ORGANIES? HALAAL? NET AS DIE STAAT SO SÊ
Die Regering wil alle spesiale produksiemetodes self begin reguleer en polisieer, want “verbruikers moet beskerm word teen vals en misleidende aansprake oor spesiaal geproduseerde voedsel”.
Dít is die rede wat mnr. Billy Makhafola, direkteur van voedselveiligheid en gehalteversekering by die Departement van Landbou, Bosbou en Visserye, voorhou vir planne om sulke aansprake te reguleer.
Volgens mnr. Achmat Sedick, direkteur van die Moslem Juridiese Raad se halaal-trust (MJCHT) is dit ’n edele, dog onrusbarende voorneme. “Ons is eerstens bekommerd oor die eenvormigheid en relevansie van die regulasies en wie dit gaan skryf. Tans is daar reeds heelwat waardevolle vereistes in die wet ingeskryf, veral wat vals etikettering betref. As hierdie tipe vervalsing ordentlik gepolisieer gaan word, sal dit vir die hele bedryf ’n aanwins wees.
“Tweedens, die meeste van hierdie spesiale tipe produksie- en verwerkingsmetodes, soos vereistes vir sertifisering as halaal, word reeds deeglik deur onafhanklike nie-regeringsorganisasies binne die bedryf teen ’n koste vir die verskaffer gereguleer. Dié regulasies is deur die bedrywe self ontwikkel. As die Regering ’n bykomende heffing op dié produksiemetodes gaan plaas om sy eie oudits en inspeksies te doen, maak dit die kos ál duurder en dit is vir ons ’n bron van kommer,” sê hy.
Die reg van die Regering om ’n heffing op enige oudit van hierdie aard te plaas, is in die wet ingeskryf. Makhafola verduidelik dat ouditgeld gehef sal word om seker te maak die regulasies word nagekom. “Die oudit kan deur die departement self of deur ’n gemagtigde organisasie gedoen word en die heffing sal op ’n kosteverhalingsgrondslag bepaal word.”
Of die departement die bestaande regulatoriese organisasies, soos die veldvleisvereniging van Suid-Afrika (GFSA) vir veldvleis of die organisasie vir die Suid-Afrikaanse organiese sektor, sal aanstel om die regulering toe te pas, sal eers later duidelik word.
Wysigings aan die Wet op Landbouprodukstandaarde (Wet 119 van 1990), wat die oorkoepelende beginsel van bestuursbeheerstelsels (spesiale produksiestelsels, soos vir organies geproduseerde voedsel) daarstel, moet nog deur die Parlement goedgekeur word en is reeds in 2014 ingedien.
Makhafola sê gesprekke met die verskillende belanghebbendes sal eers noodsaaklik wees wanneer regulasies wat spesifiek betrekking het op die spesiale produksiemetodes in die wet ingeskryf moet word.
Volgens me. Sonia Mountford, stigter van Eategrity, wat voorbrand maak vir organiese voedsel, is dit belangrik dat wetgewing vir alle voedselsoorte, produksiemetodes en bemarkingsveldtogte dieselfde is. Sy vra reeds sedert 2013 vir oorkoepelende wetgewing om die verwarring, misleiding en diskriminasie in die voedselketting te takel.
Die Rooivleisprodusente-organisasie (RPO) is nog nie bewus van die beoogde wysigings nie. Dr. Pieter Prinsloo, ondervoorsitter, asook lid van die veldvleisvereniging, sê die regulering moenie as ’n geleentheid gesien word om heffings van boere te verhaal nie.
“Tans word die gehalte-aanduiders se protokolle doeltreffend deur die SuidAfrikaanse Vleisbedryfsmaatskappy (Samic) geoudit. Hy behoort steeds die diensverskaffer te wees omdat ons almal weet die departement het nie die vermoë om dit behoorlik te doen nie.”
— JOHAN VAN DER MERWE