Mense van die uithoeke
In 1959 reis Landbouweekblad saam met dr. Otto du Plessis, die administrateur van Kaapland, na Gamkaskloof (beter bekend as Die Hel) om te kyk of die ongeveer honderd siele wat
in afsondering daar woon, ’n pad kan kry.
Hier is geen trekkers, geen motors, geen vragmotors nie. As ’n mens Gamkaskloof van Prins Albert se kant af nader, kom jy ná 28 myl voor ’n diep poort in die Swartberge tot stilstand. Daar moet jy jou motor onder ’ n doringboom los, want voor jou is die poort van Die Hel waardeur jy met
dapper en stapper of te perd kan gaan.
Al diere wat nog daar kan loop, is die bobbejane, luiperds, wildsbokkies en die donkies wat die inwoners van Die Hel gebruik om hul produkte te karwei.
Geen voertuig met wiele kan daar ingaan nie omdat groot, ronde rivierklippe, watergate, bosse en sand hom stilswyend uitlag.
En as die Gamkarivier besluit om sterk af te kom, lê hy van krans tot krans, sodat die administrateur maar kan vergeet van die rivierbedding as pad vir motorkarre en vragmotors. Hy sal vir die mense van Die Hel ’n pad hoog teen die kranse en buite bereik van die rivier se wilde bokspronge moet uitskiet, of elders ’n pad moet bou – miskien aan Calitzdorp se kant.
As iemand nie te perd gaan nie – dié moet jy telkens maar lei – wip, spring en skarrel jy vir 8 myl tussen rotse en gladde rivierklip. Jy loop jou vas teen watergate en kranse, veral as die rivier die voetpaadjie weggeveeg het.
En in die donker loop, is maar net om daar tussen die klippe te slaap en die volgende oggend verder te gaan.
So te sê halfweg in die poort sal mense (as die wind reg waai) die skote van ’n .303geweer ongeveer drie minute na mekaar hoor, want daar is die veelbesproke skietkrans waar die wind op een of ander manier ’n drukking vorm en telkens ’n soort ontploffing veroorsaak. Vier myl verder sal jy droë aalwyne gewaar – die eerste blik op plante in Die Hel.
PAKDONKIES
Die eerste plaas, seker ’n raps meer as ’n myl regs in die vallei op, is dié van mnr. A.S. Swanepoel, beter bekend as oom Stefaans. Hy boer saam met sy twee seuns, Piet en Fanie, op ’n raps meer as 400 morg. Hul boerdery is gemeng, soos byna maar ál die boere s’n in Gamkaskloof. Slegs produkte wat met donkies deur die poort gedra kan word, word verbou. Die Swanepoels kan dit nie waag om bederfbare produkte te kweek nie. Daar’s ’n stukkie wingerd waarvan die pragtigste hanepootrosyne gemaak word; daar’s perske en vyebome vir gedroogde perskes en geperste vye.
Koring word gesaai. Een jaar het oom Stefaans 130 sakke koring gewen. Boontjies, veral suikerboontjies, betaal goed. Daarvoor kry die boere tot £10 per sak en nooit minder as £6 nie.
Alle groentesoorte groei mooi, want die grond is vrugbaar en water volop, maar dit kan slegs vir eie gebruik gekweek word.
Daar is ongeveer 200 pakdonkies in Gamkaskloof. Elke donkie dra 100 pond op ’n slag deur
die poort, 50 pond aan elke sy. ’n Vrag van 30 sakke koring word dus met twee keer se loop deur die poort gebring. Die afstand word in sowat drie uur afgelê.
DIE PAD IS OOP
Op 9 Augustus 1962 open mev. Bernice du Plessis namens haar oorlede eggenoot die Otto du Plessispad na Die Hel. Die 18 boeregesinne van die Gamkaskloof wys Landbouweekblad se lesers hoe hulle boer.
Gamkaskloof is slegs ’n paar honderd treë breed, maar 14 myl lank en loop van oos na wes. Halfpad die kloof af kruis die Gamkarivier die kloof van noord na suid. Afgesien van “die leer” – ’n bergvoetpad aan die westelike punt van die kloof, was dié twee klowe langs die rivierbedding die enigste “paaie” wat die kloof met die buitewêreld verbind het.
Die noordelike poort is die bopoort Prins Albert se kant toe. Wanneer die mense net wil dorp toe gaan, stap hulle deur die onderste poort suidwaarts Calitzdorp toe, want Prins Albert is nog 27 myl van die bopoort se punt af. Calitzdorp is slegs 11 myl.
En as ’n man vroegdag spore maak Calitzdorp toe, kan jy nog dieselfde aand terug wees. “Dit is mos niks om 22 myl op ’n dag te stap nie,” sê oom Willem Marais (69).
‘BOORLING’
Eintlik is Die Hel ’n boerehemel. Die grond is vrugbaar – hulle noem dit doringkaroo – en die bokke en donkies sorg vir genoeg mis. Wes van die rivier het die boere ook heelwat water vir besproeiing.
Die Gamkasklowers is ook van die weinige boeregemeenskappe, indien nie die enigste nie, wat gelukkig en tevrede is. Niemand skuld iemand iets nie en nie een van die plase is met ’n verband belas nie.
Mnr. J.H. Mostert (74), die oudste inwoner in die kloof wat ook ’n “boorling” van die kloof is, sê dat sy vader destyds nog in Brandberg 1 700 morg weiveld teen R80 gekoop het. Sy oupa was van die eerste Mosterts wat hulle in die kloof kom vestig het. Hy het sy plaas betaal deur swepe te vleg.
Die 18 gesinne – ’ n skoolmeester en sy eggenote is die enigste buiteperde – woon eintlik net op vier plase. Maar soos die plase onderverdeel is, is daar nou al tot 7 “aandeelhouers” op een plaas.
ONDERSTEL
Afgesien van egge wat hulle self in die kloof maak, is alle ander plaasgereedskap daar ingedra. Op Boplaas van Mostert staan nóg ’n bokwa wat sy oupa gekoop het.
Voor die bopoort het hulle die wa se bak afgegooi en net die wiele en die onderstel met ’n span donkies ingesleep. In die kloof het hulle weer ’n bak van populierhout gebou.
Toe die wiele later ingee, het Mostert self vier nuwe wiele op Calitzdorp gaan koop en dit oor die berg die kloof ingerol. “Wat ons moes hê, het ons ingedra,” sê hy. “Ons weet darem ook hoe om met min klaar te kom.”
Vroeër toe dié wêreld nog meer reën gekry het, het sy pa in die bokloof tot 60 sakke koring van ’n boesel saad geoes. Dié tyd en dae was die saaiery ook nog maklik. Lande is aangelê deur slegs die doringbome se takke af te kap – die stamme het hulle laat staan. Daarna is die koring gesaai en ’n trop bokke oor die grond gejaag om die saad toe te trap.
Verder maak die wolke nat – en die Gamkasklowers oes.
Buiten heelwat perske en vyebome het Mostert en sy twee seuns ook 2 200 hanepootstokke.
Droëbone is ook een van die hoofprodukte wat deesdae in die kloof verbou word.
Mostert se twee seuns, P.G. en J.W. Mostert, is die kloof se grootste uieboere. Hulle plant heelwat vroeë uie, maar hul hoofinkomste is van uiesaad.
Wind lol ’n bietjie om baie van die uiesaad te laat uitslaan. Daarom plant hulle die bolle gewoonlik in klein lappies tussen die doringbome wat as ’n natuurlike windskerm diens doen. Dié twee boere alleen produseer elke jaar nagenoeg 1 600 pd. uiesaad. Hulle verkoop die saad teen R1 per pd.
Aan die oostelike kant van die Gamkarivier is die kloofboere net van die reën afhanklik. Daar is nie water vir besproeiing nie. Mnr. J.C. Cordier, een van die boere wat in dié deel van die kloof woon, is hoofsaaklik ’n bokboer. Hy het 450 morg bergveld waarop hy 180 bokke van die Boerboksoort aanhou.
“Nee, vanjaar lol dit met die droogte,” het hy aan Landbouweekblad gesê toe ons hom skemeraand in sy bokkraal aangetref het.
Hy was besig om boklammers van die een na die ander ooi te dra sodat elkeen darem ’n bietjie melk kan kry. Dié ooie wat die meeste melk het, moet help om hul swakker bedeelde susters se lammers kos te gee.
22 BRODE
Só hoort dit, want in Die Hel lewe almal vir almal. Toe die groot vloed verlede jaar die Gamka so vol gemaak het dat die kloofbewoners twee maande lank totaal van die buitewêreld afgesny was, is die beskikbare kos onder mekaar verdeel.
Maar wat die bokke van Cordier betref: Die lollery het ontstaan toe 37 van sy 40 lammerooie vanjaar op loop gesit het en voor die voet tweelinge gelam het. Een het glad heeltemal haar wysie verloor en ’n drieling die lig laat sien, sug hy.
Wat die vroue betref, sal die Gamkasklowers ook ver vir hul gelyke moet soek. Dieselfde dag na Die Hel en terug, is ’n bietjie
In Die Hel lewe almal vir almal. Toe die kloofbewoners twee maande lank totaal van die buitewêreld afgesny was, is die beskikbare kos onder mekaar verdeel.
te veel verwag. Daarom was die verteenwoordiger van Landbouweekblad een nag die gas van mnr. Willem en mev. Lenie Marais. Oom Willem is reeds 69 en tant Lenie 60. In dié kloof word ouderdom egter nie met tyd gemeet nie.
Tant Lenie is die vrou wat vir die amptelike opening van die pad 22 brode gebak het, dit self opgesny en gesmeer het.
DEKSELS VER
Voorts is sy die boer op die plaas. Elke oggend stap sy 4 myl ver na haar boerdery op Osberg. Daar het sy ’n paar landerytjies aangelê. Die hele dag woel en werskaf sy daar en stap die aand weer terug huis toe.
Sy het ook die netjiese huisie waarin hulle woon, self gebou. Haar antwoord op die vraag hoe ver dit deur die bopoort tot buite die poort is, was: “Ek weet nie. Hulle sê 8 myl. Ander sê 10 en sommiges sê 12 myl. Ek weet net dit is deksels ver, want ek kan dit nie onder 3 uur afstryk nie.”
“Landbouweekblad moet oor ’n jaar of wat kom kyk hoe lyk dit hier in die kloof,” is die mening van die meeste van dié boere. Vir hulle is die nuwe pad werklik ’n nuwe pad na beter en moderne boerderymetodes. In die verlede het sommige boere bakkies en vragmotors gehad wat buite die bo en onderkloof gelaat moes word. Nou is daar reeds tien motors in die kloof.
Die Gamkasklowers hoop net nie dat die pad ooit van die motors sal wemel soos die bergvoetpaaie dikwels ná die oes van die pakdonkies gewemel het wanneer daar tot 75 donkies op ’n slag by die eindpunt van die bopoort onder die doringbome gestaan het nie. Twee motors kan buitendien net op ’n paar plekke langs die nuwe bergpad van 22 myl by mekaar verbyskuur.