Van klein oesdag tot wêreldklasskou
Sowat 200 mense het die eerste Sampi-oesdag in 1967 bygewoon. Net meer as ’n halfeeu later is die Nampo-oesdag die grootste tentoonstelling in sy soort
in die Suidelike Halfrond, skryf Marieke Snyman.
Dit het “die drie musketiers van Bloemfontein” bloedsweet gekos om die eerste Sampi-oesdag op die plaas Donkerhoek buite Bloemfontein te reël. Skaars 200 mense het dit op 7 en 8 Junie 1967 bygewoon.
Die drie, mnre. Hannes van Wyk, Moos Haddad en George Stegmann, wou boere en masjinerievervaardigers by mekaar bring. “Daar was ’n wesenlike behoefte om trekkers en werktuie op ’n groter skaal te sien as wanneer slegs een maatskappy sy produkte op jou plaas kom demonstreer,” vertel Van Wyk later.
Die tekens vooraf was belowend. “Ek vertrou dat die oesdag nog eendag wêreldberoemd sal raak – soos die blommefees van Nederland, die Rynfeeste van Duitsland en Windhoek se karnaval,” sê dr. Willie Kotze, die eertydse direkteur van Sampi, ná daardie eerste oesdag.
Die volgende jaar was daar 600 besoekers en daarna het die oesdag vinnig gewild geword. Reeds in 1969 is dit uitgebrei na ander streke – onder meer na Standerton en Ottosdal – en in 1972 is ’n nuwe konsep bedink, naamlik ’n enkele, sentrale “oesdag”, maar wat oor vier of vyf dae sou strek.
Ook dít was in die kol. Die plaas Marthaville naby Bothaville in die Vrystaat is in 1974 as heeltydse oesdagterrein bekom omdat ongeveer 80% van die destydse mielieproduksiegebied binne ’n radius van 160 km vanaf
Bothaville geleë is.
Vandag is die Nampo-oesdag die grootste tentoonstelling in sy soort in die Suidelike Halfrond. Dit lok feitlik die hele Suid-Afrikaanse landbougemeenskap. Meer as 80 000 mense besoek dit en die 700 uitstallers kom van so ver as Hongarye, Brasilië, Pakistan en Kanada.
KLEIN BEGIN
Jean le Roux, wat tot 2010 hoof van promosies by Landbouweekblad was, het in 1967 die eerste oesdag in Bloemfontein bygewoon – en nóg 28 daarna – en onthou die beginjare só: “Die klem was baie meer op demonstrasies van werktuie, wat later jare beëindig is. Dit is ook onmoontlik om die eerste oesdae met vandag s’n te vergelyk. Alles het gegroei, maar dit beteken nie dat die oesdag in die verlede nie ook indrukwekkend was nie.”
Charl van Rooyen, ’n assistentredakteur van Landbouweekblad, het nooit gedink die oesdag sou só groot word nie. “Toe ek Nampo vir die eerste keer in 1974 as joernalis van Volksblad begin bywoon het, kon jy die terrein in een dag verken. Nou duur dit vier dae vir my en twee kollegas om elkeen ’n derde van die terrein te fynkam vir nuwe toerusting,” vertel hy.
In 1980 het Sampi en Samso saamgesmelt en die Nasionale Mielieprodusente-organisasie (Nampo) gevorm. In die bykans 20 jaar daarna het die Nampo-oesdag tot een van die bekendste Suid-Afrikaanse landbouhandelsmerke ontwikkel.
VERMAAK
“Die oesdag is een van daardie gebeurtenisse wat ’n mens nie durf misloop nie,” sê mnr. Japie Grobler, voorsitter van Nampo in 1996. “Oor dié paar dae is dit waar alles op die gebied van die landbou gebeur.”
Volgens mnr. Giel van Zyl, voormalige hoofbestuurder van Nampo én Graan SA, is die oesdagprojek meer as net dié inkopieplek vir boere, dit skep ook samehorigheid onder graanboere.
Dit was darem nie alles werk en geen tyd vir speel nie. Die Landman (voorganger van die tydskrif SA Graan/Grain) van 1974 berig: “Vir die aande is
1968 Meer as 600 besoekers woon die tweede Sampi-oesdag op mnr. Moos Haddad se plaas, Hopefield, by. FOTO’S: GRAAN SA, tensy anders vermeld.
daar vuurwarm vermaak. Dit sluit in ’n verskeidenheidskonsert, ’n kabaretvertoning en ’n oesdagbal.”
Van Wyk onthou hoe daar ná afloop van die vroegste oesdae se verrigtinge in ’n tent tot ligdag só gedans en jolyt gehou is “dat selfs die tent byna in die stof gebyt het”.
IETS VIR ALMAL
Die Nampo-oesdag het drie doelwitte, sê mnr. Jannie de Villiers, uitvoerende hoof van Graan SA. Eerstens help dit boere om meer volhoubaar te boer en groter wins te toon. Die jongste tegnologie word op een plek gewys sodat boere dit met mekaar kan vergelyk.
Dan is Nampo ’n geleentheid om netwerke te bou. Boere kan met mekaar praat. Leiers kan aan debatte deelneem. Die sektor kan probleme oplos en sy waardes vestig en uitdra.
Derdens is dit ook dié groot jaarlikse geleentheid om die landbou se beeld te bou. “Ons wil veral vir nie-landbouers wys hoe voedselsekerheid lyk. Dit wys op ’n baie fisieke manier hoe voedsel geproduseer word en wat dit kos om dit te kan doen,” sê De Villiers.
“Graan SA droom ook dat meer van die beleidmakers en politici Nampo kom besoek om hulself te vergewis waaroor hulle daagliks besluite moet neem.”
Wat in 1967 begin is as ’n geleentheid vir mielieboere om toerusting op een plek teen mekaar op te weeg, het gegroei tot ’n landbouhandelskou van internasionale formaat, waar jy van massawaens en stropers tot veehantering- en lugbespuiting-toerusting kan sien.
In 2016 het die uitstallersarea van Nampo-park 187 690 m2 beslaan. Daarvan is 17 060 m2 binnenshuis.
“Die oesdag is lankal nie meer net op die graanbedryf gefokus nie,” sê De Villiers.
“Ons verwag dat meer en meer diversifikasie deel van die toekoms sal uitmaak.”
Wild en vliegtuie word in 2014 in twee nuwe uitstallersafdelings gevestig. Die telersgenootskappe van 32 bees-, tien skaap-, ses bok-, twee perderasse en ’n varkras stal jaarliks uit.
“Graan SA se Nampo-oesdag maak ’n ander wêreld vir ’n mens oop,” sê mnr. Cobus van Coller, oesdagvoorsitter in 2012. “’n Boer se behoefte en fokus op sy plaas is elke jaar anders en onder hierdie groot oesdagsambreel is daar iets om elkeen se spesifieke behoefte te bevredig.
“Die oesdag spreek tot die breë publiek as verbruikers van ons landbouprodukte. Dit spreek tot alle produsente in ons land. Dit spreek tot besluitnemers in regeringskringe en die bedryf. Dit spreek selfs tot die internasionale arena en die groeiende belangstelling uit die buiteland bevestig dit.”
De Villiers meen solank die uitstallers waarde kan toevoeg tot elke boerdery, sal boere die oesdag bly bywoon.
“Suid-Afrika se boere staan in die wêreld bekend dat hulle die maklikste na nuwe tegnologie oorslaan. Dit het te doen met die feit dat winsmarges klein is en daar byna geen ondersteuning van die staat vir die landbou is nie. ‘ ’n Boer maak ’n plan’ is die gene wat dit aandryf. Die winsgewendheid van die landbou is onder groot druk en dit beïnvloed die mate waartoe nuwe aankope en beleggings plaasvind.”
Volgens De Villiers sal die uitstallers aanhou kom solank daar flink sake gedoen word. Uitstallers sal al hoe meer hul produk aan voornemende kopers wil demonstreer en wys hoe dit die boer se wins kan verhoog.
“Graan SA se knelpunt is om die infrastruktuur – water, krag en riool – op die terrein in stand te hou en só uit te brei dat ons meer besoekers kan huisves.” Die blyplek in die omgewing bly ’n beperking, asook die toegangsroetes tot Nampopark. Die vrye mark en winsgewendheid bly die dryfveer vir boere en vir uitstallers,” sê De Villiers.
INTERNASIONALE DEELNAME
“Talle lande sien Suid Afrika as ’n deurgang om sakebelange in Afrika te vestig,” sê De Villiers. “Die oesdag bied ’n geleentheid om vennootskappe aan te gaan.” Veral in die laaste dekade het internasionale belangstelling sterk gegroei:
’n Afvaardiging van Argentinië het in 2008 die eerste keer aan die oesdag deelgeneem. Dit ontwikkel tot ’n Argentynse paviljoen.
Sowat vyf Amerikaanse uitstallers neem sedert 2010 deel en produkte uit Australië word ook ten toon gestel.
Vanaf 2011 kom besoekersgroepe uit Afrika.
Teen 2012 vorm gesamentlike uitstallings vanuit Amerika en Argentinië deel van die oorsese uitstallers, met individuele uitstallers uit Pakistan, Brasilië, Italië en Denemarke. Meer as 45 internasionale uitstallers is teen 2013 by die oesdag betrokke.
In 2014 het internasionale afvaardigings uit Amerika, Argentinië, Brasilië, Denemarke, Frankryk, Hongarye, Italië, Israel, Indië, Kanada, die
Oekraïne, China en verskeie Afrikalande die oesdag besoek.
BOEREPLANNE
In 2018 het Landbouweekblad, Omnia en Graan SA nuwe lewe in die Boerepatent-kompetisie geblaas. Die tydskrif se weeklikse Boereplan-artikel dien nou as redaksionele aanloop daarvoor en dek alles van planne vir ’n ontsoutingsaanleg en ondergrondse besproeiingstelsel tot ’n elektriese kragvoermenger en afstandbeheerde wildvangnet.
“Die Boereplan-kompetisie is ’n wonderlike instelling op die oesdag,” sê Chris Burgess, redakteur van Landbouweekblad. “Om heeltyd planne te beraam, is immers wat boere enig in hul soort maak.”
NAMPO KAAP
In September 2018 het Graan SA die eerste Nampo Kaap by Bredasdorp aangebied. Altesame 16 000 skougangers het dié Overbergse landbouskou se vee-uitstallings, skeerdemonstrasies, wolboerprogram en jeugskou bygewoon.
De Villiers beskryf die tentoonstelling as ’n projek deur die gemeenskap, vir die gemeenskap en voorspel dat dit ’n hoogtepunt op die Kaapse landboukalender gaan word. “Die aanbied van ’n Nampo-landbouskou in die Kaap stel ook produsente wat weens seisoenale boerderyverpligtinge nie die Nampo-oesdag op Bothaville kan bywoon nie, in staat om ’n soortgelyke gebeurtenis op hul drumpel te ervaar,” sê hy.