TOE KOM DIE KANKER . . .
“Ek het lank gevoel daar is iets fout voor ek daarna laat kyk het,” vertel mnr. Gerhard van Rensburg.
Daar was eers sleg voel en koue koors, en toe is hy dokter toe. Hy is gediagnoseer met kolonkanker. “Dit was byna ’n verligting om te weet.”
Hy is geopereer en behandeling het daarna gevolg. Die behandelings- en herstelstyd het baie langer geduur as wat hy verwag het. “Ek wou in en uit en weer terug op die plaas, maar dit was ’n veel langer stryd. Wat moeilik is, is dat jy op jouself moet fokus. Daar is nie tyd of energie vir die plaas nie. As Milly nie daar was en my stelsels reg nie, sou dit ’n gemors gewees het.”
Hulle het geen geld tydens sy siekte verloor nie. “’n Melkplaas steun op roetine. ’n Mens kan nie daarvan afwyk en verwag dat dit sal goed gaan nie. Elke melkspan het sy verantwoordelikhede. Werk is opgedeel in ’n klomp fasette, en elkeen is verantwoordelik vir sy deel.
“Ek het altyd alles in my kop gehad. Eendag het ek gaan sit en die ABC van melkboerdery vir elke posbeskrywing gaan neerskryf – van jou stewels en oorpak aantrek tot hoe elke koeigroep gevoer moet word. Natuurlik is ek baie bly dat ek dit gedoen het, want toe ek siek word, was daar geen ruimte vir wonder nie; almal het hul protokolle gehad,” sê Gerhard.
“As jy in daai chemokamer is, kan jy nie glo hoeveel jy kan baklei nie. Dit het my uiteindelik laat terugkom en laat besef daai verse wat daar rondloop, is my verantwoordelikheid,” sê hy terwyl hy by die venster uitkyk op die weiding met vier maande oue kalwers. “Ek gaan dié geleentheid gebruik om nóg beter te boer.”
Hulle het baie toekomsplanne. “Ons het nou die dag gaan kyk na besproeiingsgrond. Maar wil ek ’n bespoeiingsboer word? Ons kon ’n paar jaar gelede skaars 300 koeie hier melk en vandag sit ons met 500 lakterende koeie.”
Albei hul seuns, Thomas (die oudste) en Llewellyn, swot medies. “Dit is ’n duur kursus. Ons moet eenvoudig ’n sukses van die plaas maak. Dit is vir my swaar om te weet hulle gaan nie in my voetspore volg nie, maar dit is nie hul passie nie. Hulle moet húl passie en drome uitleef.”