Landbou Weekblad 100
Al die veld is vrolik
Bye maak die boerdery soet, skryf Landbouweekblad in 1967. Deur die jare het die tydskrif lesers opgevoed oor insekte, voëls en ander bondgenote van die boer,
asook die land se plant- en dierlewe en natuurbewaring op die plaas.
23 Maart 1984 Dié eendpoot-geitjie is pure kop en oë! John Visser (ook die fotograaf) gesels in sy interessante rubriekreeks, Akkedisse van Suider-Afrika, oor alles van geitjies (soos die blinkogie, blaartoon en knopieskub) tot koggelmanders, verkleurmannetjies en skurwejantjies.
4 Junie 1968 Dr. Piet Roux se gesaghebbende rubriekreeks, Ken die Karoobossie, bespreek inheemse plantegroei: Van die bloublommetjie, biltongbos, vygie en tontelbos tot die bitterbos, sandsewejaartjie, Karoo-viooltjie, swartganna en grootspekbossie.
10 Augustus 1971 Die kremetartboom, só eie aan Suid-Afrika soos die springbok of die protea. Mnr. W.C.E. van Wyk van Louis Trichardt skryf in sy rubriekreeks, Bomeprag Uit Eie Bodem, oor die land se vernaamste inheemse sier- en skadubome.
20 Februarie 1968 Sedig sit die bidsprinkaan op sy prooi en wag. Tydens ’n proef het ’n wyfie binne twee maande agt sprinkane so groot soos syself opgevreet, asook 14 kleiner sprinkane, 36 vlieë en drie van haar eie mannetjies.
12 September 1967 Me. Jenny Durnford van Pietermaritzburg. Dit is lente en oral is bloeisels. Daarmee saam kom swerms bye. Die oordeelkundige boer beskerm nuttige insekte wanneer hy teen plae baklei.
30 April 1963 Mnr. Karl Stuhler van Johannesburg en sy breëkoparend. Hy hou die voël met ’n spesiale permit vir navorsingsdoeleindes aan. Roofvoëls is die boer se bondgenote en moet nie onskuldig geskiet word nie.