).’ — Lucille Botha
Glad nie te versmaai nie. Die eerste rondte was op George, waar hulle ’n naweek by die Beacon Isle-hotel op Plettenbergbaai saam met ’n lekker klompie sakgeld – R80 elk! – losgeslaan het.
Daarna moes hulle sake op die interprovinsiale vleisbraai kompetisie tydens die Muskadelfees op Montagu gaan uitspook.
Hannes sê hulle was so ernstig oor die kompetisie dat hulle selfs hul eie elektriese vleissaag agter op die bakkie gelaai en saamgery het omdat hulle nie die steaks so lank voor die tyd wou sny nie.
Die Liebenbergs het met die eerste prys weggestap vir die beste T-been-steak en ook met die prys vir die beste beginner-braaispan. Hulle het begin glo daardie Mazdas was so goed soos hulle s’n, want die nasionale kampioenskappe het gewink.
“En toe, net voor die eindronde, kry Hannes klierkoors en ons moes onttrek. Ek herinner hom nou nog gereeld daaraan dat hy eintlik vir my ’n kar skuld,” sê Lucille. MET MILDE HAND
Hannes en Lucille het tien jaar gelede nader aan hul kinders in ’n woonstel in die Strand kom woon. So graag soos hulle bederf en uitgedeel het toe hulle nog op die plaas en op Boggomsbaai gewoon het, so graag doen hulle dit nou nog, vertel die kleinkinders.
“Wanneer ons vakansies by hulle gekuier het en gewoonlik ná ’n groot middagete in die pad moes val, het dieselfde prentjie hom altyd afgespeel. Die motor is reeds barstens toe vol gelaai, maar deur die vensters word daar blikke beskuit, koekies en glasflesse vrugte aangegee,” onthou haar kleindogter.
Baie min het intussen verander. Haar ouma en oupa kom nooit leë hande kuier nie. As dit nie ingemaakte of tuisgebakte lekkernye is nie, is dit ’n kombers of ’n deken wat sy self gebrei of gehekel het. “En ek is maar net een van haar 10 kleinkinders!”
Sy bederf natuurlik ook graag haar man, en elke jaar met Hannes se verjaarsdag kreun die tafels. Hy hou van alles wat sy maak, sê Hannes, maar sy gunsteling is haar Tipsy-tert. “Solank sy net genoeg brandewyn oorgooi,” voeg hy met ’n knipoog by.
Toe ek ná die middag se saamkuier na my kar toe stap met arms vol koekies, beskuit en tuisgemaakte konfyt, bly dink ek aan iets wat Lucille aan my gesê het. Sy maak nie kos omdat sy buitengewoon passievol is oor kook of bak nie. Sy kook en bak graag omdat dit vir haar so lekker is as haar mense lekker eet.
Dit is dan ook hoekom haar kleinkinders sê hulle kan die liefde en omgee proe in alles wat uit hul ouma Lucille se kombuis kom.