Landbou Weekblad 100

Ma en luiperd takel mekaar

-

Dit was ’ n dolle begin op Ceres. Voordat ek as jong dokter nog behoorlik kon uitpak, het die telefoon verskeie male gelui. Daar was ’n oproep van ’n man op ’n plaas, ver in die distrik, om te sê hulle bring ’n vrou hospitaal toe wat deur ’n luiperd aangeval is.

“’n Luiperd? Leef sy nog?” vra ek aan suster Van der Merwe van die verpleegin­rigting.

“Ja, maar sy’s kwaai gekrap,” antwoord sy.

“Wanneer sal sy hier wees?” “Oor sowat veertig minute, miskien gouer. Haar man, Van Rensburg, is pas hier weg met die bakkie. Hy’t gesê ons moet

die dokter laat weet hy is op pad. Hulle het die vrou in die kombuis gekry – die luiperd dood langs haar.”

Ek het die spreekbuis teruggesit en gewonder wat nóg kon gebeur. Miskien sou ’n trop olifante by Munnikstra­at afstorm, of miskien sou ’n spul bobbejane die hele stadsaal inneem.

Kort daarna het die bakkie met Marie van Rensburg aangekom. Hoewel sy haar bewussyn herwin het, het sy weens bloedverli­es aan skok gely. Haar geblomde rok was voor oopgeskeur en taai van die bloed.

Ons het haar in die noodteater ingedra, haar uitgetrek, die wonde skoongemaa­k en met die behandelin­g begin. Sy was so sestig jaar oud, maar met die fris, gespierde bou van ’n plaasvrou wat hout kap en swaar vragte dra. Daar was ernstige wonde op haar buik, maar gelukkig het hulle nie deur die maagwand gedring nie. Die ander merke was op haar bors, skouers en nek. Wonder bo wonder was haar gesig ongeskend.

Om die skoktoesta­nd te verlig, het ons plasma en inspuiting­s toegedien. Toe het ek stadig 57 wonde begin skoonmaak en heg. Terwyl ek gewerk het, het ek probeer ontsyfer wat gebeur het. Geen man kan eiehandig teen ’n luiperd veg en die dier doodmaak nie, wat nog te sê hierdie ou dame, hoe taai sy ook al mag wees. Nadat ek al die wonde toegewerk en die vrou in ’n private kamer geplaas het, het die man en hul seun my die storie vertel.

Hulle honde het die luiperd agtervolg tot by ’n grot en die seun is soontoe met sy geweer. Aan die geblaf van die honde het hy dadelik geweet die luiperd, wat van hul skape gevang het, was in die grot.

Sy pa het kom help en hulle het vuur gemaak voor die grot om die dier uit te rook. Skielik het die luiperd die grot uitgestorm met lang, hoë spronge, amper asof hy nie grond geraak het nie. Albei mans het na die dier geskiet en hom in die skouer en nek getref, maar nie een was ’n doodskoot nie.

Met die honde agterna het die verwonde dier by die kloof afgestorm op soek na ’n skuilplek.

Marie van Rensburg het die oggend botter gekarring en brood geknie. Sy het pas die brode in die oond gesteek, toe sy die honde hoor blaf. Sy is kombuisdeu­r toe net toe die luiperd die plaaswerf bereik. Kwaai verwond en moeg weens die bloedverli­es, het die dier koers gekies en laat spaander na die enigste moontlike skuilplek wat hy kon sien – die kombuis.

Marie het kwalik tyd gehad om die gevaarte te herken voordat dit haar bespring het. Sy het agteroor geval, die dier bo-op haar. Sy het haar sterk hande om sy keel gedruk en haar bene om sy agterlyf vasgeklem.

In hierdie moordende omhelsing het die twee op die kombuisvlo­er rondgerol terwyl Marie haar duime in die luiperd se gorrel ingedruk en die honde sy stert en ore probeer byt het.

Net toe Marie haar bewussyn verloor, het die dier slap geword en gevrek.

Mnr. Van Rensburg en sy seun het aangehardl­oop gekom. Hulle het Marie bewusteloo­s op die vloer aangetref, steeds in die vreemde omhelsing.

Nadat ek seker gemaak het mev. Van Rensburg was rustig, het mnr. Van Rensburg my by die deur ingewag om te betaal. Ek het gesê hy sal ’n rekening ontvang vir die hospitaalv­erblyf, maar dat hy my niks skuld nie. Suid-Afrika is gebou deur mense soos die Van Rensburgs. Ek kon net so min ’n betaling van hom eis as van my vader of oupa.

Uiteenlope­nde skrywers het die afgelope

eeu tot Landbouwee­kblad bygedra. Selfs die beroemde hartchirur­g dr. Chris Barnard het oor sy beginjare as

huisdokter op Ceres vertel.

Uittreksel uit Christiaan Barnard – Een Lewe, geskryf deur prof. dr. C.N. Barnard en Curtis Bill Pepper. Dié storie en ander uit Barnard se pen het in 1969 in Landbouwee­kblad verskyn met die vergunning van Tafelberg-uitgewers.

 ??  ??

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa