OM SIRKELS TE TREK
Vir baie kulture was ’n sirkel nog altyd die simbool van goddelikheid en ewigheid – van Amerikaanse Indiane tot antieke Keltiese stamme en Chinese Konfusianisme. En ook vir ’n kwaai, Duitse tannie in die NoordoosKaap wat in haar amptelike hoedanigheid as my ma altyd geïrriteerd sou mompel van “die sirkel wat nie voltooi is nie”
Dit is nou as sy plaasgereedskap gekry het wat nie weggepak is nie of wanneer my pa weer haar gunsteling-vleismes sonder haar toestemming uit die kombuis geneem het en dit onder die groot ou bloekomboom vergeet het waar hulle ’n skaap keel afgesny het.
Om só “nooit die sirkel te voltooi nie”, het uit ’n praktiese, Duitse perspektief meestal gegaan oor om ’n taak nie bevredigend af te handel nie; om ’n ding nie ordentlik en reg klaar te maak nie.
Ons hoop ons het darem genoeg pitkos in die vierde uitgawe van Vee ingesluit. Van Suider-Afrika se voorste boere, bedryfskundiges en veeartse gee raad en bied praktiese oplossings. Hopelik sal dit u aan die dink sit oor waar ’n klein (of groot) verstelling gemaak kan word wat u geld sal bespaar of sal laat maak.
Intussen verbeter die stewige rooivleisen wolpryse ongetwyfeld boere se geesdrif. En op daardie plekke, soos in die weste van die Karoo, waar die droogte boere nog erg laat noustrop trek, vertrou ons elke dag is een dag nader aan die reën.
Ondanks struikelblokke beur ons veeboere voort. Soos beesboere, wat ondanks pryse wat die afgelope vyf jaar sywaarts beweeg het, dit steeds reggekry het om hul produktiwiteit só te verhoog dat hulle amper 40% meer vleis kon lewer.
En ’n mens kry dit net reg deur ’n hele rits sirkels suksesvol te voltooi. Ons hoop dié uitgawe sal help om ’n paar ander ook klaar te maak.