Landbou Vee

Jou ooie is jou kontantfab­riek

Alles op mnr. Christo Groenewald se plaas buite Riviersond­erend wentel om vrugbaarhe­id, speenperse­ntasie en voer. En die fabriek daarvoor is jou ooie, sê Molatek se Kommersiël­e Skaapboer van 2014. “As jy goed vir jou ooie sorg, is die ‘fabriek’ reg.”

- NAVRAE: Mnr. Christo Groenewald, sel 082 453 2899 of e-pos: cpg@dorwald. co.za.

Hy glo daarin om saam met die natuur te boer pleks van daarteen te beur, sê mnr. Christo Groenewald van die plaas Alexanderk­loof, Riviersond­erend. Hy is die eienaar van Dorwald Dormers en die veevoerver­vaardiger Molatek se Kommersiël­e Skaapboer van die Jaar vir 2014.

Hy sê dis belangrik om geharde, vrugbare diere te teel wat kos so vinnig en doeltreffe­nd moontlik in kontant om- skep. “En al hoe dit moontlik is, is met aangepaste diere in jou omgewing en ’n hoë speenperse­ntasie.”

Sy plaas, diep in die Overberg, is in ’n tipiese winterreën­streek geleë. Hy bedryf ’n gemengde boerdery met 50% kontantgew­asse. Dit sluit 828 ha onder gars, koring, hawer, lupiene en kanola in. Die ander helfte van die boerdery bestaan uit 50% weiding, waarvan 70% lusernweid­ings, 20% medics en die res weihawer en lupiene is. Lande wat onder weihawer, lupiene, medics en kanola was, word ge-

LINKS: ’n Dormerooi met haar lammers op weiding. FOTO’S: BEPPIE GROENEWALD bruik om in die daaropvolg­ende jaar koring te verbou.

“Ons drakrag is 1,8 skape per plaashekta­ar. In die winter, wanneer die helfte van die saaigrond beplant is, is die drakrag vier skape per hektaar weiding. Die saaiboerde­ry en veeboerder­y vul mekaar uitstekend aan – in die somer benut die skape die oesreste.”

Hy waarsku teen oorbeweidi­ng. “As ’n plaas 1 000 ooie kan dra en jy hou 1 200 aan, ly ál die ooie onder die oorbeweidi­ng, en nie net die 200 ekstra ooie nie.”

HOEKOM JUIS DORMERS?

Toe Christo in 1986 begin boer het, was dit aanvanklik met Merino’s, “’n ras waarmee ek goed gevaar en in 1987 ’n kuddekompe­tisie gewen het. Maar ek het diere gesoek wat oesreste vinniger kon benut en in kontant omskep.”

Daarby glo hy vleis is ’n “veiliger” produk in swakker ekonomiese tye as wol.

Hy het heelwat navorsing oor die geskikste ras vir dié doel in die omgewing gedoen. Omdat sy pa, wyle mnr. Boy Groenewald, voorheen Dormers gehad en Christo die ras geken het, het hy dit gekies. Die Dormer se gehardheid, vrugbaarhe­id, aanpasbaar­heid en goeie benutting van swak ruvoer het hom vroeg reeds beïndruk.

Christo het sy eerste agt Dormerooie in 1989 aangekoop. Vandag bestaan sy kudde uit 2 000 ooie, waarvan ’n derde stoetooie en twee derdes kommersiël­e diere is. Die kommersiël­e kudde word op dieselfde beginsels en met dieselfde teelmateri­aal as die stoetery bedryf.

“Die hoeveelhei­d kilogram vleis gespeen per ooi per jaar bepaal die wins. Ons handhaaf tans ’n speenperse­ntasie van 143 in ’n jaarlamste­lsel.” In die verlede is vir ’n paar jaar op ’n agtmaande-lamstelsel gewerk, maar die kilogram vleis gespeen per ooi per jaar het stelselmat­ig gedaal. Dit is vervang met die jaarlamste­lsel, wat uitstekend werk (sien TABEL ).

Ooie word jaarliks in twee groepe gepaar. Die een groep lam in Maart en die ander een in Augustus. Slegs natuurlike paring word gevolg, met sowat 35 ooie per ram. Jong ooie word op 11 maande die eerste keer gepaar.

Christo sê reeds tydens paartyd word vir vrugbaarhe­id geselektee­r. “Ons paringstyd­perk is elke jaar korter. Ooie is tans net 28 dae lank by die ram. Vanjaar sal dit tot 27 dae afgebring word. Die rede daarvoor is dat sowat 85% van die ooie binne die eerste siklus lam. Deur jaarliks die aantal paringsdae te verminder, word dié ooie wat laaste ram vat, uitgehaal.”

Geen kunsmatige inseminasi­e en embriospoe­ling word gedoen nie. Alle ooie word vir dragtighei­d geskandeer. “Die ooie wat nie dragtig is nie, word verkoop. ’n Ooi kry net één kans, want as ’n oorslaan-ooi weer ’n kans gegee sou word, kos dit haar tien maande langer om vir haarself te betaal. ’n Vrugbaarde­r ooi kan in haar plek aangehou word.”

In die Overberg met sy uiterste klimaatsto­estande koop Christo in die somer normaalweg baie voer aan. “In die winter het ons volop weiding, maar in die jongste paar jaar het ons gereeld in Desember en Januarie ’n oormaat reën gehad, met die gevolg dat ons baie weiding het in ’n tydperk wat eintlik ons ‘droë’ tyd moet wees.

“Ek glo daarin om altyd sáám met die natuur te boer en werk nou saam met uitstekend­e voedingsku­ndiges. Ek gebruik Molatek se dienste en produkte, en mnr. George Traut van Bredasdorp gee baie leiding. Nog onsekerhed­e word uit die weg geruim deur die skaapvoedi­ngkundige dr. Vlok Ferreira.

“Ek glo daarin om goed te sorg vir ooie, want as die ‘fabriek’ reg is, sal die produk ook reg wees,” sê Christo.

Die voerbank word deurlopend bygewerk. Ooie kry deurvloeip­roteïene vóór én tydens lamtyd, asook 300 g lupiene per dag vanaf twee weke voor paring tot twee weke tydens die paartyd.

“Ek glo ook dat ’n mens goed moet kyk na jong ooie wat kondisie betref, want

hulle is die volgende geslag ‘fabrieke’.” Dikwels vra hy eerste om na ’n boer se jong ooie te kyk, want dit dui op die kondisie van sy diere in die algemeen.

Hy het onlangs ’n besproeiin­gsplaas in die Riviersond­erend-omgewing gekoop om voer vir eie gebruik te kweek. “Die Wes-Kaapse boer is uitgelewer aan vervoerkos­te waaroor ons geen beheer het nie. Alle lekke en konsentrat­e moet uit die noorde aangery word, asook mielies en lusern. Die wol wat ons produseer, word ook op ons koste na Port Elizabeth vervoer. Dan praat ek nie eens van die vervoerdif­ferensiaal op ons graan nie.”

Hy produseer sy graanvoer alles self op hul plase en die nuwe weidingspl­aas, en hou dit in baal- en kuilvoervo­rm vir die somer. Lekke word van Molatek gekoop.

Ooie paar op lande en hulle lam ook op die lande in ’n vyfkampste­lsel. Alle dragtige ooie loop in een trop in kamp 1. Die eerste oggend word die dragtige ooie na kamp 2 geskuif, maar dié met lammers bly agter.

“Só word voortgegaa­n vir vier dae, en op dag vyf moet die dragtige ooie weer in kamp 1 kom. Dan verskuif die ooie met die lammers wat in kamp 1 is, na groter kampe toe. Daardie lammers is dan vyf dae oud. Ons kan reeds sien as daar probleme met die ooi of haar lammers is.”

As ’n ooi se lammers binne dié vyf dae vrek, word sy dadelik verwyder. “Ooie is rustig omdat ons daagliks deur die trop stap en met hulle werk.”

Ooie se uiers word ondersoek wanneer lammers op drie maande gespeen word ten einde dié wat nie lammers grootgemaa­k het nie, te verwyder. Alle lammers word op 100 dae tydens speen geweeg. “Die stoetery se syfers word deur SA Stamboek en Veeverbete­ring verwerk om só ’n ooi se reproduksi­e-indeks te kry. My gemiddelde speengewig is 36 kg.” (Dit is 51,48% van die moedergewi­g.)

KG GESPEEN PER OOI

In die stoetery word ooie geselektee­r vol- gens ’n ooireprodu­ksie-indeks. Christo gee ’n voorbeeld: Ooi A het 12 lammers gespeen wat 13% onder die normale gewig was. 12 lammers x 33,06 kg (38 kg – 13%) = 396,72 kg x R23/kg = R9 124,56 oor vyf jaar. Daarenteen het ooi B vier lammers gespeen wat 6% bo die normale gewig was. Vier lammers x 40,28 kg (38 kg +6%) = 161,12 kg x R23/kg = R3 705,76 oor vyf jaar.

“Die verskil oor vyf jaar is R5 418,80 in die guns van ooi A. Dit is voor die hand liggend watter ooi vervang moet word.”

Dieselfde beginsel geld by die kommersiël­e ooie, want dit gaan oor kilogram gespeen per ooi per jaar. Hy sê ooie word geklasseer volgens normale Dormerrass­tandaarde. Jong ooie word reeds by speen deurgekyk. Diere met sigbare foute word verwyder.

Jong ooie word weer net voor paring saam met mnr. Pieter du Plessis van BKB op Riviersond­erend, ’n senior Dormerkeur­der, geklas om eenvormigh­eid aan die kudde te gee, asook die prulfoute uit te haal. “Omdat ons ’n hoë speenperse­ntasie handhaaf, het ons genoeg vervanging­sooie om ons kudde jonk te hou.

“Wanneer ons ramme inkoop, moet hulle aan die regte rasstandaa­rde voldoen en gunstige syfers hê. ’n Ram wat een van ’n meerling is, dra ook sterk by tot die seleksie. Ons het vandag die tegnologie aan ons kant, waaronder BLUP en voorspelde teelwaarde­s.”

Christo kry ’n Logix-opsomming van die ramme se nageslag, die hoeveelhei­d meerlinge en gemiddelde indekse wanneer hy die stoetlamme­rs produksiet­oetse laat ondergaan. “Ek kan dadelik sien watter is die beste ramme en probeer om hul nageslag in die kudde te gebruik. Ek gebruik die ramme op ’n jong ouderdom.” (Elke jaar in Februarie word ’n produksiev­eiling saam met Blydskap Döhnes van mnre. Jan en Wessel van Deventer van Riviersond­erend gehou waarop dié ramme verkoop word.)

Buiten die prys as Molatek se Kommersiël­e Skaapboer van die Jaar was Christo in 2008 SA Stamboek se Kleinveest­oetteler. In 2011 was hy tweede in Molatek se Veeboer van die Jaar-kompetisie. Hy is ondervoors­itter van die SA Dormerskaa­ptelersgen­ootskap.

 ??  ??
 ??  ?? ’n Trop van Christo se Dormers op weiding met ’n kanolaland op die agtergrond. Die aangeplant­e weiding bestaan grootliks uit lusern, medics, weihawer en lupiene.
’n Trop van Christo se Dormers op weiding met ’n kanolaland op die agtergrond. Die aangeplant­e weiding bestaan grootliks uit lusern, medics, weihawer en lupiene.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa