Troef hartwater met lek
Die uitbreiding van wildboerdery in die Oos-Kaap en die gepaardgaande toename in uitwendige parasiete is ’n groot probleem vir veeboere. Pleks van om vee elke twee weke voorkomend teen hartwater te behandel, voeg dié boer bloot ’n antibakteriese middel by
Die geweldige toename in hartwater, veral onder Angorabokke, is’ n standaard besprekingspunt op die kongres van die SuidAfrikaanse Sybokhaarkwekers vereniging. Hartwater word deur die bakterie Ehrlichia ruminantium veroorsaak en deur die bontbosluis ( Amblyomma hebraeum) versprei.
Sybokhaar Suid-Afrika (SSA) het sewe jaar gelede dr. Abdulla Latif van Onderstepoort genader om ’n entstof teen die siekte te ontwikkel. Abdulla was suksesvol en het in veldproewe by Bedford, waar sy verswakte entstof binnespiers aan Angoras toegedien is, bewys dat die entstof inderdaad die kuddes kan beskerm.
Ná die veldproewe is die taak aan Onderstepoort Biologiese Produkte (OBP) toegesê om die entstof kommersieel te ontwikkel. “Maar tot op hede het daar dadels van gekom,” sê mnr. Deon Saayman, besturende direkteur van SSA.
Toe mnr. Anthon Lombard (33) van die plaas Annandale by Adelaide drie jaar gelede saam met sy pa, Anthonie (Pyp) (64), kom boer het, was hy vasbeslote om, in afwagting op die entstof, intussen iets te doen sodat hy nie elke twee weke die vee bymekaar moes maak om hulle te blok nie.
“Terwyl ek vakansietye hier was, het ek gesien hoe my pa elke dier op die plaas elke 12-17 dae met antibiotika moes blok. Met die bergveld is die bymekaarmaak van die verskillende kuddes nie kinderspeletjies nie. Baie dae het dit hom langer gekos om sy vee met 12 werkers bymekaar te maak as om die diere in te spuit.
“Met die jaarlikse styging in die minimum loon en terwyl daar destyds plaasonluste by De Doorns was, het ek sowat vier jaar gelede met mnr. Gert Cronjé, my voormalige baas by Afgri Veevoere, gesels. Ek het hom gevra of daar nie ander maniere is om die probleem hok te slaan en die werkers produktiewer aan te wend nie.
“Met my agtergrondkennis oor veevoer wou ek weet of daar nie ’n middel was wat bloot by ’n lek gevoeg kon word nie, en indien wel, hoe groot die toediening moes wees, aangesien elke skaap of bees se inname verskil.
“Gert het my in aanraking gebring met dr. Conrad Coetzer, ’n private konsultant van Pretoria. Hy het welslae behaal met die byvoeging van 0,5% chloor tet rasikli en (20% aktiewe bestanddeel ). Ek was baie opgewonde en het dadelik my pa gebel en hom daarvan vertel. Hy het my maar bra skepties aangehoor en wou dadelik weet hoe ek die inname van die lek op veral die soetveld gaan reguleer.”
Anthon was egter vasbeslote om dit op die proef te stel en het ten duurste ’n paar sakke Chlortet 200 G (reg.nr. G3141, Wet 36 van 1947) aangeskaf. Die produk word deur die Britse maatskappy Eco Animal Health vervaardig. (’n Sak van 40 kg kos sowat R4 800.)
Omdat hy nie ’n ordentlike voermenger op die plaas gehad het nie, was hy bekommerd oor die verspreiding van die middel in die produksielek wat hy voorberei het. “Ek het nietemin deurgedruk omdat ek oortuig was dat dit sou werk. As voorsorgmaatreël het ek gesorg dat die lekbakke in dié tyd nooit leeg was nie.
“Toe my pa twee maande nadat die lek uitgesit is, agterkom dat daar nog nie weer ’n enkele skaap of bok aan hartwater gevrek het nie, het hy my op die skouer kom klop,” knipoog Anthon.
Omdat die middel so duur is, het hulle Lammerooie kort voor skeertyd op die plaas Annandale.