Diereprestasie ly sonder genoeg fosfaat
Fosfaataanvulling in die somer is uiters noodsaaklik vir optimale produksie en reproduksieprestasie by beeste en skape op groen weidings.
Die argument word dikwels gehoor dat die aanvulling van fosfaat (P) duur is. Dit is egter ’n groot risiko om nié fosvaat aan te vul nie. Dit kan die veeboer uiteindelik baie duur te staan kom. Die aanvulling moet, afgesien van P self, ook in die dier se daaglikse spoormineraalbehoeftes voorsien ten einde optimale produksie en reproduksie te verseker.
P is by ’n magdom fisiologiese prosesse in die liggaam betrokke, onder meer energiemetabolisme. ’n Tekort aan P, veral tydens die aktiewe reproduksiefase, lei tot ’n verlies aan aptyt, gewig en melk, asook tot ’n lae speengewig. Uiteindelik word reproduksie ingeboet. So ’n bees sou in die opeenvolgende jaar nie gekalf het nie, maar omdat sy droog is, bou haar liggaamsreserwes P in die beenmatriks op, wat haar dan in staat stel om weer beset te raak. Dit is dus ’n wipplank-effek wat met reproduksie verkry word.
P word hoofsaaklik in been opgeberg en voortdurend gemobiliseer om in die dier se wisselende behoeftes te voorsien. Tydens ’n P-tekort verdwyn meer P uit die been as wat vasgelê word. Let ook daar- op dat nie net P nie, maar ook kalsium (Ca) en magnesium (Mg) tydens ’n tekort uit die been verdwyn. Hierdie minerale word uit die been geresorbeer.
Dit is dus duidelik dat ’n P-tekort ’n kettingreaksie van ander voedingstekorte en metaboliese steurnisse kan veroorsaak.
AANVULLING
P-aanvulling geskied regdeur die jaar, met ’n hoër aanvulling in die somer. Die beste respons word ook dan verkry. Die rede is dat somerweiding meestal voldoende proteïene (meer as 8% ruproteïene) en energie bevat en P die beperkende voedingstof vir prestasie is. Die verhoogde prestasie is veral die gevolg van verhoogde weidingsinname.
Die aanvulling van P in die winter moet dus veral met ruproteïenaanvulling gepaardgaan omdat winterweiding weer arm aan ruproteïene is.
Daar is ’n groter behoefte aan P in die somer as in die winter. Hierdie behoefte sal nog verder toeneem tydens laatdragtigheid en laktasie. P-aanvulling moet soms verdubbel, na gelang van die hoeveelheid melk geproduseer.
Dit word aanbeveel dat droë beeste 6 g P/dag ontvang, laatdragtige verse of koeie en jong, groeiende diere 9 g/dag en lakterende koeie 12 g/dag. Dit kan aangepas word vir gebiede wat uiterste tekorte aan P ondervind, soos die Vryburg-omgewing, waar 16 g P/dag vir laatdragtige en lakterende koeie en 9 g P/dag vir die res van die jaar aanbeveel word.
Beeste sal fosfaatlekke volgens hul behoefte vreet. Boere moenie bekommerd wees dat beeste té veel sal inneem nie.
Die biobeskikbaarheid van fosfate kan baie van bron tot bron verskil. In weidings is dit ongeveer 60%, in grane 70% en in kommersieel vervaardigde bronne, soos MAP, MCP en DCP, 80% tot 90%. Daar kan ook variasie in die biobeskikbaarheid van fosfate met dieselfde generiese naam voorkom.
SKAPE
Die vraag ontstaan dikwels hoe belangrik P-aanvulling vir skape is. Vanweë die feit dat skape ’n beter weidingseleksievermoë het, P beter hersirkuleer deur speeksel en ’n duidelike droë tydperk het waartydens P-vlakke in die been herstel, blyk P-aanvulling minder belangrik te wees.
P-aanvulling vir produserende en reproduserende diere op groen weiding bly egter belangrik, veral omdat dit verseker dat die nodige spoorelemente ook verskaf word. ’n Aanvulling van 1-1,5 g P/skaap/ dag vir droë diere en 2-2,5 g P/skaap/dag vir produserende en reproduserende diere word algemeen aanbeveel.