’n Eeu van saamboer
Ál die stories en foto’s in die gedenkuitgawe vertel eintlik net ’n enkele verhaal, naamlik
die merkwaardige vindingrykheid, aanpasbaarheid en vasbyt van ons land se boere.
Gedenkboeke soos dié is amper noodwendig onvolledig, want daar het die afgelope eeu nagenoeg 5 000 uitgawes van Landbouweekblad verskyn.
Om eerlik te wees, ons het nie lekker geweet waar om te begin nie, maar namate ons deur ou uitgawes begin blaai het, het ons gou besef dat goeie stories ’n lewe van hul eie het en hulself as’t ware kom aanmeld – ná vyftig of honderd jaar – om wéér vertel te word.
Daar was voorblaaie wat ons eenvoudig wéér moes wys, soos dié van die dassiejagters op Sutherland, diep Kalahari-boorgate, Swakara-modefeeste op Windhoek en taai Merino’s van Barkly-Oos.
Met behulp van ons argivaris, Aletta (Vossie) de Vos, het ons afgekom op wonderlike foto’s wat ons kon verwerk en die eerste keer weer hier kan wys. Party stories het ons opnuut laat lag of aan die hart gegryp en amper op eie stoom op die blaaie gaan lê: Boerdery in die Gamkaskloof, waterwysers se streke, Suid-Afrika se eerste werkende skaaphond, ’ n mielieboer wat met ’n kano sy oorstroomde lande invaar, droogtehulp van die
weermag, Operasie Renoster . . .
In die hele proses het ons ons eie tydskrif herontdek – hierdie merkwaardige weekblad wat deur dik en dun, week ná week, Suid-Afrika se landbougemeenskap op die hoogte gebring het van wat hier en oorsee gebeur.
Ons het die voorspoed én teëspoed, die geil jare en die maer jare, droogtetye en vloede én die uitbreking van siektes saam met ons lesers beleef en aan die lyf gevoel, in só ’n mate dat Landbouweekblad self in 1933 tydens die Groot Depressie amper sy deure moes sluit.
Daar is een grondbeginsel van die joernalistiek wat in ’n eeu nog nie verander het nie: ’n Goeie tydskrif verg ’ n goeie gehoor. Landbouweekblad haal sy eeufees – gesond én lewenskragtig – danksy sy gehoor, die Suid-Afrikaanse boeregemeenskap. Ons is diep dankbaar vir boere se ondersteuning oor geslagte heen.
Toe die eerste LANDBOUWWEEKBLAD ’n eeu gelede van die rolpers in Bloemfontein verskyn het, het die blad een doel voor oë gehad: Om Afrikaanse bestaansboere, verarm ná die ANGLOBOEREOORLOG, te kommersialiseer.
Vandag bly ons roeping om “’n blad vir die boer” te wees wat landbouvraagstukke, nuwe ontwikkelinge én nuus na elke plaashuis bring. Maar ons gehoor het in 100 jaar radikaal verander. Vandag bedien ons wêreldfiks boere. Ons produkte is op winkelrakke wêreldwyd. Dit is ’n groot eer wanneer die Amerikaners ons raad oor sitrus kom vra, of die Australiërs ons graanplanters koop. ’n Mens is onvermydelik trots wanneer die Suid-Afrikaanse Bonsmara in Noord- en Suid-Amerika wei en ons Dorpers boere van Mongolië tot Patagonië bedien.
Wanneer die reën ná ’n droogte kom en ons seningtaai mielieboere ’n paar honderdduisend hektare binne ’n paar dae beplant, kan ’n mens nie anders as om beïndruk te wees nie.
Hoe trots sou dr. Frans Geldenhuys, die eerste redakteur, nie wees nie, as hy kon sien wat sy lewenstaak voortgebring het?
Baie mense het meegewerk om Landbouweekblad 100 saam te stel. Hartlike dank aan almal en veral ook aan die adverteerders vir jul steun.
Geniet die terugblik! As jy iets of iemand bekends raaksien, laat weet ons sodat ons die storie van Suid-Afrika kan opteken en aan die volgende geslag kan vertel.