Herlewing die enigste uitweg
Die afgelope droogte dwing veeboere terug na die tekenbord. Bewaringslandboubeginsels alleen is nie genoeg vir nóg so ’n droogte nie. Kyk nou na herlewingslandboubeginsels wat die grond sal herstel én meer wins per oppervlakte sal beteken.
Die doel van enige onderneming is om wins te maak. Die volgende mikpunt is om darem meer wins te maak as die rente wat handelsbanke jou aanbied. Daar moet tog ’n premie wees op jou arbeid, anders is dit eenvoudig makliker om jou geld in die bank te sit en net die rente te geniet.
Indien jou vertakking nie volhoubaar beter vaar as wat die banke jou kan bied nie, moet jy besluit of jy gaan aanhou waarmee jy besig is. As jy gemaklik is daarmee dat jou moeite nie ’n premie regverdig nie, kan jy bly waar jy is en voortgaan so lank as wat jy kan.
Ek meen egter daar móét ’ n premie wees vir ons arbeid. Daarom meen ek elkeen moet alles in sy of haar vermoë doen om seker te maak sy of haar vergoeding is meer as die rente wat die bank hom of haar aanbied. Ons kan tog nie net wag vir waardevermeerdering op ons grond nie. Om te wag op die dag wanneer jy ophou boer en jou grond verkoop om te doen waarvan jy hou, voel net nie reg nie. Jou opbrengs op jou kapitaalbelegging moet nou al meer kontant voortbring as die rente by die bank.
NUWE BEWEGING
Ons het jare lank van volhoubare landbou gepraat. Dit was geskoei op bewaringstrategieë, goedkoop diesel en goedkoop arbeid. Hierdie aspekte het egter verander. Daarom sal beesboere voor moet begin en ernstige vrae vra. Is die “volhoubare landbou” nog die strewe, of moet dit plek maak vir herlewingslandbou ( regenerative agriculture)?
As ons na beesboerdery as ’n faset van die landbou kyk, het ons altyd gesê vrugbaarheid is tien keer belangriker as groei en belangriker as enige ander eienskap. Dit is steeds waar.
Die vraag is egter: Sal jou onderneming beter vaar as die rente wat jy by die bank kan kry indien jou boerdery ten volle bevoorraad is volgens die tradisionele drakragnorme en ’n goeie speenpersen- tasie (hoë vrugbaarheid) het?
Uit die is dit duidelik dat volhoubare landbou nie meer al die punte bymekaarbring nie. Vrugbaarheid bly steeds uiters belangrik, maar ek glo die vlak van belading (saam met al die goeie eienskappe) is die faktor wat jou in die toekoms gaan onderskei. Dit moet voorafgegaan word deur weiding wat in so ’n mate verbeter het dat dit ’n hoër veebelading volhoubaar kan hanteer. Dít is weer te danke aan produktiewer grond.
Deur volhoubare landbou voor te
staan, sê jy eintlik jy is tevrede met die huidige stand van swak weiding en uitgeputte grond. As jy egter herlewingslandbou aanhang, beteken dit jy streef na “herlewing” in die grond en die verbetering van die weiding.
Om mee te begin, moet ons eers bewus raak van die vernietigende invloed wat aanhoudende beweiding sonder voldoende rus op grondgesondheid, produktiwiteit en biodiversiteit het. In SuidAfrika is daar beesboere wat volhoubaar boer met ’n belading wat twee keer of drie keer hoër as die norm is. Dink net wat dit aan jou winsgewendheid doen. Dit kom neer op twee keer meer diere met dieselfde vaste koste.
DROOGTEPLAN
Beeste het twee belangrike funksies. Eerstens moet hulle gras en struike omskakel in ’n smaaklike proteïenbron genaamd rooivleis. Tweedens moet hulle die weiding en grond verbeter waarop hulle loop en leef. Vir hierdie doel moet ons diere ontwikkel of teel wat pas by die omgewing waarin hulle funksioneer en moet ons weet wat nodig is om weiding te verbeter. Daarna moet ons ’n manier uitwerk om dit te bereik.
Ten opsigte van weidingsbestuur is daar ’n klompie goeie boere, soos mnre. Gideon Oosthuizen, De Wet Coetzee en Ian Riddle (lees ook die artikel “Groei en herstel met ultra-troppe” op bl. 48). Daar is veeboere wat ver bo die norm bevoorraad is en wat dit volhoubaar doen.
Dié boere het ook ’n droogteplan gereed en monitor die beskikbaarheid van hul weiding voortdurend.
Kom ons wees eerlik en sê dat géén weidingstrategie die ergste droogte wat ons in ’n honderd jaar moes trotseer, sonder aanpassings kon deurstaan nie. Dit is egter ook waar dat boere met ’n goeie weidingstrategie, herlewende grond en ’ n droogteplan droogtes baie beter hanteer as dié daarsonder.
Ál die boerderye wat hoër beladings handhaaf, het die volgende gemeen: Hulle neig na groter troppe diere. Hul watervoorsiening is opgegradeer. (Die hoër belading vergoed vir hierdie uitgawe.) Almal het langer rustydperke nadat ’n deel nie-selektief bewei is sodat die plante heeltemal kan herstel. (In droër dele sal dit langer wees, selfs 12 maande tot 18 maande.) Tydelike elektriese heinings word gebruik om kort, kostedoeltreffende weitydperke te optimaliseer. Dit lyk of die ideale bestuurspraktyk soveel moontlik beeste vir so kort moontlik met voldoende (lang) rus is. Ek is oortuig herlewingsweidingsbestuur is die golden bullet vir die toekoms.