Karoobossies sorg vir premieprodukte
Die moontlikheid om ’n buurplaas se indringerpeule tot ’n organiese ‘superkos’ te verwerk, het die Esterhuizens van Britstown se skaapboerdery op die pad van organiese sertifisering gesit.
Eers was daar verlede jaar uiteindelik eksklusiewe naamregte vir Karoolam op die uitvoermark. Nou is daar ook internasionaal organies-gesertifiseerde Karoo-skaapvleis, danksy die Esterhuizenfamilieboerdery van die plaas Elandsfontein by Britstown.
Dié Merino-plaas, waar die Esterhuizens al drie geslagte lank boer, het vroër vanjaar die eerste Suid-Afrikaanse skaapboerdery geword om volgens gerespekteerde internasionale standaarde deur die agentskap Ecocert as organies gesertifiseer te word.
Dit volg kort op die hakke van die Karoo Meat of Origin-skema se verkryging van eksklusiewe naamregte kragtens die Europese Unie se bemarkingswetgewing verlede Oktober.
Dr. Sarah Erasmus van die Universiteit Stellenbosch het wetenskaplik bewys dat Karoolam ’n unieke smaak en samestel- ling het danksy die geurige Karoobossies wat skape daar vreet. Karoolam geniet nou dieselfde uitverkore amptelike status as rooibos, Parmaham en Franse sjampanje op die wêreldmark.
Die Esterhuizens bemark hul skaapvleis met die Smartt Karoo Organic-handelsmerk deur die bekende Boer and Butcher-slaghuis in Durbanville, Kaapstad. Dié slaghuis spesialiseer in produkte van vrylopende diere wat sonder antibiotika of enige stimulante grootgemaak is.
Mnr. Willie Esterhuizen en sy vrou, Sonja, boer die afgelope drie jaar saam met sy ouers, Jacques en Esmé Esterhuizen, op Elandsfontein. Hy verduidelik dat daar in Suid-Afrika vir vleis nog net ’n stel konsepregulasies is waaraan ’n produk moet voldoen as dit as organies te koop aangebied word. Die vleisbedryfsmaatskappy Samic is gekontrakteer om sulke aansprake te oudit. (Lees ook die kassie “Organies? Halaal? Net as die staat so sê” op bl. 15.)
Gevolglik verskyn die woord “organies” op talle plaaslike landbouprodukte wat nie vleis is nie. Dit verskyn sonder die nodige papierwerk om te bewys dat oudits gedoen word om te verseker dat dit vanaf die plaas tot op die bord volgens internasionale standaarde organies geproduseer en verwerk word.
Die internasionale standaarde is veel strenger en omvattender, soos dié van die Europese Unie en die Amerikaanse regering. Daarom het die Esterhuizens op die internasionale sertifiseringsagentskap Ecocert besluit, wat sertifiseer dat ’n produsent aan die Europese Unie se amptelike organiese standaarde voldoen. Hulle kan nou hul produkte as organies gesertifiseer na Australië, Taiwan, die Verenigde Arabiese Emirate, Madagaskar, Asië, Turkye en Serwië uitvoer.
INDRINGERPEULE PLANT SKAAPSAADJIE
Aanvanklik het die Esterhuizens by Ecocert beland omdat hulle die plan gehad het om die peule van indringer-prosopisbome op hul buurplaas te maal en as organiese mesquite-poeier te bemark. Dié poeier is proteïen- en voedingryk en kan onder meer pleks van meel gebruik word. Dit is deesdae baie gewild onder gesondheidsbewustes oor die wêreld heen, ook in Suid-Afrika, en word as ’n “superkos” beskou.
Dr. Marianna Smith, koördineerder van Ecocert se Suider-Afrikaanse tak, het toe by die Esterhuizens ’n ander saadjie geplant: Hoekom nie organiese skaapvleis lewer nie?
Daar is wel baie vleisprodukte van vrylopende diere op Suid-Afrikaanse winkelrakke, maar vóór Elandsfontein s’n was daar geen organies gesertifiseerde produkte nie. Die groot uitdaging is nou om Suid-Afrikaanse verbruikers oor die verskil tussen organies gesertifiseer, organies en vrylopend in te lig.
Marianna verduidelik dat daar ’n verskil tussen “organies” en “as organies gesertifiseer” op ’n etiket is.
“Wanneer verbruikers produkte koop wat ‘as organies gesertifiseer’ is, doen hulle dit met die wete dat dit volgens internasionale standaarde goedgekeur is. Dan sal die naam of kode van die sertifiseringsfirma op die produk verskyn.”
In die geval van Elandsfontein beteken dit geen groeihormone is gebruik nie. Antibiotika is ook nie op ’n roetinegrondslag gebruik nie. Die skape vreet net
organies gesertifiseerde plantmateriaal, met geen spore van onkruid- of plaagdoders nie. Die Esterhuizens moes ’n beëdigde verklaring voor ’n landdros aflê dat geen chemiese middels die afgelope drie jaar op hul veld gebruik is nie. Alle bykomende voer moet met nie-GM saad verbou wees.
DUISENDE OORPLAATJIES
’n Naspeurbaarheidstelsel, wat elkeen van die Esterhuizens se paar duisend Merino’s insluit, moes ook ontwikkel word om die organiese status te waarborg.
Dit beteken elke skaap moes ’n oorplaatjie met ’n unieke nommer kry. Hulle moes ook ’n volledige veeregister opstel, waarin die besonderhede van elke skaap aangeteken word. Dit sluit onder meer geboorte-, slag-, skeer- en vervoerdatums in.
VOER DIE PROBLEEM
Op Elandsfontein wei die skape meestal op Karoobossies en natuurlike veld. Voer is net in kwaai droogtes nodig. Willie sê die groot struikelblok vir die meeste SuidAfrikaanse boere wat organies wil boer, is om in só ’n geval voer in die hande te kry wat met nie-GM saad verbou is. Hy meen ’n mark vir organiese voer behoort mettertyd te ontstaan namate meer veeboere die organiese roete volg.
Nadat hulle sowat ’n jaar gelede met die sertifiseringsprojek weggespring het, het die rekorddroogte hulle wel gevang en moes hulle hul dragtige ooie konvensioneel begin voer.
In daardie stadium was die ooie nog nie deel van die organiese kudde nie.
As eerste toetslopie het hulle heel eerste hul hamels deur die omskakelingproses gesit, want dit was nog nooit in die verlede nodig om hulle te voer nie – dus die laagste risiko. Hul kondisie op net veldweiding het inderdaad deur die droogte deurlopend goed gebly.
Hul lusernlande word nog konvensioneel geplant omdat saadmaatskappye die saad berook en die organiese standaard vereis dat saad nie vooraf behandel mag word nie.
Die Esterhuizens wil ook organiese lusern verbou. Hulle het intussen agtergekom jy kan onbehandelde saad in die hande kry mits jy die saadmaatskappy betyds waarsku en jy dit vinnig gaan oplaai om te voorkom dat plae posvat. Hulle wil dan die saad in ’n lugdigte, verseëlde houer met koolstofdioksied of stikstof bespuit, wat glo die plae uitroei.
DAAR ÍS ’N MARK
Willie sê die reaksie op hul vleis wat deur die Boer and Butcher bemark word, was tot dusver baie goed. Dit het hulle oortuig dat daar wel ’n mark vir só ’n nisproduk in Suid-Afrika is. Hul produsenteprys is tans 40% hoër as wanneer hulle op die tradisionele wyse bemark, grotendeels omdat hulle alle middelmanne heeltemal uitgesny het en regstreeks met Boer and Butcher handel dryf.
Hulle moet wel vervoer- en bemarkingskoste betaal, maar die vleis se rakprys is steeds goedkoper of gelykstaande aan die prys vir vrylopende skaapvleis op ander supermarkrakke. Die groot verskil
is dat hulle nou klein hoeveelhede op ’n slag bemark, terwyl hulle in die verlede baie skape weggery het. Hulle voer nog nie vleis uit nie, maar dit is hul uiteindelike mikpunt.
MET MATIES SE HULP
Danksy die bydraes van vier M.Sc.-studente van die Universiteit Stellenbosch se volhoubare landbouprogram kon Elandsfontein vinniger as verwag as organies gesertifiseer word.
Volgens Ecocert se organiese regulasies kan ’n plaas nie sodanige status gegee word as jy op dieselfde plaas met dieselfde ras konvensioneel én organies boer nie.
Die enigste uitsondering word gemaak as ’n amptelike instelling navorsing op jou plaas doen, verduidelik Willie.
Ecocert het dus voorgestel dat hulle ’n navorsingsvennoot betrek, en Willie, ’n oud-Matie wat ’n B.Com. in landbouekonomie daar behaal het, het hom tot sy alma mater gewend.
Hy sê hulle moet nog ’n klein deel van die boerdery tot op volledige organiese standaard bring, maar omdat die navorsers in volhoubare landbou verskillende aspekte van hul omskakelingsproses bestudeer, kon hulle reeds internasionale sertifisering verkry.
Hulle werk hard om ál hul boerderypraktyke 100% in pas met die organiese regulasies te bring met die hulp van die vier studente – me. Yonela Jafta en mnre. Pienaar du Plessis, Paul Jordaan en Philemon Sithole – en hul navorsing.
Hulle het onder meer die moontlikheid van ander byvoedings as lusern in droogtetye ondersoek, soos die prosopispoeier. Hul ontledings het gewys dat poeier van die peule wel ’n moontlike bron van energie en proteïene is. Die ruproteïenvlak is veel hoër as die vereistes vir skape, behalwe as die ooie dragtig is of lakteer. Die energie-inhoud is ook optimaal, gegewe dat ’n ram net 699 g van die poeier per dag nodig sal hê om in sy behoeftes te voorsien. Dit is dus ’n geskikte aanvullende rantsoen waar skape wei en ’n vaste hoeveelheid daarvan per dag byvoorbeeld in korrelvorm gegee word.
Sonja sê as hulle organies gesertifiseerde mesquite-poeier wel as veevoer benut, sal dit net in ’n kwaai droogtekrisis wees en as hulle nie ander organiese voer in die hande kan kry nie. Hulle wil dit eerder vir menslike gebruik bemark.
As dit vir skape gevoer word, moet dit ook eers verpoeier word, want as die sade nie gebreek word nie, sal die indringerbome in die veld opkom, iets wat tot elke prys vermy behoort te word.