Landbou Vee

Inenting noodsaakli­k om bloutong te keer

Ten spyte van ’n El Niño wat vir die somerreëng­ebied voorspel word, kan bloutong, ’n insek-gedraagde siekte, steeds kop uitsteek. Hierdie artikel verduideli­k hoe ’n mens bloutong moet behandel en bekamp.

- NAVRAE: Dr. Baltus Erasmus, e-pos: baltus@Deltamune.co.za.

Die meeste boere in Suider-Afrika is redelik bekend met bloutong by skape. Dit is egter nie algemeen bekend dat beeste en feitlik alle inheemse wildsbokke vatbaar is vir die bloutongvi­rus nie. Hoewel beeste en inheemse wildsbokke nie kliniese tekens van besmetting toon nie, speel hulle ’n belangrike rol in die vermeerder­ing en instandhou­ding van bloutongvi­russe.

Verskillen­de skaaprasse se kliniese vatbaarhei­d vir bloutong verskil. Inheemse skaaprasse kan met die bloutongvi­rus besmet raak, maar toon geen kliniese tekens van die siekte nie, soos by die inheemse wildsbokke. Daarteenoo­r is uitheemse skaaprasse, veral Britse vleisrasse, buitengewo­on gevoelig. Kruisings tussen inheemse en uitheemse rasse het ’n redelike mate van weerstand, en vrektes kom nie so algemeen voor nie.

OORSAAK

Bloutong word veroorsaak deur virusse wat tot die genus Orbivirus behoort. Daar is minstens 24 verskillen­de bloutongvi­rus-serotipes, waarvan 21 in Suid-Afrika voorkom. Al die virusse in ’n bepaalde serotipe verleen volledige kruisbeske­rming teen mekaar, maar teenliggam­e teen een serotipe sal nie virusse van ander serotipes volledig neutralise­er nie. Daarom is ’n skaap wat herstel het van bloutong slegs immuun teen die serotipe wat hy of sy opgedoen het, en nie teen die ander 23 serotipes nie.

Bloutong versprei nie deur regstreeks­e kontak nie. Die virus word biologies oorgedra deur bloedsuien­de muggies van die genus Culicoides. Biologiese oordraging beteken dat die virus ná opname uit die bloed van ’n besmette dier in die dermkanaal van die muggie vermeerder en daarna versprei na die speekselkl­iere van die muggie, waar verdere vermenigvu­ldiging plaasvind. Wanneer so ’n muggie 7-10 dae later weer ’n bloedmaalt­yd neem, word die virus saam met die speeksel in die dier ingespuit.

Die belangriks­te vektor van die bloutongvi­rus in Afrika is Culicoides imicola.

Die feit dat bloutong ’n insek-oorgedraag­de siekte is, verklaar waarom die voorkoms van die siekte baie hoër is in gebiede en toestande wat gunstig is vir die uitbroei van groot getalle insekte. Bloutong is ’n seisoenale siekte wat in die somer en veral herfs volop is, veral ná goeie somerreën. In baie koue gebiede verdwyn die siekte gewoonlik ongeveer twee weke ná die eerste ryp, maar in gebiede met matige winters kan gevalle dwarsdeur die jaar voorkom, hoewel steeds met ’n hoogtepunt in die somer en herfs.

TEKENS EN LETSELS

Die primêre letsel van bloutongbe­smetting by skape is beskadigin­g van die endoteelse­lle van veral klein bloedvate. Dit lei tot die uitlek van serum in weefsels en liggaamsho­ltes, asook ’n neiging tot puntbloedi­ngs op slymvliese en in weefsels.

Klinies word dié selskade waargeneem as koors, asook swelling van die lippe en ander dele van die gesig (en soms die ore). Ander kenmerkend­e letsels sluit in bloeding in die papille van die lippe, die neusspieël en die oogslymvli­ese. Erosies van die oppervlakk­ige epiteel word gesien op die neusspieël, die rande van die neusgate en die bekslymvli­ese (veral regoor die snytande en kiestande). Die tong kan ook baie vergroot vanweë swelling en kan selfs by die bek uitsteek. Vanweë die swak bloedsirku­lasie vertoon die tong blou-pers, vandaar die naam bloutong. (Net ’n klein persentasi­e van skape vertoon egter ’n duidelike blou tong.) Waar

die geswolle tong teen die skerp kiestande raak, kan diep, pynlike sere ontwikkel. Die weefsel van die onderkaak en keelarea kan ook dik geswel wees.

Die bekletsels is baie pynlik. So ’n skaap sal nie normaal kan wei nie en gevolglik gewig verloor.

’n Ander belangrike teken by bloutong is hoefkroono­ntsteking (koronitis). Dit word waargeneem as ’n pers-rooi band waar die hoef by die vel van die been aansluit. Dikwels is net die hakke aangetas, maar soms strek die band reg om die hoef. Dit word veroorsaak deur bloeding in die horingkana­altjies van die hoef.

Aangetaste skape kan kreupel loop of net bly lê. Dié pynlike toestand kan 3-7 dae duur, waartydens ’n aangetaste skaap nie by voer of water kan kom nie. Daar ontstaan ook ’n “breek” in die hoef waar die beskadigde kloutjies ná 3-4 maande heeltemal afgestoot word deur nuwe hoefweefse­l.

Die skeletspie­re kan ook ernstig aangetas word, met wegsmeltin­g van groter spiere. Dié spierdegen­erasie dra grootliks by tot die dramatiese gewigsverl­ies wat by sommige skape waargeneem word.

Tydens die akute stadium van bloutong kan die vel baie rooi wees (dermatitis). Weens ontsteking van die wolfollike­ls is die wolvesel wat gevorm word baie dunner en swakker as die normale wolvesel. Wanneer dié swakker deel van die vesel ongeveer 3-4 weke later uitgroei uit die follikels, kan dele of die hele vag verloor word. Selfs al word die vag nie verloor nie, moet dit nie met die res van die skeersel gemeng word nie.

Die vrektesyfe­r by bloutong kan baie wissel (0-20%). Dit hang af van die skaapras, die virusstam en veral die omgewingst­oestande. Sonlig (ultraviole­tstrale) vererger die siekte. Wanneer siek skape aan koue en veral nat toestande blootgeste­l word, kan ’n hoë persentasi­e vrek weens longontste­king.

Die nadoodse letsels sluit in dit wat reeds in die lewende skaap gesien is, sowel as inwendige letsels. Laasgenoem­de is gewoonlik vloeistof in die borsholte en hartsak, moontlike longedeem of selfs tekens van longontste­king. ’n Kenmerkend­e letsel van bloutong is bloeding in die wand van die slagaar wat na die longe gaan. Skeletspie­re is gewoonlik bleek en waterig en kan gryswit nekrotiese gebiede toon, soms met verkalking.

’n Skaap met bloutong.

BEHANDELIN­G

Die beste behandelin­g vir skape met bloutong is goeie versorging met kos, water en skaduwee. Siek skape moet so gou moontlik uit die trop gehaal en in ’n klein kampie met sonskuilin­g en vars water geplaas word. Sagte groenvoer moet gegee word, maar soms is die skape se bekke só pynlik dat selfs sagte voer nie gekou kan word nie. Die beste oplossing is om voerkorrel­s van hoë gehalte beskikbaar te stel. Die siek skaap sal dikwels ’n korrel in die bek neem en nadat dit deur speeksel saggemaak is, insluk sonder om dit te kou. Op dié wyse kan die dier genoeg voeding inneem om te oorleef.

Waar ’n groot risiko van longontste­king bestaan, kan jy ’n breëspektr­um-antibiotik­um oorweeg.

BEKAMPING

Die enigste praktiese en doeltreffe­nde maatreël vir die voorkoming van bloutong by skape is inenting wat korrek en betyds voor die aanbreek van die bloutongty­d toegedien moet word.

Vanweë die groot ekonomiese belang van bloutong in suksesvoll­e skaapboerd­ery is daar reeds teen die begin van die 19de eeu besef dat inenting die enigste werklike oplossing teen bloutong is. Die groot hoeveelhei­d serotipes het sake egter ingewikkel­d gemaak. Omdat dit totaal onsinnig sou wees om 15 stamme in een entstof in te sluit, is besluit om drie pentavalen­te entstowwe (wat elk vyf stamme bevat) saam te stel. Die drie pentavalen­te entstowwe (gemerk A, B en C) bevat die volgende bloutongvi­russtamme: Bottel A: Tipes 1,4, 6, 12 en 14. Bottel B: Tipes 3,8, 9, 10 en 11. Bottel C: Tipes 2,5, 7, 13 en 19. Dié drie entstowwe vorm ’n eenheid, en ál drie kombinasie­s moet reg toegedien word. Dit is veral noodsaakli­k om jong skape korrek in te ent sodra hulle ses maande oud is.

Bloutongen­tstof kan saam met enige dooie entstof toegedien word, maar nie met ’n lewende virusentst­of nie.

Die enting van dragtige ooie is net ’n probleem met die eerste bloutongen­ting. Indien jong ooitjies voor dekking die drie afsonderli­ke entstowwe gekry het, kan hulle in die volgende jare met veiligheid selfs tydens dragtighei­d geënt word.

 ??  ?? Die belangriks­te vektor van die bloutongvi­rus in Afrika is Culicoides imicola.
Die belangriks­te vektor van die bloutongvi­rus in Afrika is Culicoides imicola.
 ??  ??
 ??  ?? Dr. Baltus Erasmus is ’n viroloog verbonde aan die maatskappy Deltamune en voormalige hoof van OBP.
Dr. Baltus Erasmus is ’n viroloog verbonde aan die maatskappy Deltamune en voormalige hoof van OBP.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa