KLIËNTETEVREDENHEID DIE BELANGRIKSTE MAATSTAF, SÊ SLAGTERS
Mnr. Roland Miller bestuur al die afgelope 33 jaar hul familieslaghuis, East Griqualand Meats, wat in 1967 deur sy oupagrootjie op Kokstad gestig is. Hoewel die huidige klassifikasiestelsel goed werk, meen hy daar is tóg leemtes.
“Kliënte vra gereeld hoe die diere wie se vleis te koop is, gevoer en gehanteer is. Vir party is dit ’n beginselvoorkeur en vir ander ’n smaakvoorkeur. Die klassifikasiestelsel kan in hierdie opsig gewysig word om die voedings- en slaghanteringsmetodes van vleis ook te weerspieël. Só sal ’n ‘vryloop’- of ‘geen-groeibevorderaar’-etiket geloofwaardiger wees en waarde tot die vleis toevoeg,” verduidelik Roland.
Verbruikers wat Roland al leer ken het, is ook nie skaam om hul misnoeë of tevredenheid met hom te bespreek nie. “Ons het ’n geval gehad waar ’n boer met sy eie voerkraal nie die voorgeskrewe onthoudingstydperk vir die groeibevorderaars toegepas het nie. Ons het ’n groot hotel-kliëntebasis en ál die hotelle het op ’n streep daardie vleis teruggestuur. Dit was bloot te taai.”
Roland sê kliënte verkies vleis van sekere beesrasse bo ander. “Die enigste manier hoe ons dit weet, is deur hul terugvoer. ’n Graderingstelsel sal dus amper oorbodig wees, juis omdat ons so afhanklik van kliënte-tevredenheid is. Ons kommunikasie (met hulle) is ons graderingstelsel.”
Mnr. Edu Hanekom, eienaar van The Boer & Butcher-slaghuis in Durbanville, stem saam met Roland. “Ons kliënte sal meer dikwels ’n klas B- en selfs ’n klas C-biefstuk verkies bo ’n klas A, suiwer vanweë eetgehalte. Ons adverteer nie die klasse nie, want die konnotasie aan ’n klas C teenoor ’n klas A kan ’n onakkurate beoordeling teweegbring. Die werklike toets is of die kliënt terugkom en vir nog vra.”
Volgens Edu lê daar dus baie waarde in die eetgehalte van vleis wat tans nie in die klassifikasiestelsel vervat word nie. “Hoe vleisgehalte doeltreffend op ’n supermarkrak aan die verbruiker oorgedra kan word deur middel van ’n etiket, weet ek egter nie,” sê Edu.