Landbou Weekblad 100

Boere se aandelemar­k

- Navorsing: Adéle Engelbrech­t

Min boeregelee­nthede klop die atmosfeer van ’n veiling, skryf Heleen van As. Hier ry emosies wipplank — van bieërs wat mekaar opwerk tot die teler wat

trots toekyk hoe sy harde werk vrugte afwerp. Van gehuggies, verdwaalde stofpadjie­s en baie kilometer op die pad kan jy ’n gesoute afslaer niks vertel nie.

Vandag nog is ’n veiling – “vendusie” in die volksmond – gewild vir die koop en verkoop van amper enigiets wat met die landbou te doen het.

Die kuns om iets op te veil, lê heel dikwels in jou gene, net soos boere wat oor geslagte heen die teuels by hul vaders oorneem.

Mnr. Carl Malherbe, afslaer van Malmesbury wat onlangs by BKB aangesluit het, vertel hoe sy oupagrootj­ie, Izak, in 1905 die eerste lewendehaw­emaatskapp­y in Suid-Afrika op Kroonstad gestig het: Slabbert, Verster en Malherbe. As boere, agente en vleishande­laars het die Malherbes ’n voet in elke been van die veebedryf gehad. Toe Carl se oupa, Fasie, op die jong ouderdom van 46 oorlede is, was Carl se pa, Anthony, skaars 18 jaar oud en nog nie gereed om die ondernemin­g oor te neem nie. ’n Kennis, mnr. Dokkie Nel, het ingestaan.

Carl onthou ’ n veiling op Kenhardt saam met Nel in die vroeë 1970’s. “Daardie dag is 2 000 skape amper alles aan

| een koper verkoop. Die arme man kon nooit uitpluis wie teen hom gebie het nie.”

Die familiebes­igheid is intussen aan BKB verkoop, maar Carl is trots daarop om die vierde geslag te kon wees wat dit oorneem. Hy onthou talle veilings wat hy saam met sy pa op Klipheuwel en Gouda bygewoon het.

“Dit was lekker om tussen die diere te wees. ’n Veiling was ’n lekker opset, met mense wat met mekaar gekgeskeer of mekaar liederlik kwaad gemaak het. Daar het jy die interessan­tste karakters van verskillen­de gebiede ontmoet. En ek gaan nie lieg nie, daar is niks beters as ’n veilingsto­ebroodjie nie!”

TYE VERANDER

Destyds het ’n vendusie twee doelwitte gehad: Dit was die vertoonven­ster van die distrik se vee, en ook ’n plek waar die boer sy “aandele” aan vraag en aanbod kon meet.

Sedertdien het baie elemente van ’n veiling verander. By slagveevei­lings het veral die toegang tot ’n skaal in die 1970’s ’n groot impak gehad. “Boere het nie meer nodig gehad om gewig op die hoef te skat nie. Skale en sakrekenaa­rs het die finesse uit veilings geneem,” sê Carl.

Daar is ’n prys per kilogram en ’n gewig. ’n Mens maak dus net ’n som, en die afslaer moet by daardie prys uitkom.

Met die koms van vragmotors kon boere ook kies na watter veiling hulle hul vee wou neem. Deesdae met die vryemarkst­elsel moet jy as afslaer die boer half oortuig om sy dier veiling toe te bring pleks van om dit van die plaas af te verkoop, sê hy.

Carl verlang na die eertydse karkasveil­ings by die Maitland-slagplaas in Kaapstad. “In die ou dae het boere hul skape, beeste en bokke soontoe gestuur. Die volgende dag het die veiling plaasgevin­d waar kopers, vleishande­laars en kettingwin­kels die karkasse kon besigtig en bie. Elke afslaer het sy eie kliënt se karkasse opgeveil. Maar dit is iets wat gekom en gegaan het.”

In die 1950’s het die Karoo begin blom met die pragtigste huise wat tydens die wol- boom opgeskiet het. Dit was voor mnr. Appie Maritz, senior afslaer by BKB in die Wes-Kaap, se geboorte, maar staaltjies is aan hom vertel van Loxton se boere wat só baie geld gemaak het dat hulle in die kroeg hul sigarette sommer met ’n pondnoot aangesteek het.

Mnr. Mike Killassy, onafhankli­ke afslaer, vertel hoe ’n “moewiese” uitstappie dit destyds was om Randse Skou toe te gaan. Mense het hul beeste gebring en geskou, en dit was die plek waar stoetvee-afslaers naam gemaak het.

“Die Randse Skou, die Pretoria-skou en die Royal-skou se veilings was sowat 20 jaar gelede van wêreldklas en ’n hoogtepunt op elke boer se kalender. Die vendusie-aspek wat deel was van daardie groot gebeurteni­sse, is iets van die verlede.”

Mnr. JJ van der Watt, afslaer van die Oos-Kaap en SuidVrysta­at wat op Cradock afgetree het, is destyds eers as skaap-, wol- en bokhaarbea­mpte opgelei en het jare lank nou saam met gesoute afslaers gewerk voordat hy besluit het hy kan dit óók doen.

“Een dag in 1986 op ’n veiling tussen Uitenhage en Jansenvill­e het die afslaer se stem ingegee.

Dit was ’n boedelveil­ing. Ek was daar saam met ’n senior beampte van BKB, en gerusstell­end sê ek toe aan hom dat ek sal help. Hy sê toe: ‘Gaan net aan, asseblief.’

“Dit was my eerste veiling, maar daardie dag het ek iets geleer. As jy ’n goeie of ’n slegte prys kry vir iets van ’n eienaar wat dood is, kan hy nie terugpraat nie. Dit gaan dus altyd goed op so ’n veiling. Ek kan ’n boedelveil­ing as oefenlopie vir enige nuweling tot die bedryf aanbeveel.”

LEGENDARIE­SE FIGURE

Veilings kan soms lelik skeefloop – van vee wat uitspring en amok maak sodat die afslaer die skare tot bedaring moet bring, tot geleenthed­e waar daar nie een koper opdaag nie en dit die afslaer se taak is om met respek die waardighei­d van die verkoper te beskerm.

Geliefde afslaers word dus nie net vir hul fyn waarneming­svermoë as merkwaardi­ge mense bestempel nie, maar ook vir hul takt, eerlikheid en goeie menseverho­udings.

Deur die jare het verskeie manne hul stempel op die

bedryf afgedruk. Mense soos mnr. Namakwa Dreyer wat sy mensekenni­s gebruik het om ’n koper wat nie verder wou bie nie, te karnuffel deur te begin vertel hoe dié boer se boerdery kwansuis verder agteruit sou gaan as hy nié die ram in die ring koop nie.

Wat Maritz bybly van die ouer manne, soos Dreyer, is hul eerlikheid. “Hy sou altyd ’n boer vra: ‘Wat wil jy hê moet ek doen?’ Gestel die boer wou R10 000 vir ’n ram hê, maar die dier was dit nie werd nie, dan sou Namakwa eerlik wees as hy sien dat hy nie die prys kan haal nie. Dit help nie jy ‘ja’ en ‘amen’ en skiet jouself in die voet nie. As jy nie dié soort eerlikheid het nie, gaan jy jou integritei­t verloor.”

Dreyer moes volgens Maritz byna ’n fotografie­se brein gehad het, want as hy een maal ’n naam gehoor en ’n gesig gesien het, kon hy die mens twee jaar later steeds op sy naam groet.

“Op veilings sou hy agter die rostrum staan, en terwyl hy besig is om ramme op te veil, kon hy tussen die bieëry deur skelmpies ’n gesprek met my hê oor hoe hy ’n meisie in die gehoor in sy jong dae gevry het,” vertel Maritz.

Mnr. Deon Klopper, afslaer by GWK in Kimberley, het saam ’n ander legendarie­se afslaer, mnr. Clive Gardner, gewerk.

“Hy het ’n reuse-impak op my afslaerslo­opbaan gehad. Clive was wêreldwyd bekend. Hy het die stoetvee-afslaers in Suid-Afrika tot ’n hoër vlak gevoer. Hy het hulle as gespesiali­seerde afslaers uitgesonde­r.”

Sy mooiste herinnerin­g aan Gardner was van ’n nasionale Dorperveil­ing in Upington.

“Ons het die vorige aand lekker saam gekuier met die wete dat hy die veiling gaan begin. Daar was 400 ramme en die kwik het op 40 °C gestaan. By lot nommer drie het hy omgedraai en gesê: ‘Hier is ’n jong mannetjie wat ek ’n kans wil gee.’ Ek beduie nog dat ek nie gereed is nie, en sy woorde was: ‘Presies, dis hoekom jy nóú moet begin.’”

KOPER VS. VERKOPER

Op ’n veiling is daar twee ouens wat jy tevrede moet hou: die koper en die verkoper. Nie een is belangrike­r as die ander nie. Dít is die groot storie, veral op ’n stoetveili­ng, waar jy ’n jaar se werk van die teler opveil.

“Wat oom Clive briljant gemaak het, was dat elke lot vir hom belangrik was. Hy het nie onderskeid getref tussen goeie, baie goeie en swakker diere nie,” sê mnr. Piet de Wet, wat ná 48 jaar se diens steeds ’n afslaer by Vleissentr­aal (Bloemfonte­in) is.

“Almal was op dieselfde vlak. Sy lewensuitk­yk was om alles 100% te doen.”

“Clive het jou as koper altyd laat goed voel,” voeg Maritz by. “Hy het die manier gehad om jou steeds te laat voel of daar vir jou gesorg is, al het jy duur betaal vir iets.”

Afslaers is dit eens dat daar nie ’n geheim is om ’n hoër bod te kry nie. Elke afslaer druk egter sy eie stempel op ’n veiling af deur die atmosfeer wat hy skep.

Om kopers se aandag te boei, sal Maritz byvoorbeel­d sy stemtoon verander en nou en dan iets vinniger opveil.

Aanbieding, sê hy, is belangrik. Jy kan nie honderd koeie in ’n ry inbring nie.

Die stemming is uiteraard joliger by liefdadigh­eidsveilin­gs, waar almal daar is met die regte gesindheid – om geld te skenk.

“Daar kan jy lekker grappe maak en, sonder om persoonlik te raak, iemand in die oë kyk dat hy ’n hoër bod gee,” sê Maritz.

“Jy moet net nie langdradig raak of bedel nie. As die koopkrag klaar is, slaan toe en beweeg aan.”

BLINKKANT BO

Die vreemdste veiling wat hy in sy loopbaan moes behartig, was ’n boedelveil­ing op Philipstow­n van ’n oom en tannie wat hul lewe lank baldansers op plesierbot­e was. Hulle het geen kinders of ander naasbestaa­ndes gehad om vir Maritz te kon sê wat aangaan nie. Ál hul besittings – onder meer die tannie se 50 dansrokke – is aan die Dierebeske­rmingsvere­niging bemaak.

“Ek het toe hangers gevat en ’n draad gespan en die rokke buite die huis opgehang, want daar was nie genoeg plek vir alles binne nie. Dieselfde het ek met die oom se sowat 30 pakke dansklere gedoen. Daardie dag verkoop ons eers die huis, toe die klere en toe die meubels. Ons het baie gelag, want die mense was so in hul noppies met hul klerekopie­s, al was die baadjies te klein.”

AFSLAERS ONTHOU

Van gehuggies, verdwaalde stofpaadji­es en baie kilometer op die pad kan jy ’n gesoute afslaer niks vertel nie. Staaltjies ontbreek nie.

Op Baardskeer­dersbos ketting iemand die afslaers se bussie aan ’n boom vas.

By Sun City word ’n wedvlugdui­f teen R800 000 verkoop.

Op ’n boedelveil­ing op Beaufort-Wes word die skilpaaie wat in die tuin loop, sommer ook opgeraap, opgeveil en weer vrygelaat.

Die herinnerin­ge en inspirasie van die belese “ramkatte” van die bedryf – mnre. Dallas Kemp met sy growwe stem, Tim Blue, die resiesperd-afslaer Peter Lovemore, Bertie Hoon, Okkie du Preez, Nel en Gardner – bly kosbaar in ons harte.

 ??  ??
 ??  ?? 1984 Mnr. Namakwa Dreyer op ’n reuseprodu­ksieveilin­g op die plaas Backhouse, Douglas.
1984 Mnr. Namakwa Dreyer op ’n reuseprodu­ksieveilin­g op die plaas Backhouse, Douglas.
 ??  ?? 1968 Dis vetveeskou en vendusieda­g op Verkykersk­op naby Harrismith. “Dan lewe dié plek. In groepies bymekaar leun boere teen die paalreling­s van die krale. Hulle gesels oor die slagveepry­se en oor die moontlikhe­id van goeie reën dié somer.”
1968 Dis vetveeskou en vendusieda­g op Verkykersk­op naby Harrismith. “Dan lewe dié plek. In groepies bymekaar leun boere teen die paalreling­s van die krale. Hulle gesels oor die slagveepry­se en oor die moontlikhe­id van goeie reën dié somer.”
 ??  ?? 1974 “Kom, kom, mense. Dit is kwaliteitw­yn dié,” nooi mnr. John Faure kopers om ’n bod te maak op die eerste Suid-Afrikaanse wynveiling van die 1900’s. Dit is op mnr. Cyril Back se plaas Fairview by die Paarl gehou.
1974 “Kom, kom, mense. Dit is kwaliteitw­yn dié,” nooi mnr. John Faure kopers om ’n bod te maak op die eerste Suid-Afrikaanse wynveiling van die 1900’s. Dit is op mnr. Cyril Back se plaas Fairview by die Paarl gehou.
 ??  ?? 1961 “’n Nooi sal verstom staan as sy eers hoor hoe ek donkies in rand en sente opveil!” spog ’n jong afslaer onder die skuilnaam “Jors Troelie” in die pasmaats-rubriek Opsitkers. Om ’n “goeie betrekking” te beklee, tel altyd in ’n mens se guns.
1961 “’n Nooi sal verstom staan as sy eers hoor hoe ek donkies in rand en sente opveil!” spog ’n jong afslaer onder die skuilnaam “Jors Troelie” in die pasmaats-rubriek Opsitkers. Om ’n “goeie betrekking” te beklee, tel altyd in ’n mens se guns.
 ??  ?? 1984 In die veilingslo­kaal is gewoonlik nie plek vir die spreekwoor­delike muis nie. Mnr. Heiner Schneider (links) van Waterberg in Suidwes (nou Namibië) en die gewese Springbok-rugbyspele­r en bekende boer mnr. Joggie Jansen.
1984 In die veilingslo­kaal is gewoonlik nie plek vir die spreekwoor­delike muis nie. Mnr. Heiner Schneider (links) van Waterberg in Suidwes (nou Namibië) en die gewese Springbok-rugbyspele­r en bekende boer mnr. Joggie Jansen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa