’n Openbaring in mededeelsaamheid
Landbouweekblad se gewilde hekelskrywer, die “boer wat net mooi alles van alles af weet”, se kritiek, grappe en voorspellings vermaak en onthuts sedert die 1950’s,
skryf Nico van Burick. As iemand verbrou, moet hy hande voor die sitvlak hou anders is Manie op hom.
Ek hoor Manie van Landbouweekblad gaan ook vandag hier wees,” luister ’n kollega onlangs twee boere af wat ernstig praat oor hoe belangrik hul plaaslike boeredag geword het. Vir hulle is Manie ’n misterieuse redaksielid van die tydskrif wat belangrike geleenthede bywoon en dan daaroor skryf.
Dít is waarskynlik ook presies wat hy in gedagte gehad het toe die destydse redakteur, Skakel Kriek, in die middel 1950’s met die rubriek Manie – Soos ek dit Sien begin het.
Hy skryf ná sy uittrede self in Landbouweekblad se 50jarige gedenkuitgawe oor Manie se ontstaan sowat 15 jaar vroeër.
Hy sê dit is maar in die aard van boere om ander uit te trap. “Daarom het Manie sommer met die intrapslag soos ’n willewragtag te kere gegaan en links en regs houe uitgedeel, maar ook geprys wie lof verdien het.”
Skakel skryf dit was ’n tydperk toe landbouamptenare nog in ’n groot mate koning en profeet was. Hulle was voorskriftelik oor wat boere moet plant en wat nie, hoeveel kunsmis toegedien moet word en watter beesras die beste is. Vir boere was die voorskrifte nie altyd reg nie – en toe kom Manie in opstand.
Manie se standpunt was dat navorsers ten nouste saam met boere moet werk en op die hoogte moet bly van boere se eie bevindings. Van dié amptenare het aanstoot geneem omdat dit gelyk het asof Manie hulle by boere in onguns wou bring. Dr. P.W. Vorster, destydse sekretaris van landboutegniese dienste, het Manie egter gelyk gegee en navorsers versoek om basiese navorsing met plaasproewe op te volg.
Manie het ook die beheerrade gepak wat die ritteltit met oorskotte gekry het en produksie wou beperk. Hy het boere aangespoor om soveel moontlik te produseer en terselfdertyd beheerrade gewaarsku om nie die pryse te verlaag as ’n manier om oorskotte te voorkom nie. Skakel sê dit het veroorsaak dat selfs landbouministers Manie trompop geloop het, maar hy het hom nie laat afskrik nie.
Hy het dikwels ook kritiek op boere gelewer. “Sy voorslag het alkante toe geklap,” skryf Skakel. “As iemand verbrou het, moes hy hande voor die sitvlak hou anders was Manie op hom. En vandag nog staan Manie om op ’n beskeie wyse die belange van ons boere en ons land te dien en te bevorder,” skryf hy in Mei 1969.
André Strydom (82), een van die ou hande op die redaksie in die vroeë 1960’s, sê Skakel het van Volksblad af gekom en het ’n nuusbenadering by Landbouweekblad gevestig.
“Al wat ek kan onthou, was dat Manie in daardie dae hierdie mistieke persoon was wat kon sê wat hy wou en op mense se tone kon trap.
“Skakel het die waarde daarvan besef om kongresse en geleenthede by te woon en vriendskapsbande met politici en landbouleiers te handhaaf. As hy geleenthede bygewoon het, het hy altyd maar met sy hand agter sy oor gesit en geluister na die skindernuus sodat hy Manie kon voer met inligting.”
André onthou dat Skakel nie eintlik foto’s kon neem nie. “Iemand moes altyd sy Rolleiflexkamera op ’n algemene stelling sit sodat hy darem ’n foto van die nuusmaker kon neem. In daardie dae is foto’s ook geplaas van die mense waaroor daar geskinder is.”
Nog ’n ou redaksielid uit daardie dae is die befaamde rubriekskrywer Johan van Wyk (79) wat veral bekend was vir sy rubriek Stop van Myne vir langer as 25 jaar in Volksblad.
Trouens, sy loopbaan as rubriekskrywer het inderdaad met Manie begin!
Hy sê die Manie-rubriek is nie net deur Skakel geskryf nie. Redaksielede het by geleentheid brokkies gelewer. “In my tyd (1961 tot 1966) het ek by tye die volledige rubriek geskryf.”
Van Wyk sê Manie was in pas met die gebruik van gesiglose politieke rubrieke ook by ander publikasies. Daar was byvoorbeeld Dawie by Die Burger, Willem by Volksblad, Lood by Beeld, Pollux by Rapport en Herman by Die Suidwester.
“Die groot vraag by boere was altyd wie nou eintlik die Manie-kêrel is? Hulle wou graag weet. Die geheim is nooit verklap nie. Die gedagte was dat lesers moes glo dit is ’n boerende boer wat net mooi alles van alles af weet.
“Albert Basson van Eendekuil, destyds voorsitter van die Suiwelraad, het my op ’n keer beskuldig dat ek Manie is nadat ek geskryf het hy is die laaste een wat kan kla die melkboere se Frieskoeie is te maer omdat hy nét so maer is. Ek wou weet hoekom hy dink dit is ek en hy het gesê: ‘Omdat jy net so ’n maergat is!’ ”
Nog ’n ou hand uit daardie jare is Schalk Burger (80) wat later ook assistentredakteur was. “Skakel was baie gesteld op Manie en het dit as baie belangrike rubriek beskou. Manie was maar altyd in die spervuur.
“Ek het ook sedert my eerste jaar in 1961 van tyd tot tyd bydraes gelewer. Ek onthou daar was in daardie tyd ’n oplewing in die witwynmark en ek het op ’n keer ’n geleentheid bygewoon waar ’n nuwe botteleringsaanleg vir die bekende Lieberstein-wyn van daardie tyd bekend gestel is. Iemand praat toe daar oor die revolusie in die wynbedryf en sê daar gaan ’n dag kom dat wyn goedkoper as koffie sal kos.
“Ek skryf dit toe in Manie, maar Skakel was glad nie gelukkig nie. Hy het net gesê ’n mens kan nie wyn en koffie met mekaar vergelyk nie en die bydrae het nooit verskyn nie.”
Nadat Skakel in 1964 uitgetree het, het die redakteurs wat gevolg het – Piet Daneel, Piet van Niekerk, Pienaar Smit, Jean du Preez, Ainsley Moos, Hugo Lochner en Chris Burgess – almal seker gemaak dat Manie sy plek behou en steeds ’n wakende oog oor die landbou kon hou.
Jean du Preez onthou van ’n keer toe hy geskryf het: “Thoko Didiza stel soveel nuwe landbouplanne met afkortings bekend, daar gaan binnekort nie meer genoeg letters in die alfabet oorbly nie.”
Daaroor het hy en sy ’n paar weke later by ’n landboukongres só ’n heftige woordewisseling gehad dat haar lyfwag tussen hulle gaan staan het.
“Maar ja, daar was maar deurlopend reaksie.
“Dit is immers die doel van die rubriek, om lesers aan die dink te sit,” sê hy.