Selekteer só sonder aantekeninge
Veekundiges hamer op die filosofie dat jy moet meet om te weet, maar die werklikheid is dat baie boere steeds sonder formele aantekeninge boer. As dit die geval is, moet jy veral strenger seleksie-of uitskakeling s maatstawwe gebruik om kuddeverbetering t
Boere en sakelui sif werknemers voortdurend om te verseker hulle gebruik net die beste kundigheid. Dieselfde geld vir viervoetige werknemers. Jy moet elke jaar ’n volledige, kritiese prestasiebeoordeling uitvoer om seker te maak elke enkele koei lewer nog ’n gunstige bydrae tot die winsgewendheid van die onderneming.
Onthou, elke werknemer moet meer inbring as wat hy of sy verdien, anders het jy moeilikheid. Hierdie kriteria geld beslis vir elke dier op die plaas.
Hoewel ek persoonlik baie van die byhou van aantekeninge hou, weet ek daar is baie beesboere wat nie aantekeninge maak of dektye gebruik nie. Wanneer jy nie individuele aantekeninge hou nie, moet jy goed gedissiplineerd wees om seker te maak jy skakel steeds die diere uit wat nie méér inbring as wat hulle ontvang nie.
Ek het lanklaas die “salaris” van ’ n vroulike dier bereken, maar dit is sowat R2 600 tot R2 800 per jaar. Die druk op die hardwerkendes word al hoe groter namate meer werknemers uitsak en nie hul kant bring nie.
PAS STRENG DISSIPLINE TOE
Hoe selekteer ek dan die regte koeie sonder rekordhouding? Dit verg streng dissipline. Dit is ook nader aan die kol om te sê jy selekteer nie koeie nie, maar skot eerder daardie diere uit wat jy nie wil hê nie.
Met bulle is dit waarskynlik ’n ander storie. Hier kies (selekteer) jy die dier wat jy meen gunstig tot jou onderneming kan bydra – meer melk, meer groei, meer gehardheid, die regte tipe of goeie strukturele eienskappe. Vrugbaarheid mag egter nooit tweede viool speel teenoor enige ander eienskap nie.
Wanneer jy voortdurend die regte koeie uitskakel, sal jou kudde gou ontslae wees van die “probleemdiere”. Die tyd wat jy aan probleemdiere afstaan, trek jou aandag af van ander belangrike bestuursfaktore, soos water, heinings, bemarking en weidingbestuur.
Die seleksieproses begin by die verse. Haal die skewes en krommes met die oog uit ná speentyd. Stel dan die hele groep vir ’n kort tyd (42-63 dae) aan ’n hoë persentasie jong bulle bloot.
Die veearts identifiseer die onbesette verse ’n paar maande later. Raak ontslae van hulle. Skot dan ook die eerstekalfkoeie uit wat met die volgende blootstelling nie dragtig is nie.
Die fout wat baie boere maak, is om met die oog die “beste” verse uit te soek en net hulle aan die bulle bloot te stel. Indien jy hierdie praktyk toepas, toets dit met die volgende vrae: Indien jy goeie bulle gebruik, is jou verse nie geneties beter as hul moeders nie? Dink jy jou seleksievermoë is beter as dié van Moeder Natuur en Vader Tyd? Wat maak ’n vervangingsvers regtig waardevol? (Dit is nie net voorkoms nie.) Met min uitsondering sal verse wat eers met die tweede blootsteling beset raak, nie lank genoeg leef om hul eweknieë wat met die eerste blootstelling beset was, ten opsigte van produksie in te haal nie. Die navorsing toon dat verse wat vroeg dragtig raak, omtrent een kalf meer oor haar leeftyd lewer en dus ook baie meer kilogram vleis.
SKOT AAN DIE HAND HIERVAN UIT
Nadat jy baie verse (omtrent almal) vir ’n kort tyd aan die bulle blootgestel het, kan die onderstaande uitskotkriteria gevolg word. Nie-dragtiges. Skot almal uit, selfs jou seun se eerste vers. Dit is baie winsgewender om haar in dié stadium uit te haal en met ’n dragtige een te vervang. Sorteer hulle sommer aan die einde van die drukgang nadat die veearts hulle ondersoek het. Droës (diere wat die vorige jaar as dragtig gesertifiseer is, maar nie ’n kalf speen nie). Hulle is werklik duur. Jy versorg haar vir 12 maande ná dragtig hei ds bevestiginge n dan verloor sy haar kalf om die een of ander rede. Jy moet hierdie diere so gou moontlik identifiseer en uitskot. Diere wat individuele aandag benodig. Jy moet enige vers uitskot wat gehelp moet word om te kalf of wat aanhoudend gedokter moet word. Met ’n vorm van aantekeninge hou kan jy nog hierdie diere later identifiseer. Daarsonder is dit egter noodsaaklik dat jy haar daar en dan verwyder uit die trop en vet maak en slag (of net slag as sy in ’n goeie kondisie is). Indien jy ’n manier het om hulle te identifiseer, is speentyd en/of wanneer die veearts dragtig hei ds ondersoeke doen ,’ n goeie tyd om hierdie geïdentifiseerde diere uit die kudde te verwyder. Swak kalf gespeen. Indien jy nie ’n skaal het nie, kan jy die swak kalwers ná speentyd weer vir ’n dag of wat by die trop sit. Wanneer die kalf by sy of haar ma uitkom, kan jy haar identifiseer en uitskot. Swak temperament. Hierdie diere kos jou net geld en tyd. Raak so gou moontlik van hulle ontslae. Die reël is as jy ongemaklik voel in die kraal, is dit te erg. Dan moet hy of sy uitgeskot word. Temperament kom van drie plekke af – geneties, vanweë groepsdruk of die gevolg van bederf weens die verkeerde hantering en/of swak hantering s geriewe. Die lelikes (jou definisie). Jou “lelik” kan vir iemand anders “mooi” wees. Skot dus die lelikes uit en verkoop hulle aan iemand wat dink hulle is mooi. Onthou, dié wat in die laaste 10 dae van die kalftyd kalf, is ook deel van die lelikes. As jy ’n lang dektyd en ’n kort kalftyd het, het jy onmiddellik ’n klomp koeie met kalwers om te verkoop. Oorweeg dié praktyk. Onthou net, dit verg baie dissipline.
KRY JOU PRIORITEITE REG
Indien jy dus nie aantekeninge hou nie, moet jy gedissiplineerd genoeg wees om hierdie maniere te gebruik om so gou moontlik die verkeerde diere uit te skot. Doen dan baie moeite met die seleksie van die bulle, want dit is hulle wat die grootste bydrae tot jou uiteindelike koeikudde lewer.
Wanneer jy wel aantekeninge het (en dit is my aanbeveling), maak seker jy gebruik dit om die regte koeie uit te skot. Onthou wat haar primêre werk is en laat dít die swaarste weeg wanneer jy haar prestasieevaluasie doen om te bepaal of sy nog ’n jaar in die fabriek gaan bly en of jy haar kan vervang met ’n dier wat beter is.
Indien jy die regte bulle koop en die regte seleksie maatstawwe gebruik, behoort jou koeikudde gou fenotipies dieselfde te lyk. Dié wat mettertyd oorbly, sal die diere wees wat jou toestande en bestuur geniet en daarin floreer.
Dit is noodsaaklik om na koste te kyk. As jy hierdie seleksiemaatstaf bysit, kry jy’ n groter uitval persentasie. Dit moet in berekening gebring word met vervanging. Hierdie situasie is egter net tydelik, en indien jy volhard, is die oorwinning soet en gou.
Laastens is dit belangrik om die belangrikste aspekte van seleksie reg te kry. Met dié seleksienorm sal jy die diere identifiseer wat minder inbring as wat hulle ontvang. Wat help dit jy het ’n pragtige, vinnig groeiende kalf elke tweede jaar? Maak seker jy het elke jaar ’n lewende kalf. Dán kan jy die groei en die voorkoms bysit.
Moenie dat ’n aanhoudende strewe na ’n hoër individuele groeitempo en swaarder speenkalwers jou visie vir totale winsgewende kilogram per hektaar gelewer, laat vervaag nie. NAVRAE: E-pos: gerritvanzyl@mweb. co.za; sel 083 325 3047.