Wildmark kan weer lewe kry
Wildpryse is nog nie waar dit in 2015 was nie, maar as ’n mens na die neigings op vanjaar (tot Augustus) se wildveilings kyk, wil dit lyk of pryse effens beter is, sê twee kenners.
Dit lyk of daar nou meer geld in die wildbedryf in omloop is nadat kopers tot einde Junie hul sente twee keer omgedraai het.
Mnr. Lood Bester, uitvoerende hoof van die veilingshuis Wildswinkel, verwag dat diere op die res van die jaar se veilings goeie pryse sal behaal omdat baie van die geld wat vroeg in die jaar op veilings aangebied is, nou eers werklik van hande verwissel. “Die geld wat vroeër vir wild betaal is, word eers aan die verkopers oorbetaal wanneer daardie wild gelewer word. In die geval van vroulike diere wat as dragtig verkoop is, moes daardie diere eers dragtig raak. Die geld het dus tot nou toe in veilingshuise se trustrekeninge gelê.”
Hy sê dit is hoekom Mei geneig is om die wildbedryf se swakste maand ten opsigte van pryse te wees. “By Wildswinkel het ons byna R300 miljoen in trust gehad wat nou uitbetaal word aan verkopers namate die diere aan kopers gelewer word.”
Dit is egter nie net die geld uit wildverkope wat nou beskikbaar word nie. Lood wys daarop dat mielieboere nou hul oeste verkoop het en kontant beskikbaar het. Boonop het ’n goeie jagtyd tot meer optimisme in die wildbedryf bygedra. Daar was ’n sterk vraag na kleurvariante onder oorsese jagters.
“Daar is baie kleurvariantbokke gejag. Boere kan nou ’n som maak wat hierdie wild betref. Swart rooibokke ( foto) word teen omtrent R35 000 gejag en goue wildebeeste teen sowat R50 000.”
JAGTERS SOEK KLEUR
Dr. Peter Oberem, voorsitter van Wildbedryf SA, stem saam. Hy sê daar word nou daagliks kleurvariante in Suid-Afrika gejag. Dit help om die ooraanbod van hierdie diere te verminder. Hy sê kleurvariante is ’n goeie korttermynbelegging. Rooibokke, springbokke en wildebeeste teel taamlik vinnig aan en bied selfs teen jagpryse ’n goeie inkomste.
“Dit kan nie ’n wildboerdery se enigste teelprogram wees nie, maar dit het baie wildboere se kontantvloei op kort termyn gehelp, terwyl hulle op mediumtermyn op ander spesies, soos buffels en swartwitpense, gekonsentreer het en op lang termyn in byvoorbeeld renosters kon belê.”
Hy sê hoewel onsekerhede oor SuidAfrika se landbou- en grondbeleid plaaslike beleggers afskrik, gee die wêreldekonomie, wat uiteindelik lyk of dit besig is om van die 2008-resessie te herstel, hom hoop. Dit lyk ook of Suid-Afrika se somerreëngebied normale reënval kan verwag. “As ons gelukkig is, sal die politieke klimaat in die land ook stabiliseer ná die ANC se konferensie in Desember en sal daar minder retoriek oor grond en die landbou wees.”
GOEIE GELD IN VLEIS
Peter sê daar kan ’n groot wending in die wildbedryf kom wanneer die wildsvleisskema heeltemal op dreef kom. Die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye is besig om ’n wildsvleisskema af te handel wat boere sal help om wildsvleis wettig te bemark.
Daar word geskat dat Suid-Afrika se wildbedryf byna 20 miljoen stuks diere besit. Oberem sê ’n mens kan argumentsonthalwe ’n som maak volgens 18 miljoen diere. Private wildboere het ’n jaarlikse aanwas van 33,3%. “Dit is baie konserwatief geskat as jy in gedagte hou dat die Krugerwildtuin se aanwassyfer op 25% staan in ’n omgewing waar daar min of geen inmenging ten opsigte van voeding en parasietbekamping is nie.”
Teen dié konserwatiewe aanwasskatting lewer die bedryf dus 6 miljoen nuwe diere per jaar. Teen ’n gemiddelde karkasgewig van 80 kg wat teen ’n baie lae prys van R30 per kilogram of R60 per kilogram ontbeende vleis verkoop word, kan die bedryf R1,44 miljard per jaar verdien, sê Peter. “Dit is ’n stewige basis vir die bedryf, terwyl trofeejag en die stoetbedryf meer vir geskikte diere sal verdien.”
KORPORATIEWE JAGMARK
Lood is ewe optimisties en sê die wildbedryf moenie net op trofeejag deur buitelandse jagters konsentreer nie.
Hy meen daar is enorme onontginde potensiaal vir korporatiewe jagtogte op die plaaslike mark. Hy sê die meeste groot maatskappye wil die een of ander tyd hul kliënte trakteer en daar lê vir die bedryf meer waarde in hierdie mark as in die oorsese mark.