Ja, verse kán op 12-14 maande gepaar word
Al wanneer passasiers ’n goeie ding is, is wanneer jy in die vervoer- of toerismebedryf is. In ander bedrywe – en veral beesboerdery – kan dit noodlottig wees.
Beesplase oor die wêreld heen het te veel passasiers. Op ’n beesplaas is hulle winsvreters wat veroorsaak dat beesboere nie die wins genereer wat uitbreiding moontlik maak nie. Passasiers is meestal daar as gevolg van sentiment, te min dissipline en kopskuiwe wat nie gemaak word nie.
Ek verwys eerstens na verse wat eers op 18 maande of twee jaar beset raak en tweedens na volwasse koeie wat oorslaan.
Ons het in die artikel op bl. 42 die globale winsindeks (GPI) verduidelik. As ’n mens dit gebruik om die verlies aan potensiaal/produksie van later paring te meet, skrik jy. Kom ons kyk na die feite in TABEL 1 . Om dus plek te maak (die aantal koeie minder te maak) vir 20% vervangingsverse wat op 24 maande gepaar word en op drie jaar kalf, kos dit jou 33% van jou potensiaal.
As jy hulle egter op 12 maande tot 14 maande paar om op twee jaar te kalf, verloor jy net 11% van enige stuk grond se potensiaal. Om dié rede moet jy jouself afvra of jy dit langer kan bekostig om verse eers op twee jaar te laat paar.
Ek glo dit is nie ekonomies regverdigbaar nie, al kos dit jou ’n paar rand om jou bestuur op te knap.
Navorsing is laag op Suid-Afrika se agenda. Die meeste inligting is uit NoordAmerika beskikbaar, maar ek glo ons kan dit gebruik om besluite te neem.
Navorsing het bewys dat die bevrugtingskoers van verse met ongeveer 21% verbeter van die eerste ovulasie tot hul derde bulsige (estrus-) siklus ( Pregnancy rates of beef heifers bred either on pubertal or third estrus, D.J. Byerley e.a., 1987; Effects of hay quality, breed, and ovarian development on onset of puberty and reproductive performance of beef heifers, R.C. Perry e.a., 1991).
Dit het ook getoon dat die tydsberekening van bevrugting in die eerste teelseisoen ’n uitwerking het op leeftydproduktiwiteit. Vleisbeesverse wat tydens hul eerste dektyd vroeg dragtig raak en as tweejariges kalf, het ’n groter waarskynlikheid van dragtigheid as eerstekalfkoeie ( Effect of calving date on subsequent calving performance, M.J. Burris en B.M. Priode, 1958).
Die verse het ook ’n groter leeftydproduksie, wat weerspieël word in hoër speengewigte. Hulle is ook geneig om vroeër te kalf in die daaropvolgende jaar ( Date of first calving in beef cows and subsequent calf production, J.L. Lesmeister e.a., 1973), vergeleke met verse wat later beset raak in hul eerste dektyd.
Die ouderdom waarop puberteit
plaasvind en die tydsberekening van daardie gebeurtenis met betrekking tot die dektyd, sal dus die tyd van bevrugting in die eerste dektyd, leeftydproduktiwiteit en ekonomiese doeltreffendheid van beesvleisproduksie beïnvloed.
Van die min navorsing wat téén die vroeë paring van verse gedoen is, is in 1921 deur C.W. McCampbell onderneem. Die samevatting van sy navorsing was soos volg: Die koei “herstel nooit volledig van die skok daarvan om op twee jaar te kalf nie” en “as ’n vleisbees op twee jaar kalf, sal nie sy óf haar kalwers in die daaropvolgende jare so groot wees as wat sy sou wees indien sy op drie jaar gekalf het nie”.
Gelukkig was daar baie ander navorsing wat die voordele van verse wat op tweejarige ouderdom kalf teenoor drie jaar, onteenseglik bewys het. Verse wat op twee jaar gekalf het, het wel ’n afname van 14% in kalftempo op drie jaar en vier jaar getoon teenoor dié wat eers op drie jaar gekalf het ( Deferred breeding of beef cows, R. Withycombe e.a., 1930).
Verse wat op twee jaar kalf, lewer egter 0,7 meer kalwers tot op 6,5 jaar teenoor dié wat eers op drie jaar kalf. As verse kalf, is hul kalwers ligter as dié van koeie, ongeag of die verse op twee jaar of drie jaar kalf. Daarna is daar geen verskil nie. In ’n ekonomiese ontleding is bewys dat die verskil in winsgewendheid ná vier jaar tussen die twee groepe gelykstaande was aan $500/koei (sowat R5 870), aangepas tot in 2013.
In 1980 het C.A. Morris ’n groot klomp verslae ontleed oor verse se ouderdom met eerste kalf. In ál die navorsing waarvan hy ’n oorsig gegee het, was daar geen produksieverskille tussen verse wat op twee jaar of drie jaar vir die eerste keer gekalf het nie, buiten die feit dat verse wat op twee jaar reeds gekalf het, 0,7 meer kalwers lewer as dié wat eers op drie jaar gekalf het.
Seker die grootste vergelyking op grond van ouderdom met kalftyd by vleisbeeste is in 1985 en in 1991 in Amerika gedoen deur ’n groep wetenskaplikes onder leiding van R. Nunez-Dominquez. Koeie in dié vergelyking was Angusse, Herefords, Shorthorns en F -kruise van dié rasse.
1 Die navorsers het in hierdie eksperiment na verskeie eienskappe gekyk.
Die eerste sleutelbevinding was dat verse wat gepaar word om die eerste keer op twee jaar te kalf, 138 kg meer vleis in die vorm van kalwers oor hul leeftyd speen. Tweedens was hul ekonomiese doeltreffendheid 6% tot 8% groter as dié van verse wat eers op drie jaar gekalf het.
As jy dít nou weet en glo, is die vraag sekerlik wat jy kan doen om verse suksesvol en volhoubaar (winsgewend) vroeër te laat paar as jy dit nog nie doen nie. Soos met enige ding in die lewe, is alles nie ’n absolute enkelwetenskap en maklik nie, en dieselfde geld vir die antwoord op hierdie vraag.
MAAK DIE KOPSKUIF
Die belangrikste is om die kopskuif te maak. Die Liewe Vader het eerstens diere fisiologies gemaak om dit te kan doen; ons glo dit net nie altyd nie.
Tweedens moet jy kyk watter bestuursaanpassing gemaak moet word om dit te laat werk. Dit gaan beslis aanvanklik beter bestuur verg, maar ek glo dit is ekonomies regverdigbaar.
Derdens moet jy kyk na die bulle wat jy gebruik. Skrotumomtrek by bulle het dalk ’n groter uitwerking as wat jy tans dink.
Onthou laastens dat dit ’n proses is. Jy gaan nie binne die eerste jaar 100% sukses behaal nie, maar jy gaan reeds verbaas wees oor die resultate. Dit werk beter as jy jou diere saam met die natuur laat kalf.
DIE REGTE BULLE
’n Goeie begin is om die regte soort bulle te gebruik ten einde uiteindelik hierdie vroulike diere te teel.
Puberteit is gewoonlik gedefinieer as die ouderdom waarop die reproduktiewe funksie by diere geaktiveer word. Dit stem ooreen met die veranderings in die hormoonvlakke en die vermoë om seksueel te funksioneer en voort te plant.
By bulle kan puberteit gedefinieer word
as die ouderdom waarop ’n bul in staat is om met ’n ejakulasie 50 miljoen sperms met minstens 10% beweeglikheid (staat van beweging) te kan produseer. Dit is verwant aan ouderdom, liggaamsgewig en testikelgewig.
Ouderdom en die liggaamsgewig by puberteit wissel oor rasse heen, soos getoon in TABEL 2 .
Dit is egter interessant dat die skrotumomvang by puberteit (’n aanwyser van testikelgewig) redelik konstant bly op 28 cm tot 29 cm, ongeag rasverskille.
In die meeste gevalle wys bulle aanvanklik seksuele belangstelling sowat drie weke voor puberteit, terwyl hul vermoë om vroulike diere suksesvol te dek, sowat ses weke ná puberteit bereik word. Hoewel bulle wat puberteit bereik het, kan teel, sal die dier se reproduktiewe vermoë verhoog namate die bul meer volwasse word.
SKROTUMOMVANG
Testikelgrootte of die volume weefsel wat semen produseer, word beraam deur die gebruik van skrotumomvang as verwysing. TABEL 3 toon die skrotumomvanggroottes van bulle van verskillende rasse op verskillende ouderdomme.
Skrotumomvang is ’n akkurate en hoogs herhaalbare meting. Dit word verkry deur ’n buigsame maatband te gebruik en dit oor die onderkant van die skrotum te laat gly en dan styf te trek aan dié deel van die skrotale sak met die grootste deursnee, met die testes ten volle neergedaal.
Die vraag is gevra: Hoeveel skrotumomvang is genoeg? In ’n studie by vleisbeeste is gevind dat bevredigende semengehalte waarskynlik hoër word tot ’n skrotumomvang van sowat 38 cm. Ná daardie punt is geen bykomende verbetering duidelik nie.
BULVRUGBAARHEID
Daar is ’n hoë verband (0,81) tussen skrotumomvang en die hoeveelheid sperm wat geproduseer word. By jaaroudbulle het navorsers opgemerk as die skrotumomvang groter word, neem beweeglikheid, die persentasie normale sperms, volume, spermkonsentrasie en die algehele hoeveelheid sperm toe, terwyl die persentasie abnormaliteite verminder. Dit is beraam dat vir elke 1 cm-verhoging van ’n bul se skrotumomvang oor die be- volking se gemiddelde, daar ’n toename van 0,25 cm in skrotumomvang by sy manlike nageslag verwag word.
’n Interessante feit is dat daar ’n groot verband is tussen skrotumomvang en die ouderdom van puberteit by verse. Oorerflikheidskattings vir vroulike eienskappe is in die algemeen laag, terwyl oorerflikheidskattings van testikeleienskappe matig tot hoog is.
Vir elke 1 cm-verhoging van ’n bul se skrotumomvang sal daar na raming gemiddeld ’n vierdag-afname in die ouderdom wees waarop sy nageslag puberteit bereik. Die variasie van ’n 1 cm-toename in testikelomtrek op die vermindering in die ouderdom waarop puberteit bereik word, is 0,75 dae tot 10 dae.
Dit word dus aanvaar dat die vroulike nageslag van vaars met ’n bogemiddelde skrotumomvang vroeër puberteit bereik en ook oor ’n langer leeftyd met reproduktiewe potensiaal beskik.
Om verse vroeër te paar, geen genade te hê vir oorslaankoeie nie en bulle met die “regte” skrotums te gebruik, kan boere nóg drie stukkies byvoeg om die legkaart vir winsgewende beesboerdery te voltooi.
Jou mikpunt moet wees om ’n ekstra kalf per leeftyd uit elke vroulike dier te kry. Die leuse moet wees: Elke dier moet van die ouderdom van twee jaar af elke jaar ’n dividend lewer: óf ’n kalf óf haarself.