Wildbedryf vertak en hou aan groei
In die doodsnikke van die 2015-wildveilingseisoen het die rekords weer gespat nadat pryse vroeër vanjaar effe afgeplat het het. Ekonome, wildboere, telers en beleggers verwag dat die bedryf aanstaande jaar met hernude energie gaan groei, terwyl dit meer g
Die gemiddelde prys vir ’n swartwitpensbul op die bekende teler mnr. Piet Warren van Gravelotte se veiling in September was net meer as R3,3 miljoen. Onder hierdie verkope was daar rekordpryse, soos die R27 miljoen wat vir die Zambiese bul Mopanie betaal is en die R21 miljoen vir Deuce.
Piet wys daarop dat die kopers op sy veiling almal telers was wat reeds swartwitpense het. “Dit is nie ryk versamelaars wat die goed vir die aardigheid koop nie. Dit is boere wat ernstig oor hul teelprogramme is. As enigiemand twyfel oor die toekoms van wildboerdery, kan hulle net kyk na die vertroue waarmee hierdie kopers in hul kuddes se teelmateriaal belê.”
Mnr. Ernst Janovsky van Absa Agribesigheid stem heelhartig saam en sê die wildbedryf is op ’n goeie plek danksy die intrinsieke waarde van wild op die internasionale jagmark. Hy voorsien dat die bedryf in die afsienbare toekoms sal aanhou groei en dat telers, soos Piet, wat hulle daarop toelê om die regte teelmateriaal te bekom en daarmee te teel, sal aanhou om goeie winste te behaal. “Wêreldwyd word jaggeleenthede en - bestemmings ál minder, terwyl dit in Suid-Afrika toeneem. Die plaaslike wildbedryf is dus perfek geposisioneer om in die internasionale vraag te voorsien,” sê hy.
Dr. Peter Oberem, Wildbedryf SA se voorsitter, voorspel ook dat die jagmark die toekoms van die wildbedryf gaan rugsteun en sê die rekordprys van R9,4 miljoen wat onlangs vir die koedoebul Hercules betaal is, getuig daarvan. “Koedoebulle met besonderse horings is deur en deur jagbokke. Nou kom hulle tot hul reg in die teelbedryf.”
Vir trofeejagters wat nou met wildtelers moet meeding om trofeebokke met uitsonderlike horinglengtes, is dit dalk nie goeie nuus nie.
Mnr. Lood Bester, ’n direkteur van die Wildswinkel, ’n handelspos vir die lewende koop en verkoop van wild, sê egter dit dui op ’n blink toekoms vir telers én jagters. “Ons moet net eers erken en aanvaar dat die genepoel van besonderse trofeediere so te sê uitgejag is en dat daar nie ’n kitsoplossing vir hierdie dilemma is nie.
“Die goeie nuus is dat daar telers is wat bereid is om groot bedrae geld te belê in die trofeeteelmateriaal wat nog te vinde is en dat hulle dit wil bewaar en vermeerder. Dit gaan ongelukkig tyd neem, maar aan die einde van die proses gaan daar weer baie 64”-koedoebulle op die jagveld beskikbaar wees teen billike jagpryse.”
Jagters kan hulle ook daaraan troos dat nie alle koedoebulle skielik R9,4 miljoen werd is nie. Ernst wys daarop dat die
wildbedryf besig is om in twee duidelike vertakkings te ontwikkel – ’n stoetbedryf, waar telers hulle beywer om topteelmateriaal te teel, en ’n kommersiële bedryf waar hierdie teelmateriaal uiteindelik aan die jagmark beskikbaar gaan word.
Mnr. Brandon Leer, ’n bekende wildafslaer, sê dit is presies wat hy deesdae op wildveilings sien gebeur. Daar val al hoe meer klem op die gehalte van diere, kuddegeskiedenis en telerreputasie. Hy sê die wildbedryf is in dié opsig besig om die kooppatrone van stoetbeeste te volg. Kopers soek rekordhouding, familiegeskiedenis en voorspelbaarheid. Telers wat ’n reputasie het dat hulle puik naverkoopdiens en bystand bied, kry die toppryse.
Ernst sê sy enigste bekommernis oor die wildbedryf in die volgende paar jaar is dat nuwe toetreders hul vingers gaan verbrand as hulle wild teen stoetpryse aankoop en dan, sonder dat hulle die reputasie of agtergrond as telers het, verwag om soortgelyke pryse vir hul diere te verdien.
Daarom sê Lood die bedryf kort meer inisiatiewe soos die Golden Breeders se familieveiling, waar relatief onbekende telers wat al wild van Golden Breeders gekoop het, genooi word om hul diere onder dié groep se vaandel te verkoop. “Ons moet veilige platforms vir nuwe toetreders tot die mark skep,” sê hy, en voeg by dat die Wildswinkel aanstaande jaar soortgelyke inisiatiewe beplan.
Die hernieude belangstelling in tradisionele vlaktewildsoorte bied nou aan baie wildboere wat tot nou toe net uit die jagbedryf en kommersiële handel geld verdien het, die geleentheid om tot die teel- of stoetbedryf toe te tree. Peter voorspel dat ’n gesonde vraag na ander, “gewone” spesies, soos tsessebes, en selfs klein bokkies, soos steenbokke en duikers, vir stewige pryse oor die volgende jaar gaan sorg. Boere met sulke wild kan dus nou met nuwe oë na hulle kyk.
KLEURVARIANTE
Intussen het die mark vir kleurvariante oor die laaste jaar verlangsaam en is daar in die algemeen konsensus dat die vraag na hierdie diere besig is om te stabiliseer.
“Ek dink die pryse was net te warm aan die begin van die jaar,” sê Lood.
Hy meen pryse vir die meeste kleurvariante is nou waar hulle moet wees en sê hoewel party telers kan voel hulle het skade gely, bied kleurvariante steeds goeie waarde. Goue wildebeeste se prys het byvoorbeeld nog glad nie begin daal nie, en die prys van koningswildebeeste is steeds aan die styg. Hy sê hoewel swart rooibokooie dalk nie meer so maklik R500 000 op veilings behaal nie, bied hulle teen pryse van R240 000 tot R300 000 steeds fantastiese waarde. “Ons het in die wildbedryf daaraan gewoond geraak dat ons ’n basisdier koop waarvan die waarde in ’n jaar sommer met 20% groei, en dan het ons boonop ’n kalf of ’n lam bygekry. Dit is tyd dat ons besef wild begin nou die patrone van ander boerderye volg en dat jou inkomste in jou aanwas lê, nie in die groei van jou basisdier se waarde nie,” sê Lood.
Hy sê mense moet ook besluit in watter segment hulle wil sake doen – die stoetof die kommersiële bedryf – en in watter mate hulle hulself aan risiko wil blootstel. Sy vennoot in die Wildswinkel, mnr. Louis van der Watt, het ook al by meer as een geleentheid daarop gewys dat wildboerdery ’n besigheid is en dat boere hul boerdery na gelang van hul aptyt vir risiko moet bestuur. Daar is die hoërisikospesies met die hoë opbrengspotensiaal, soos kleurvariante, en dan is daar die veiliger markte met ’n laer opbrengspotensiaal, maar ook minder risiko, soos vlak- tewildspesies wat vir die jag- en vleismark bestem is.
BOU MARK VIR WILDSVLEIS
Peter is veral optimisties oor die toekoms van die vleismark. Wildsvleis kan nou gesertifiseer word ingevolge ISO 14000, wat die gehalte van ’n produk waarborg, ISO 9001, wat die bestuurstelsel oudit en eenvormigheid verseker, en ISO 2200, wat die verwerking van die produk oudit en verseker dat die proses aan standaarde voldoen. “Ons hoef dus nie meer vir die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye se veeartsenykundige afdeling te wag om ons vleisskema goed te keur nie. Deur ons slagplase en aanlegte deur ISO te laat sertifiseer, voldoen ons aan hoogstaande internasionale standaarde.”
Peter sê die bedryf gaan aanvanklik daarop klem lê om eers ’n plaaslike mark vir wildsvleisprodukte te ontwikkel en dan internasionaal uit te brei. “Met goeie waardetoevoeging kan ons plaaslik dieselfde pryse behaal as in Europa.”
Lood sê die winsgewende bemarking van wildsvleis is belangrik vir die hele bedryf. “Die wêreld is gaande oor free range, en wat is nou meer vrylopend as wild?”
Dr. Gert Dry, Wildbedryf SA se vorige voorsitter, sê Suid-Afrikaners eet reeds omtrent 120 ton wildsvleis per jaar. “Onthou, dit was eintlik onwettig om wildsvleis te verkoop, dus word dié vleis hoofsaaklik deur jagters en hul onmiddellike familie en vriende geëet,” sê hy.
Dit is nie net jagters wat hul tande slyp vir Suid-Afrikaanse wild nie. Lood gaan binnekort na Amerika om ’n reeks seminare aan te bied vir sakelui wat dit oorweeg om geld in Suid-Afrika se wildbedryf te belê. “As buitelandse kapitaal op groot skaal in ons mark begin invloei, sal die bedryf net verder groei.”