Rooivleisbedryf: Wees voorbereid op verandering
Die internasionale ekonomie en wêreldmarkte is in ’n proses van herrangskikking, onder meer weens stadiger groei in China. Ons in Suid-Afrika moet dit nie onderskat nie. Dit gaan die landbou beïnvloed, en so ook die vleisbedryf.
Ná die ekonomiese resessie van 2008 het Amerika en die Europese Unie se sentrale banke die wêreldmarkte toegegooi met ekstra geld wat geskep is, te midde van 0%-rentekoerse in dié lande. Omdat Amerika en Europa stadig gegroei het, moes daar elders na ’n opbrengs op die ekstra geld gesoek word.
Terselfdertyd het China se ekonomie aangehou groei, en die land het groot hoeveeelhede metale en minerale ingevoer vir sy reuse-infrastruktuurprogram. Ander opkomende lande, soos Brasilië en Suid-Afrika, asook Australië en Kanada, wat almal uitvoerders van minerale en metale is, het bogenoemde internasionale geld in hul ekonomie gekry.
Nou het China se ekonomie stadiger begin groei. Die land bou nie meer so baie infrastruktuur nie, maar begin om sy ekonomie in die rigting van ’n verbruikersekonomie te stuur. Sy surplus-staal, -sement, ens. word nou op wêreldmarkte gestort. Gevolglik het die pryse van minerale, metale en steenkool in dollarwaarde internasionaal omtrent gehalveer.
Geld vloei die afgelope jaar uit die grondstof-uitvoerlande terug na Amerika. Al eersgenoemde lande se geldeenheid het erg verswak – Australië, Kanada en Brasilië s’n selfs meer as die rand.
Die Amerikaanse landbou sukkel tans om mededingend uit te voer, want die dollar is te sterk. Nou soek hy nuwe uitvoermarkte. Vandaar die dreigement om Suid-Afrika se deelname aan Agoa (die Amerikaanse wet op groei en ontwikke- ling in Afrika) op te skort as die land nie 65 000 ton Amerikaanse hoendervleis tariefvry laat inkom nie. Suid-Afrika het uiteindelik toegegee. (Die land voer onder meer motors, wyn en vrugte tariefvry uit ingevolge Agoa.)
Dit gaan nuwe mededinging in die vleismark skep, vir alle soorte vleis.
Nou oefen Amerikaanse wetmakers druk uit om ook bees- en varkvleis (minstens ’n sekere hoeveelheid) tariefvry na Suid-Afrika te kan uitvoer. Die Regering gaan nie die motorbedryf opoffer nie. Dit is dus net ’n kwessie van tyd voor Amerika vleis na Suid-Afrika toe uitvoer.
Nog ’n faktor wat ’n groot impak kan hê, is die feit dat Europa tans oorstroom word deur ’n georkestreerde invloei van mense uit die Arabiese lande. Dit hou vele gevolge in en veroorsaak onstabiliteit in Europa en Noord-Afrika.
PLAASLIKE NEIGINGS
Daar is ook ’n paar plaaslike neigings wat veeboere in die komende jaar of wat behoort dop te hou. Eerstens, die Suid-Afrikaanse ekonomie is besig om ernstig af te koel en die kans is goed dat die ekonomie in ’n resessie gaan wees. GRAFIEK 1 toon die verloop van klas A-beesvleispryse en die Reserwebank se leidende ekonomiese aanwyser (wat ’n aanduiding gee wat vir die volgende ses maande tot nege
maande van die ekonomie verwag kan word. Dit voorspel ’n groot insinking in die ekonomie. In die verlede het dit die vraag na rooivleis geknou en het pryse laer beweeg, veral as dit sou saamval met ’n groot aanbod van slagvee. GRAFIEK 2 en GRAFIEK 3 toon die verloop van onderskeidelik skaap- en varkvleispryse.
Veevoerpryse is hoog, terwyl die vooruitsig is dat Suid-Afrika nog ’n El Niñosomer gaan ervaar, met ondernormale reënval. Die kans is meer as 50% dat mielies en voer in die volgende jaar duur gaan bly en dat voerkrale en intensiewe veebedrywe se winsmarges klein gaan bly (of negatief kan wees).
Weens die droogte en gepaardgaande swak weidingstoestande die afgelope drie jaar tot vier jaar in dele van die land word aanvaar dat die meeste veeboere reeds van oortollige vee ontslae geraak het en dat nie veel surplusvee in die komende jaar op die mark sal beland nie. Die enigste surplusvee wat op die slagmark behoort te beland, is waar veeboere na wildboerdery omskakel. Hierdie neiging verminder die verwagte aanbod van plaaslike bees- en skaapvleis.
Daarteenoor is wildgetalle, veral van bokke, besig om skerp toe te neem. Daar is ontleders wat meen dat daar binnekort ’n groter aanbod van wildsvleis op die plaaslike mark gaan wees (’n mens sien dit reeds op hotelle en restaurante se spyskaarte). Dit gaan waarskynlik ook nie te lank wees voor daar ’n groot uitvoermark vir wildsvleis ontwikkel nie.
Naspeurbaarheid gaan ’n voorvereiste wees om te verseker dat die oorsprong en veiligheid van vleis gemonitor en nagespeur kan word. Dit gaan ’n vrywillige stelsel wees wat sterk gaan steun op elektroniese merkers in diere. So ’n stelsel word reeds in Suid-Afrika ontwikkel, en die eenheid vir lewendehawe-ekonomie in die Universiteit van die Vrystaat se departement landbou-ekonomie gaan hopelik binnekort begin om opleiding in dié verband te verskaf. Bogenoemde gaan gepaard met hanteringstegnologie en baie meer gedetailleerde en ontleedbare rekordhouding en statistiek.
Die tegnologie wat aan die ontwikkel is ten opsigte van genemerkers gaan teling en seleksie binnekort na ’n nuwe vlak neem. Byvoorbeeld, die eenheid vir lewendehawe-ekonomie is reeds besig met voerkraalproewe om verskillende beesrasse se groei of produksiekurwes te bepaal. Byvoorbeeld, ’n Nguni groei anders as ’n Hereford in die voerkraal. Dit lyk of die Nguni ’n minder energieryke rantsoen nodig het en vir ’n korter tydperk gevoer hoef te word. Daar is ook verskille binne rasse. Ons sal binnekort veel meer inligting beskikbaar hê. Boere sal dan daarvolgens kan selekteer.
Laastens is dit vir my duidelik dat die vleisklassifikasiestelsel in een of ander vorm sal bly voortbestaan, maar die vleismark gaan op verbruikersvlak na nismarkte beweeg, elkeen met sy eie handelsmerk. Daar gaan ’n groter ver- skeidenheid gehalte- en handelsmerkvleis beskikbaar wees, en in dié verband gaan naspeurbaarheid belangrik wees.
Rooivleisprodusente sal by dié verwagte neigings moet aanpas om by te bly.