Gee aandag aan ramme en keer ‘tragedie’
Ramme is die sleutel wat die boerderymasjien moet aanskakel. Hulle is die begin van presisieboerdery en hierdie skakel móét heel wees. ’n Noord-Kaapse veearts sê die voorkoms van geslagsiektes by ramme, spesifiek besmetting met die bakterie Brucella ovis,
Die kleinveebedryf word deur ’n tragedie bedreig. As ’n veearts wat veral reproduksiewerk in ’n groot deel van die ekstensiewe skaapboerderygebied van die Noord-Kaap en die suide van Namibië doen, is dit vir my kommerwekkend dat meer as 50% van die ramme op plase in ’n radius van sowat 400 km rondom Upington met Brucella ovis (ramsiekte) besmet is. Dié nie-aanmeldbare siekte lei tot groot finansiële verliese.
Die statistieke sluit meer as 30 000 ramme oor die laaste drie en ’n half jaar in. Daar is slegs enkele plase waarop B. ovis glad nie voorkom nie. Op die besmette plase is meer as 50% van die ramme meestal geaffekteer. Wat sake vererger, is dat byna geen ramkopers op ’n vrugbaarheidsertifikaat aandring met die aankoop van ramme nie. Ek praat van kommersiële kuddes en weet nie wat die situasie in ander provinsies is nie.
Besmette ramme se saad raak ál swakker en hulle raak uiteindelik onvrugbaar. Dit is as gevolg van die byballe se weefsel wat kliphard raak en geen saad meer deurlaat nie. Enige nuut aangekoopte ram wat nie doeltreffend teen die siekte ingeënt is nie, sal beslis in ’n besmette
kudde aangesteek word, met subfertiliteit en uiteindelik onvrugbaarheid as die uiteinde.
JONGRAMSIEKTE BESMET 25%
Die tweede been van onvrugbaarheid by ramme is wat boere “jongramsiek” noem. Dit kom uitsluitlik in intensiewe stelsels voor waar jong stoetramme al op drie maande in krale bymekaar gegroepeer en gevoer word om optimaal te kan presteer.
Verskeie soorte bakterieë bou in sulke stelsels op. Waar die rammetjies op die misbed, wat oor jare opbou, gaan lê, raak hulle nou al besmet deur die opening van die skede. Met hormoonvlakke wat styg met puberteit (tussen drie en ses maande oud, na gelang van die ras), eindig die bakterieë in die bybalweefsel op, waar dit verskillende grade van skade aan semengehalte veroorsaak.
Die besmettingsyfer is volgens statistieke en my eie ondervindings ongeveer 25%. ’n Kritieke beheerpunt is ’n evaluasie deur ’n veearts met die hulp van ’n bloedtoets (om B. ovis uit te skakel), maar ’n saadsmeer is nóg belangriker.
As die ramme tussen die ouderdom van agt maande en hul verkoopdatum ondersoek kan word, en die besmette ramme sodoende betyds behandeling kry, kan ons die besmettingsyfer van 25% tot hoogstens 3% afbring.
Ramkopers is tevrede daarmee om ramme te koop waarvan 25% saaddefekte van verskillende grade het. Onthou, die saadgehalte van ’n ram met ’n aktiewe infeksie verswak daagliks, met die moontlikheid dat die bybalweefsel heeltemal verhard. Geen lewensvatbare saad kan uit so ’n testikel geproduseer word nie.
Die kwessie van B. ovis- besmetting by meer as die helfte van kommersiële kuddes, plus die kumulatiewe effek van 25% van aankoopramme wat ook met HPA-organismes (’n groep van drie verskillende bakterieë wat bybalontsteking veroorsaak) besmet is, kan ’n tragedie in kleinveeboerdery veroorsaak.
Die beesbedryf is die skaapbedryf ver voor. Ramsubfertiliteit is baie meer aktueel en sigbaar as bul-subfertiliteit. Die rede daarvoor is dat infeksies ’ n baie groter rol speel. Haal minstens een veranderlike uit jou boerdery. Hoogs vrugbare ramme se lammers word reeds
bemark wanneer subfertiele ramme se lammers nog maar hier en daar aankom.
As jy ’n knop of verdikking in ’n ram se geslagstelsel voel, is dit reeds te laat. Die geheim van ramvrugbaarheid is doeltref- fende, voldoende saadproduksie op ’n daaglikse grondslag. NAVRAE: Dr. Willie Harris, tel. 054 331 2660; sel 071 870 4276; e-pos: veearts@
kienembriosukses.co.za. Om deel te word van die ramkopersforum, stuur e-pos aan: veeartsnrv@telkomsa.net of kry inligting by jou plaaslike veearts.