Terugblik oor ’n eeu
Landbouweekblad deel reeds sedert die eerste dekade van Suid-Afrika se uniewording in die wel en wee van die landbou en die land se boere. Hier is die
tydskrif se eie, merkwaardige verhaal.
Die eerste uitgawe van Landbouweekblad het op 21 Mei 1919 verskyn, middein een van die mees traumatiese tye in die land se geskiedenis. Die jong Unie van SuidAfrika het gesteier onder die nasleep van die drie ergste rampe van die dekade: Die Eerste Wêreldoorlog was enkele maande vantevore uiteindelik verby, die Groot Griep (die grootste demografiese katastrofe in die land se geskiedenis) het honderdduisende lewens geëis en die landbou was in die greep van die ergste “landsdroogte” van die nuwe eeu.
SuidAfrika was nou deel van die magtige Britse wêreldryk, maar met die verwoesting van die AngloBoereoorlog van skaars twee dekades vantevore
nog vars in die geheue – veral die duisende vroue en kinders wat in die konsentrasiekampe gesterf het en die 30 000 plase wat in die doodsnikke van die oorlog as deel van die Britte se “verskroeide aarde”beleid afgebrand is. Miljoene stuks vee is afgemaai, oeste vernietig en damme oopgebreek.
Teen die einde van die 1910’s was duisende mense, veral uit die twee voormalige Boererepublieke, grondloos en werkloos. Hulle het gou ’n naam gekry, naamlik die armblankes. Meestal Afrikaners. Bywoners, trekboere, werkloses, plakkers.
Afrikaners sou hulself aan hul eie skoenrieme uit die ellende moes optrek. In 1915 is De Nationale Pers as uitgewersmaatskappy in Kaapstad tot stand gebring om Afrikaners uit die destydse Kaapkolonie en Boererepublieke as ’n eenheid binne die Unie van SuidAfrika te probeer saamsnoer.
Ondanks sterk teenkanting uit die Engelssprekende gemeenskap het dié maatskappy (tans Media24, binne die Naspersgroep) homself binne vyf jaar as ’n energieke, klein mediastal met vier publikasies gevestig: De Burger (in 1915 gestig as dagblad vir die destydse Kaapprovinsie), Die Huisgenoot (1916, as landwye tydskrif), Die Volksblad (in 1917 in Bloemfontein gekoop en omgeskakel in ’n dagblad) en in 1919 Landbouweekblad, gesetel in Bloemfontein.
Die tyd was ryp vir dié nuwe blad. Volgens die landbousensus van 1911 het byna 48%, oftewel 600 000, van die land se wit mense op die platteland gewoon. Van hulle kon hoogstens 20% nié Nederlands praat nie (Afrikaans het nog nie ampstatus gehad nie). Tog was daar geen Afrikaanse landboublad nie.
Landbouweekblad se eerste uitgawe was 32 bladsye dik. Aanvanklik het die tydskrif tweeweekliks verskyn, maar vanaf Augustus 1919 het dit weekliks verskyn (aanvanklik op Woensdae, maar later op Vrydae, teen 6 pennies per eksemplaar).
Die doel was om boere te lei om beter landbouers te word sodat hulle nie verarm en na die stede hoef te trek nie. Van meet af aan is probeer om die boer se taal te praat – om met hom oor sy probleme te gesels, hom te vertel van nuwe ontwikkelinge
en hom op die hoogte te hou van gebeure in ander dele van die wêreld.
DIE EERSTE REDAKTEUR
F.E. (Frans) Geldenhuys, ’n 29jarige landbouonderwyser aan die Greykollege in Bloemfontein, is as die eerste redakteur aangestel. Hy was aanvanklik die enigste redaksielid, met net ’n bode om hom te help.
Geldenhuys was ’n knap landboukundige met ’n doktorsgraad in die landbou van die Cornelluniversiteit in Amerika. Hy het verskeie gerekende SuidAfrikaanse landboukundiges as redaksionele medewerkers gewerf.
Dié baanbrekerredakteur wou bestaansboere leer om meer markgerig te wees, net soos die Amerikaners, “om wetenskaplik te boer, om die oog op die mark gerig te hou, om behoorlik boek te hou van inkomste en uitgawe en om met ander boere saam te werk om gemeenskaplike oogmerke te bereik”.
Die blad is geesdriftig ontvang. Lesers, adverteerders en verskeie koerante, waaronder Ons Land, De Burger en Die Volksblad (en selfs die Cape Times) het lof betuig.
Teen die tyd dat Geldenhuys Landbouweekblad einde 1924 verlaat het, is byna 10 000 eksemplare van die tydskrif weekliks verkoop. Onder sy opvolger, P.L. (Gog) Kriek, het die sirkulasie tot 10 400 geklim en het die advertensieinkomste gestyg.
DIE GROOT DEPRESSIE
In Oktober 1929 het die Groot Depressie die wêreld getref. Die krisis het tot laat in die 1930’s voortgeduur. In SuidAfrika het die eerste jare van die Depressie met ’n uitmergelende droogte gepaardgegaan.
Dié droewige situasie het Die Nasionale Pers in 1930 gedwing om te besuinig. Landbouweekblad is swaar getref. Die tydskrif het dunner geword en die inhoud en voorkoms het verswak. Talle boere het hul intekening op die blad beëindig. Advertensieinkomste het skerp gedaal.
Landbouweekblad was spoedig ’ n finansiële las vir die maatskappy. Uiteindelik is besluit om publikasie in Julie 1933 te staak.
Ná ’n ondersoek is die besluit egter in Januarie 1934 hersien en is publikasie voortgesit.
Teen 1935 het die sirkulasie tot 5 000 gedaal. Kriek se salaris, wat in die besuinigingsveldtog reeds twee keer verlaag is, is verder tot £45 per maand verminder en hy het bedank.
S.H.J. (Sarel) van Vuuren, landbouredakteur van Die Burger, is toe as redakteur van die “brandmaer perd” aangestel.
DIE OORLOGSJARE
Die Tweede Wêreldoorlog (1939’45) het Landbouweekblad ’n verdere terugslag besorg. Tydens die oorlog was daar ’n skaarste aan papier, gevolglik is die tydskrif se aantal bladsye verminder. In Maart 1943 het dit net 24 bladsye beslaan. Van Vuuren se vordering met die tydskrif is ongedaan gemaak.
Teen 1945, is by geleentheid geskryf, was Landbouweekblad “onaantreklik en oninspirerend, maar hy het aan die lewe gebly en die kern van sy inhoud, meestal die vaste rubrieke, behou”.
DIE SKUIF KAAP TOE
In 1950 het Landbouweekblad se kantoor van Bloemfontein na Kaapstad verskuif. Van Vuuren was na aan aftrede en het verkies om as redaksionele verteenwoordiger in die Vrystaat en NoordKaapland aan te bly.
Die nuwe redakteur was
Herman Steytler, wat naam gemaak het as sportredakteur van Die Burger (en later van die Cape Times).
Vanuit sy nuwe tuiste in Keeromstraat 30 in die Kaap het Landbouweekblad met rasse skrede vooruitgegaan. Die redaksie is vergroot en joernaliste is in die vernaamste landbougebiede van die land aangestel.
Vir die eerste keer is ’n kunstenaar, Johan du Plessis, gewerf om die voorkoms van die blad te verbeter. Hy het die uitleg ingrypend verander, weggedoen met die gereelde volbladadvertensies op die voorblad en op elke uitgawe se voorblad ’n volbladfoto geplaas.
In 1953 is kleur die eerste keer in Landbouweekblad gebruik. Dit was slegs op die voorblad. Volkleur vir die hele tydskrif sou stapsgewys later jare volg.
Met dié omvattende veranderinge het die sirkulasie binne vier jaar van 20 000 tot 35 000 opgeskiet.
Dié groei het saamgeval met groot voorspoed in die landbou. Volgens die nasionale departement van landbou was “die jare 1950’52 die voorspoedigste wat die landbou in die Unie nóg ondervind het”.
SKAKEL KRIEK NEEM DIE LEISELS
J.C. (Skakel) Kriek, assistentredakteur van Die Volksblad en ’n ware nuushond, het Steytler in 1955 opgevolg. Kriek het daarna gestrewe om ’n patroon te vind om landbounuus “warm, saaklik, interessant en populêrwetenskaplik” aan te bied en die leesstof só aan te vul dat die blad “’n gesogte hulp vir ons boere en lekker huisvriend selfs vir stedelinge kon wees”.
’n Hoogtepunt in sy tyd was dat nuus oor die Oranjerivierskema, die grootste waterplan in die land se geskiedenis, eerste in Landbouweekblad gelees kon word.
Daar is ook met twee uiters gewilde rubrieke onder die skuilnaam Manie begin – “Soos ek dit sien”, ’n geselsrubriek oor landbousake, en “By die Opsitkers” om “veral die eensame kêrels en nooiens op verafgeleë plekke met mekaar in verbinding te bring”.
In Kriek se dienstyd van tien jaar het die weeklikse sirkulasiesyfer meer as verdubbel van 35 000 tot 86 000. Onder sy opvolger, Piet Daneel, het die sirkulasie in 1965 op 91 000 te staan gekom. In September 1973 het die verkope ’n rekordmaandsyfer van gemiddeld 96 498 eksemplare per week behaal. Die gemiddelde syfer vir die ses maande tot Desember 1973 was meer
1975 as 93 000. Namate die aantal boere sedertdien afgeneem het, het Landbouweekblad se sirkulasiesyfer ook geleidelik gedaal.
Die boere het deur die jare al hoe meer professioneel geword en wetenskaplik geboer. In pas daarmee het die redaksionele inhoud in die laat 1980’s minder gemoedelik en meer saaklik geword.
NUWE STEMME
Onder leiding van elke nuwe redakteur – Piet Daneel (19641974), Piet van Niekerk (19741987), Pienaar Smit (19871998), Jean du Preez (19992007), Ainsley Moos (20082009), Hugo Lochner (20102014) en Chris Burgess (sedert 2014) – het Landbouweekblad sy inhoud geleidelik aangepas om meer saaklik te wees en in pas te bly met nuwe ontwikkelinge.
Bydraes oor geldsake, die ekonomie, arbeid, versekering, meganisasie, rekenaars, sakenuus en dies meer verskyn gereeld.
In die afgelope halfeeu was veral drie rubriekskrywers instellings in die tydskrif:
Dr. Lucas Potgieter het die uiters gewilde jagengeweerrubriek “Die Boer en Sy Roer” byna 40 jaar lank, van November 1972 tot Desember 2011 (kort voor sy dood), behartig. Prof. Johan Willemse skryf sedert April 1987 weekliks gesaghebbend oor landbouekonomiese en verwante sake. Ds. Kobus van der Westhuyzen behartig die geestelike rubriek “Hart tot hart” steeds sedert April 1970 – dus byna die hele laaste helfte van Landbouweekblad se bestaan. Twee legendariese spotprentkunstenaars, T.O. Honiball en Fred Mouton, was agtereenvolgens tot Landbouweekblad se diens. Honiball het vanaf 1941
spotprente vir Die Burger geteken en het ook die tekenwerk vir Landbouweekblad gedoen. Mouton het in 1974 by Honiball oorgeneem. Hy teken steeds vir die tydskrif.
’n Hand vol personeel van Landbouweekblad het die tydskrif dekades lank lojaal gedien, maar twee verdien spesiale vermelding. Dit is Aletta de Vos (of Vossie, soos almal haar noem), die tydskrif se argivaris, en Johanna (Hannie) Fourie, jare lange hoofredaksiesekretaresse. Hannie het vanaf 1952 tot 1996 by Landbouweekblad gewerk. Vossie tree in 2019 af nadat sy in 1957 by die maatskappy begin werk het. Die laaste 42 jaar daarvan was by Landbouweekblad.
‘PROFESSIONELE ERA’
Met die koms van demokrasie in 1994 moes SuidAfrikaanse landbou weer groot veranderings trotseer. Mnr. Derek Hanekom, nuwe minister van landbou, was uit ANCgeledere. Hy was gou om die landboubeheerrade af te skaf en skielik moes die landbou na homself omsien. Weg was die ruim staatsondersteuning van vroeër jare. Die klem het nou verskuif na die vestiging van swart boere en die herverdeling van grond.
Vir kommersiële boere het die winde van ’n vryemarkstelsel by tye maar koud gewaai en boeregetalle het toenemend gedaal. In 2018 alleen het die land 1 600 boere verloor.
Vir ander het die nuwe bestel weer groot geleenthede gebring. Toegang tot veral nuwe uitvoermarkte sorg vir ’n oplewing in talle uitvoerbedrywe – van sitrus en neute tot wol en wyn.
Die tydskrif moes ook by dié nuwe werklikhede aanpas.
Namate navorsings en ander kundigheid toenemend van die staat na die private sektor gemigreer het, moes Landbouweekblad opnuut dink hoe om snykantinligting by sy lesers tuis te bring, maar wat dié keer deur maatskappye voorsien is. Die lyn tussen redaksionele beriggewing en betaalde “promosie”materiaal was nog nooit só fyn nie.
Die oplossing was duidelik afgebakende promosiebylaes en spesiale fokusse, wat boeiende kommersiële bedryfsnuus kon huisves. Bylaes en seksies word deur tradisionele joernaliste geskryf en bly ’n redaksionele hoeksteen van die tydskrif.
‘LEKKER BOER!’
In 1998 het Landbouweekblad begin voelvoel aan die internet. Hy het die digitale wêreld betree met die stigting van ’n eie webblad, Landbou.com. Begin 2004 is Jan Bezuidenhout, redaksielid van die tydskrif, as webredakteur aangestel om die webblad heeltyds te bedryf.
Kort daarna het dr. Francois (Faffa) Malan die land se eerste “virtuele veearts” geword met sy navraagdiens Vra vir Faffa op Landbou.com. ’n Span kundiges oor onderwerpe, soos regsake, finansies, grond en onkruid, het intussen by hom aangesluit
en vandag getuig die meer as 10 miljoen bladlese van Dok Faffa (én sy span) se gewildheid.
Daar was ook ander vernuwings. Saam met die landbouekonoom Johann Bornman en Agri SA het die land se eerste omvattende, soekbare digitale grondoudit op Landbou.com verskyn. Die doel daarvan was om te keer dat politici roekelose uitsprake oor grondeienaarskap maak.
Maar daar is nóg groter digitale ontwrigting op pad. Saam met die koms van slimfone verskuif die tydskrif skielik na boere se boonste kakiehempsak.
En terwyl Landbouweekblad met sy lesers op Facebook en Twitter gesels, verskyn daar ook nuwe tydskrifte uit sy stal. Vee en Boereplanne word nuwe name met stewige verkope.
Onder leiding van Arina du Plessis, wat in ’n Ceresplaaskombuis grootgeword het, groei Boerekos tot die grootste kostydskrif in die land. Dit maak Landbouweekblad ook waarskynlik die enigste landboutydskrif ter wêreld wat ook ’n volwaardige kostydskrif bedryf.
Danksy Boerekos het Landbouweekblad die eerste keer ’n eiesoortige bemarkingskanaal regstreeks na ’n gegoede verbruikersmark – enigiets van die Afrikanerbeesboere se gesonde veldvleis tot ekstrasuiwer olyfolie word nou deur die nuwe lesers gekoop.
Toe kom die konferensies. Van ’n klein begin in Bloemfontein in 2016, bied Landbouweekblad sedert 2018 jaarliks konferensies oor herlewingslandbou aan met die samewerking van Graan SA, die Riemlandstudiegroep op Reitz in die Vrystaat en die Ottosdalgeenbewerkingsklub in Noordwes. Honderde boere woon die tweedagsaamtrekke op die platteland by om die boodskap van hoop te kom hoor.
Toe die politieke temperatuur in SuidAfrika in 2018 kookpunt bereik oor grondonteiening sonder vergoeding, het Landbouweekblad ’n grondberaad met die samewerking van Agri SA naby BelaBela gereël. Twee dae lank kon boere vertel hoe hulle die land ’n beter plek maak. Die optimistiese gesindheid en uitsonderlike suksesverhale het die voorslagboer Nick Serfontein laat opmerk dat die saamtrek “’n keerpunt in SuidAfrika se landbougeskiedenis is”. Selfs die rand het vlugtig ’n bietjie kop opgetel.
Die televisieprogram Landbouweekliks, vervaardig saam met die produksiemaatskappy Brand Republic, was in 2018 die jongste toevoeging tot die Landbouweekbladstal.
In Januarie 2019 het dié program sy eerste verjaarsdag gevier met ’n kykerstal van amper 2 miljoen.
Vandag is Landbouweekblad veel meer as net ’n tydskrif. Dit is ’n landbouhandelsmerk, wat alles van advies voorsien tot klere verkoop, konferensies reël en TVreekse maak. Maar deur al die verandering bly sy gehoor die land se boeregemeenskappe op die platteland. ’n Hegte verhouding wat oor ’n eeu gesmee is, altyd met net een doel voor oë – om die boere van die land te dien.
Die uitdaging vorentoe sal wees om dié eiesoortige verhouding in stand te hou oor ’n reeks kommunikasieplatforms wat enige plek gelees, gehoor of gekyk kan word. Landbouweekblad en sy personeel glo hy is op koers daarmee.
Hoe anders as wanneer die geliefde 74jarige Dok Faffa sy Landbouweekliksinsetsels oor veesiektes op ’n Woensdagaand hier kort voor agtuur afsluit af met ’n hartlike: “Lekker boer!”
Woorde wat tot in honderdduisende sitkamers reg oor die land trek.
BRONNE
Beukes, W.D. (redakteur). 1992. Oor grense heen. Nasionale Boekhandel.
Büttner, Hans & Claassen, George. 2010. Goed om te weet. Tafelberg.
Muller, C.F.J. 1990. Sonop in die Suide. Nasionale Boekhandel.
Saamgestel deur: Izak Malherbe, Chris Burgess en Heléne Booyens.