SÓ SLAAN JY BRUCELLA OVIS HOK
Ramsiekte word deur die bakterie Brucella ovis veroorsaak. Hierdie bakterie veroorsaak bybalontsteking, wat tot onvrugbaarheid by ramme lei. Dié nieaanmeldbare siekte veroorsaak ’n groot finansiële verlies vir skaapboere weens swak besettingsyfers. Kieme wat die geslagsdele van ramme aantas, kan in die volgende groepe verdeel word, maar vir die doel van dié artikel wordnetopdieeersteeengekonsentreer:
■ Die belangrikste oorsaak wat epidimitis of bybalontsteking veroorsaak, is Brucella ovis. Dit word ook ramsiekte of “aansteeklike onvrugbaarheid by ramme” genoem.
■ Die groep bakterieë wat as HPA bekend staan: Histophilus ( Haemophilus) somnus, Histophilus ovis, Mannheimia ( Pasteurella) haemolytica, Pasteurella multocida en Actinobacillus seminis. Die siekte is hoofsaaklik ’n probleem van eenjarige ramme of jonger wat in intensiewe of semi-intensiewe toestande op ’n hoë peil van voeding in klein areas aangehou word. Die simptome lyk baie dieselfde as dié van B. ovis.
■ ’n Derde groep bakterieë, soos Corynebacterium pseudotuberculosis ( ovis), kan ook ’n rol speel in bybalontsteking, maar kom selde voor en is gewoonlik ’n sekondêre besmetting. Só raak ramme met B. ovis besmet:
■ ’n Ram wat met B. ovis besmet is, dek ’n ooi, en ’n vatbare ram dek dieselfde ooi in dieselfde bronstigheidstydperk.
■ Ramme wat saamdrom in ’n klein kampie of stal kan die kieme oordra deurdat voer en water besmet raak.
■ Vlieë en ramme wat op mekaar spring en aan mekaar ruik, kan deur kontak die kieme oordra. Dit is baie belangrik dat ramme en ooie slegs in die dektyd saam gehou word. Kliniese tekens van Brucella ovisinfeksie:
■ Ontsteking kan in die kop, liggaam of stert van die bybal ontstaan. Ongeveer 80% van letsels kom in die stertgedeelte voor.
■ Aanvanklik kan die teelballe geswel, warm en pynlik voorkom, maar daar kan ook niks opsigteliks gewaar word nie.
■ Ná ’n tydperk sak die swelsel en bly ’n harde knop in die aangetaste deel oor. Die grootte van die knop kan wissel van baie klein (kleiner as ’n ertjie) tot so groot soos ’n lemoen. As die knop baie groot is, kan dit druk op die teelbal(le) uitoefen en kan een of albei balle verklein. Soms word die letsels sekondêr met Corynebacterium besmet. Diagnose:
■ ’n Semensmeer kan gemaak en met spesiale kleurmiddels gekleur word.
■ Die B. ovis- kieme kan geïsoleer word.
■ Bloed kan van ramme geneem word vir bloedtoetse. Bekamping: Alle besmette ramme (wat kliniese tekens toon en/of positief getoets is met bakteriese identifikasie) moet uitgeslag word, aangesien die bakterieë binne in die selle lewe en dit dus baie moeilik is om met an- tibiotika die siekte te genees. Die ramme bly lewenslank ’n bron van besmetting vir die res van die kudde.
Die Brucella Rev 1-entstof (reg.nr. G125, Wet 36 van 1947) vir skape en bokke van Onderstepoort Biologiese Produkte moet vir ramlammers van 2 maande tot 4 maande oud (voor geslagsrypheid) gegee word. Dit help nie om ramme wat reeds met B. ovis besmet is, te ent nie. Die entstof is ’n lewende, gevriesdroogde entstof wat bakterieë van Brucella mellitensis Rev 1 bevat. Die dosis is 2 ml wat onderhuids toegedien word. Net een enting is nodig. Ent alle ramlammers jaarliks in. Dit is onnodig om entstof vir die ooie te gee. Die entstof is uitstekend, maar nie altyd 100% doeltreffend nie. Die uitroeiing van die siekte is moontlik:
■ Ent alle ramlammers en ramme.
■ Laat bloedtoetse doen. Toets elke ram. Indien die ram vir B. mellitensis of B. abortus positief toets, is dit te wyte aan die entstof. Indien die dier vir B. ovis positief is, is dit te wyte aan besmetting.
■ Skot al die ramme uit wat positief vir B. ovis toets.
■ Herhaal die bloedtoetse totdat die kudde skoon is. Sorg dat alle ramme wat ingekoop word, vergesel word van ’n veterinêre sertifikaat wat sertifiseer dat die ram negatief getoets is vir B. ovis. Die kudde waarvandaan die ram kom, moet liefs op kuddegrondslag gereeld getoets word en vry van B. ovis verklaar word. Ent die ramme nogtans weer as voorsorgmaatreël.
— DR. FAFFA MALAN en PROF. GARETH BATH