Gooi mielies!
Wat sou ons oorgrootjies met hul eentand-ploeë en osse sê as hulle vandag kon sien hoe vinnig reuse-stropers derduisende hektaar mielies kafdraf? Vida Booysen kyk hoe
dié bedryf by die afgelope eeu se vooruitgang en terugslae aangepas het.
Mielies is meer as net stapelvoedsel vir mense en diere. Dit is deel van Suid-Afrikaners se kollektiewe bewussyn – van Sarie Marais se huis daar onder in die mielies by die groen doringboom tot die straatverkopers se uitroepe van “Mielie-e-s!” in ons stede. Mielies is deel van die Suid-Afrikaanse landskap, van die plattelandse dorpies wat in die somer deur lappe groen mielies omsoom word, tot die groot graansilo’s met die miljoene der miljoene mieliepitte daarin.
’N STADIGE BEGIN
Mielies is reeds in 1655 – skaars drie jaar ná Jan van Riebeeck voet aan wal gesit het – na die Kaap ingevoer onder die naam “Turchsche Tarwe”, maar dit aard nie goed in die Kaap nie. “Weens ongunstige omstandighede in die winterreënstreek is die gewas aanvanklik nie op groot skaal verbou nie,” berig Landbouweekblad in 1948 oor mielies se beskeie begin hier.
Eers in die twintigste eeu kom die bedryf op dreef. Mielies wat in Natal geproduseer is, word in 1907 uitgevoer en ’n jaar later volg mielies uit die Transvaal.
Met Uniewording in 1910 word mielies reeds na 16 lande uitgevoer, waaronder Kanada, Australië, Brittanje en Indië, en teen 1924 bereik dit meer as 165 000 ton. Die Mielieraad se eerste mielie-uitvoerkontrak met Taiwan word in 1973 gesluit vir die uitvoer van 1,2 miljoen ton oor ’n tydperk van drie jaar.
In 1952 verskyn ’n artikel in Landbouweekblad om ’n halfeeu van mielieproduksie in die Vrystaat te gedenk. Onder die opskrif “In die dae toe die mielies in die Vrystaat ingepik is”, word vertel hoe die Voortrekkers aanvanklik hul lande, net soos die inheemse bevolking, met die graaf en pik bewerk het. Mettertyd is die eerste ploeë ingespan.
“Ons ploeg was die no. 5 met potyster-rysters en skaar, en met ’n houtbalk en handsterte,” vertel een van die ouer boere oor die pioniersdae.
“Vandag se seun sal maar swaar kry om die ploeg te hanteer. Die eg was driekantig van hout en met houttande. Later het ons ystertande gemaak.” Die totale oes in 1904: 361 169 ton.
Mettertyd is nuwe mielie-kultivars met tipies Suid-Afrikaanse name, soos Boesman, Bothma, Voortrekker en Natal-agtry uit Amerikaanse teelmateriaal ontwikkel. Sommige Engelse name is verafrikaans. Anveld het Aandveld geword en in die ou Wes-Transvaal het boere Early King geplant, wat “Ingelsman” geword het.
Tot in die middel van die eeu word ingemaakte suikermielies hoofsaaklik uit Amerika ingevoer, maar toe word ’n inmaakfabriek op Germiston opgerig. In 1951 berig Landbouweekblad onder die opskrif “Suikermielies word oornag ’n gewilde oesgewas” hoe die afgeplukte mieliekoppe per vragmotor na die aanleg aangery word, want die pitte moet “dieselfde aand nog in die blik wees”. Al die verskaffers “woon nader as 50 myl van Germiston af”. Die plaaslike oes verdubbel en kwekers word £4 tot £4,10s per ton betaal.
PLAASLIKE KULTIVAR SE WELSLAE
Die eerste bekende private kweker was mnr. J.F.T. Mostert van Theana naby Balfour, ’n boer wat ’n M.Sc.-graad in Amerika behaal het en verskeie geslaagde kultivars, soos Kalahari Early Pearl, hier ontwikkel het. Blaai ’n mens deur die uitgawes van Landbouweekblad in die 1950’s en 1960’s, sien jy telkens advertensies waarin boere getuig van hul welslae met dié kultivar.
“Plant 25 sak en oes 5 000 sak” spog die opskrif van een van die advertensies.
Early Pearl was een van die eerste tweekop-kultivars in die land en het destyds bekend geword as een wat droogte goed kon deurstaan, sê dr. Wynand van der Walt, afgetrede hoofbestuurder van die SA Nasionale Saadorganisasie (Sansor).
In ’n artikel van 1970, waar
sku Mostert egter oor skroeisiekte wat die bastermielies in Amerika getref het. Hy wys daarop dat “eenvormigheid van saad” nie noodwendig die regte beginsel is nie omdat dié mielies nie aanpasbaar is nie.
Mostert vertel ook hoe hy sy kultivars oor 60 jaar ontwikkel het.
“Ek het nog nooit na Amerika gegaan om daar saad in die hande te kry nie. Ek het genoeg selfvertroue en weet ook hoe moeilik dit is om saad aangepas te kry. Wel het ek, toe ek verneem het van ’n mielie wat die Voortrekker Uys geplant het en al langer as honderd jaar op dieselfde plaas gekweek word, van daardie saad bekom en begin selekteer. Van dié saad het ek ander geteel wat ’n hoë opbrengs gelewer het.”
In ’n Landbouweekblad van 1966 word berig dat Mostert R1,2 miljoen van die regering ontvang het vir ’n plaas in Natal wat onteien is. Die berig meld dat dit die duurste grondtransaksie tot in daardie stadium was.
BASTERMIELIES BRING OMWENTELING
Die ontdekking van basterkrag – wanneer onverwante saadlyne met mekaar gekruis word – teen die einde van die negentiende eeu in Amerika was revolusionêr vir die bedryf. Plante wat meer mielies lewer en beter aangepas is, kon nou gekweek word, maar aanvanklik is sulke kruisings se saadopbrengs laag en is dit nie ekonomies lewensvatbaar nie, sê dr. Jan Greyling, dosent aan die Universiteit Stellenbosch.
Dit word in 1917 ’n stap nader aan kommersialisering geneem toe dubbel-kruisbasters ontwikkel word. In 1923 stel Henry A. Wallace, die stigter van die hedendaagse Pioneer Hi-bred-saadmaatskappy, die eerste kommersiële basters in Amerika bekend. In die Depressiejare van die 1930’s word dié saad se droogteweerstandigheid duidelik en teen 1964 vervang bastermielies hul voorgangers in Amerika.
“Suid-Afrikaanse mielietelers het nie op hulle laat wag nie en het reeds teen 1924 ’n plaaslike basterteelprogram begin,” sê Greyling. “Die aanvanklike vordering was egter stadig, met die eerste 13 sakke bastersaad wat eers teen 1949 aan plaaslike boere bekend gestel is.”
Greyling is veral vol lof vir die werk wat deur dr. A.R. Saunders en sy span in die 1950’s by die Potchefstroomse navorsingstasie gedoen is met basters wat die opbrengs van hul teenstanders met tussen 25% tot 30% oortref het.
In Suid-Afrika vervang bastermielies hul oopbestuifde eweknieë teen 1979. Die gebruik van bastersaad en ander tegnologieë maak dit moontlik vir Suid-Afrikaanse boere om mielieopbrengste vanaf 1950 tot op hede met gemiddeld 3% per jaar te verhoog.
In 1953 waarsku Saunders en ander kenners egter dat die landbougrond in die produksiestreek tussen Ficksburg, Lichtenburg en Belfast uitgeput kan word. Die opskrif: “As die Mieliedriehoek sterf, sterf Suid-Afrika”.
“Dit is verkeerd om jaar ná jaar mielies en mielies alleen op dieselfde grond te plant,” skryf hulle en moedig boere aan om wisselbou te beoefen en grond ’n paar jaar lank onder ’n grashersteloes te laat sodat “humus en lewe daarin weer opgebou word”.
TOE KOM DIE PRIVATE SAADMAATSKAPPYE
Sedert die 1960’s het die bydrae van private saadmaatskappye tot die mieliebedryf van krag tot krag gegaan. Ondernemings, soos Pioneer, Pannar, Sensako, Asgrow, Saffola en CibaGeigy, het die bedryf oor die jare gesteun.
Monsanto, wat sedert 1968 in die land is, het verskeie ander groot saadmaatskappye uitgekoop en teen 1995 die Dekalb-handelsmerk in Suid-Afrika bekend gestel.
Monsanto het op sy beurt in 2017 met Bayer saamgesmelt.
Die saadmaatskappy Pannar is in 1958 deur mnr. Brian Corbishley op die plaas Oakleigh buite Greytown in KwaZulu-Natal gestig. Hy was ’n uitsonderlike sakeman wat met sy maatskappye vir tienduisende
Ons ploeg was die no. 5 met potysterrysters en skaar, en met ’n houtbalk en handsterte. Vandag se seun sal maar swaar kry om die ploeg te hanteer . . .
mense werk geskep het. Sy mielieteelprogram het in 1960 begin om kultivars vir plaaslike toestande te skep.
Nóg ’n baanbreker-teler was mnr. Ian Jarvie, later hoof van Pannar – die eerste private maatskappy naas die staat wat bastermielies geteel het.
Jarvie en sy span het sterk in navorsing belê en teen 1967 is die eerste vier Pannar-basters goedgekeur. Die maatskappy het gegroei tot die grootste saadgroep in Afrika. Dit is in 2013 aan DuPont verkoop.
STORMAGTIGE JARE EN PRYSVASSTELING
Die jare vanaf 1960 tot 1980 is ook gekenmerk deur botsings met die staat oor die mielieprys: Die Mielieraad was die enigste koper en verkoper en die prys is deur die regering vasgestel. Die prys was eenvormig vir die hele land, ongeag waar die produk geoes of gelewer is. Nie al die lede van die Mielieraad was bona fide-mielieprodusente nie, sommige was verbruikers van mielies in wie se belang dit sou wees om die mielieprys laag te hou.
Die Mielieraad was ook verantwoordelik vir die reëlings om mielies uit te voer. In 1965 berig Landbouweekblad (“Mielieraad maak wins op uitvoer”) dat die Mielieraad verwag om ’n wins van R681 000 te toon pleks van ’n verwagte verlies van R3,2 miljoen. “Dit sal die eerste keer sedert 1954 wees dat die raad ’n wins op sy uitvoertransaksies toon,” lui die berig.
In 1966 stig ’n groep boere van Bothaville – onder wie mnre. Fanie Ferreira, Crawford von Abo, Hennie Delport en Giep Nel – die Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-instituut (Sampi) sodat boere groter beheer oor hul produk kan kry.
Sampi kry aanvanklik groot teenstand van die Suid-Afrikaanse Landbou-unie (Salu). Ná ’n versoeningspoging in 1975 skipbreuk ly, word die regeringsgesteunde Suid-Afrikaanse Mielieprodusente-organisasie (Samso) in 1976 gestig met mnr. Ben Wilkens as die eerste voorsitter.
Mnr. Hendrik Schoeman, die destydse minister van landbou, probeer deurentyd die twee groepe versoen, maar in 1977 bereik nóg ’n eenwordingspoging ’n dooiepunt toe Samso daarop aandring dat koöperasies ook stemreg op die stigtingskongres van die nuwe gesamentlike organisasie moet hê.
Teen 1979 word onderhandelings oor eenheid hervat en uiteindelik, op 3 Oktober 1980, word die nuwe verenigde organisasie, die Nasionale Mielieprodusente-organisasie, oftewel Nampo, gestig.
Schoeman se gewildheid as politikus was ongekend en sy kwinkslae word vandag steeds onthou, soos toe hy as minister van vervoer ná klagtes oor die kos op die SA Lugdiens se vlugte terugkap met: “Wil julle vreet of vlieg?”
Toe Schoeman in 1972 op die ouderdom 42 minister van landbou word, was hy reeds hoof van die familie se Schoeman-boerdery, ’n reuse-gesinsboerdery wat deur sy pa begin is. Hy het dus die slaggate van boerdery goed geken. Só is daar vertel dat hy ’n voorlegging aan die kabinet moes doen oor ’n hoër mielieprys. Teen die einde las hy toe sommer R1 per sak by die voorgestelde nuwe prys.
Toe mnr. John Vorster, die destydse eerste minister, hom daarna vra, antwoord Schoeman: “Ons wil die maer hond
’n bietjie wind gee.”
Vir mielieboere was die 1960’s ook ’n oorgangstyd na grootskaalse meganisasie. Dit het die behoefte laat ontstaan om trekkers en plaaswerktuie op ’n groter skaal onder werkende toestande te sien en vergelyk. Drie boere van Bloemfontein, mnre. Moos Haddad, Hannes van Wyk en George Stegmann (almal lede van Sampi), het op 7 en 8 Junie 1967 die eerste oesdag op Van Wyk se plaas Donkerhoek naby Bloemfontein gehou met agt uitstallers. Sedertdien het dié tentoonstelling sy permanente tuiste op Nampopark naby Bothaville gekry en stel dit internasionaal die standaard vir landbou-uitstallings.
DIE VRYE MARK IS HIER
Toe die beheerde bemarkingstelsel in die tweede helfte van die 1990’s afskaf word, moes mielieboere meteens hul eie bemarkings- en prysbestuur behartig. Met die instelling van die termynmark Safex (South African Futures Market), geskoei op die grondslag van die Chicago-graanbeurs, moes boere by die vryemarkstelsel inskakel.
Prof. Johan Willemse, ’n lid van die eerste Nasionale Landboubemarkingsraad onder voorsitterskap van prof. Eckart Kassier, beskryf dit as ’n moeilike tyd vir die landbou. Daar was vurige gesprekke, veral oor wat kommersiële boere as ’n groep ingevolge die wet kon doen.
“Mnr. Derek Hanekom, destydse minister van landbou, wou hê alle landboubemarkingsrade moes gesluit word en wit, kommersiële boere moes aan die mark blootgestel word,” sê Willemse. “Die indruk was dat kommersiële boere onregmatig bevoordeel is en dat dit hul markmag onbehoorlik versterk het tot nadeel van verbruikers en klein, opkomende boere.”
Die skielike oorgang na die vrye mark was waarskynlik een van die grootste skokke in die geskiedenis van die Suid-Afrikaanse landbou, maar Suid-Afrikaanse boere het die kwessie aanvaar. In Maart 1998 skryf Fritz Schlesinger: “Die mieliebedryf het sy eerste jaar in ’n vryemarkomgewing agter die rug en hoewel nog onvas op sy kindervoete, lyk dit asof mielieboere ook by dié nuwe speelveld en spelreëls aangepas het.”
Landbouweekblad publiseer in dié tydperk heelwat artikels om boere te help om dié nuwe stelsel te verstaan. In ’n artikel in 2001 verduidelik Carel Grönum hoe termynmarkte werk en hoe dit boere help om op lang termyn volhoubaar te wees. “In ’n vryemarkomgewing is dié markte noodsaaklik om met die prysbepaling van kommoditeite te help en gee dit die geleentheid aan rolspelers om prysrisiko te verskans.”
GMO’S IN DIE LANDBOU
Die 1990’s het ’n ander groot verandering gebring, naamlik geneties gemodifiseerde (GM) mielies. Internasionale saadmaatskappye het miljarde dollars belê in GM-tegnologie om saadkultivars te teel wat beter teen droogtes en siektes bestand is en hoër opbrengste lewer.
Hoe nuut en vreemd dié nuwe ontwikkeling was, blyk uit die eerste artikels wat oor genetiese modifisering verskyn het. In ’n Landbouweekblad van 1996 waarsku dr. Wynand van der Walt teen saad van “onsekere afkoms en gehalte”. Hy bepleit wetgewing wat nie te ingewikkeld is nie sodat die oorgang na dié nuwe bedryf ordelik kan geskied.
Genetiese modifisering is “waarskynlik die wêreld se beste oplossing om in die groeiende vraag na kos te voorsien,” haal Landbouweekblad ’n internasionale spreker by die SA Vereniging van Veevoervervaardigers in 1988 aan.
Selfs toe is reeds kennis geneem van die omstredenheid oor dié biotegnologiese oplossing. “Hoewel sommige groepe teen genetiese modifisering gekant is, het dit die potensiaal om die wêreld se graan- en oliesadeproduksie te verhoog sonder om meer grond daarvoor te gebruik,” het mnr. Nick Eicher, voorsitter van Tradico in St. Louis, Amerika, gesê.
In Junie 1998 word berig dat Pioneer Hi-Bred se geneties gemodifiseerde mieliesaad in die komende seisoen in Suid-Afrika aangeplant sal word. Die saad bevat die BT-geen wat dit teen mieliestamboorder bestand maak. “Dit kan mielieboere uiteindelik miljoene rande aan chemiese plaagbestrydingsmiddels bespaar,” lui die artikel.
’n Artikel in 1999 waarsku egter dat Suid-Afrika moet waak dat GM produkte nie nog ’n wapen word waarmee veral Europese lande en kopers ’n stok in die wiel van internasionale landbouhandel kan steek nie. Die Europese Unie aanvaar twee dekades later steeds nie veel geneties gemodifiseerde landbouprodukte binne sy grense nie.
Hier sorg die mieliebedryf egter dat miljoene Suid-Afrikaners elke oggend hul dag met ’n bord pap kan begin.