Daar kom die wa!
Die gloriejare van muile en trek- en karperde is nie meer nie. Tog loop stories nog sterk
oor kleurryke karakters en die plaas- en skoulewe van weleer, skryf Hennie Basson.
Stuur tog vir ons “perde wat ons net so nodig as brood het”, het Jan van Riebeeck destyds by sy base in Nederland gesmeek. Dit was in sy tyd dat die wiel vir die eerste keer hier te lande begin gebruik is.
Dankie tog Jan van Riebeeck het sy eerste “boerewagen” laat bou en dit met ses perde vooraan op ’n verkenningstog gestuur in die rigting van die “gebergtes van Afrika”, soos hy die blou plooiings aan sy oosterkim genoem het. Want só is die grondslag gelê vir die perde- en trekperdbedryf waarsonder die ontstaan en groei van die landbou, soos ons dit vandag ken, dalk nie moontlik sou gewees het nie.
Selfs tot sowat ’n eeu gelede was perde en muile nog die boer se belangrikste vervoermiddel en kragtige werkers op die plaas – onder die saal, of ingespan voor ’n kapkar, molwa of ploeg.
Geseënd is die ou strydrosse wat eens gesien en beleef het waarvan vandag se kinders nie die vaagste benul het nie: Die dorsvloer, kafmied, selfbinder of gerwewa met ’n span muile vooraan, die belewenis van die bruin aarde wat in wingerdrye en op graanlande oor die snyende ploegskare krul. Of geluide uit ’n vergange tyd, soos die gekap van die koggelstok op die disselboom en die fluit-swaaie van ’n sweep oor die ingespande diere se koppe heen.
GEWIGTIGE FIGURE
Met “onthou jy nog die dae . . .?” begin dit gewoonlik . . . oor die tye van handel en kwansel in perde en muile, die geheulery met beoordelaars, of oor die nukke en grille van ou gerekendes in die bedryf. Soos die eksentrieke “boere-Jode” van die Goudstad, uit die 1960’s.
Dit was Joe en Sam Brown, uitgevat met bowler hats en gestyselde boordjies wat met hul ingevoerde Hackneys in die hoogste versnelling op skoue die mees gesoute boertjies in hul eer gekrenk het.
Hierdie twee oujongkêrels was so “anders” as hul perdevriende. Vir die feit dat Joe, ondanks sy goeie kennis veral van karperde, nie in sy jare as beoordelaar die perde onder beoordeling kon onthou nie, het hy tog ’n slim plan beraam.
So byna ongemerk het hy ’n boek met getekende prente van perde as hulpmiddel na vore gebring. Wanneer hy ’n spesifieke perd op die baan wou onthou (soos een met ’ n opvallende kenmerk, soos wit pote), het hy dit met ’n pen of potlood by ’n sekere prentjie aangedui.
Daar was inderdaad hande vol karakters: Lodie Wessels van Hertzogville wat weens sy kort humeur op skoue liefs vir vroulief Gertruida omgepraat het om al die dryfwerk te doen. Ook Dik Frik, Groot Peet, Ronde Bertus en die Patatte. Voorwaar gewigtige perdefigure! En Piet Advokaat Serdyn, die wandelende ensiklopedie van ou perdestories.
“Onthou julle nog so teen 1954 was daar agt spanne op Goodwood,” sal ’n geselsmaat sê. Om dan in die rede geval te word met: “Nee, ou vriend, daar was méér – daar was tien spanne.” En die beterweterige wat ’n laaste woord inkry: “Was dit dan nie twaalf of dertien nie?”
O, DIE DONKIE!
Wie praat nog oor die wamakersbedryf toe duisende perderytuie in ’n stadium maandeliks in die Paarl aanmekaar getimmer is? Gaan soek ook verniet op ’n biblioteekrak na ’n boek oor die poskoetsdae met sy struikrowerye en ander ontberinge.
Daarin het veral ook muile
of esels (soos hulle ook destyds bekend was) ’n sentrale funksie gehad. Vóór meganisering en sedert verskeie veredelde perderasse die land oorvloei en op plase veral vertroetel is, was dit immers die sweetwasems van dié gewillige werkers wat bokant die wingerde en die braaklande uitgeslaan het.
Moet ook nie glo dat hulle dommer as ’n perd is nie – al is hulle op die oog af vir baie mense maar net ’n donkie.
“Hulle is dalk net koppiger,” kon die legendariese Gawie Vlotman jou vertel. Dié oom wat met ’n span muile of perde ’n Kaapse draai op die spreekwoordelike tiekie kon maak.
Wanneer die Vlotman-seuns met hul pa se spogmuil, Duiker, in die wingerde geploeg het en die fabrieksirene naby hul plaas in Daljosafat om twaalfuur die middag loei, het sy so vanself in haar spore vasgesteek en dadelik ’n ommekeer in die wingerdry gemaak.
Die kinders het gewonder hoe Duiker so binne sekondes kon reageer nog voor hul pa sy peits op haar kon gebruik.
Eers later het hulle agtergekom dié listige merrie het sowaar al die tyd die skaduwee van sy handbewegings op die grond dopgehou.
Só kon sy dus betyds vooraf sien wanneer hy haar met die sweep gaan bykom!
VAN HEINDE EN VER
In daardie vervloë dae was omtrent al wat stedeling of dorpenaar gaande om by te wees wanneer die muilspanne se swierige esse grasspriete uitslaan en stofwolke oor skoubane laat hang. Toeskouers het veral by die Bolandse skoue in hul honderde opgedaag om hierdie mooi-maar-beneukte diere aan te moedig.
Die ware “muilkonings” tot in die 1950’s was veral die Louws en Lombards van Hermon en die Smitte van Piketberg.
Ook die Du Toits van Caledonsgift met hul vosmuile, maar nog talle ander.
Nie net is met agt muile voor ’n wa op skoue meegeding nie, maar veral later ook met spanne perde. Toentertyd was die Rosebank-skou in die skadu van Duiwelspiek – en later Goodwood – die éintlike saamtrekpunt van hierdie spanne in die tuig.
Toe plaaswerk vir die trekperde begin uitsterf, het sommige telers nog hierdie tradisie voortgesit. Ná Uniewording het selfs die staat swaar trekperde die land ingebring. Rasse van alle kleure en formate – vlugvoetige Hackney-karperde, Friese, Vlaamperde, Hackneyponies tot kragtige Engelse veerpootrasse, soos die Shire en Clydesdale en die Franse Percheron.
Hulle het sedert die eerste helfte van die vorige eeu verseker
dat skoue ’n kosmopolitiese affêre geword het.
Die Wes- en Suid-Kaap was tot dekades gelede nog die mekka van trekperde. Maar toe verskyn Piet (Bedryf) Botha op die toneel – só genoem omdat hy nog altyd ’n onweerstaanbare begeerte gehad het om ál die landboubedrywe wat hy aanpak, net groter as die voriges te maak. Die gevolg daarvan was ’n ongekende eksodus van Friesperde na die noordelike provinsies.
Met die groot Friesperdghoeroe, Pieter (Dag-en-Nag) Loubser, as raadgewer het Piet sowat 30 jaar gelede ’n groot gaping in die perdemark gesien, lorrievragte vol van hierdie “swart legendes” aan die Bolandse kant van die Hexrivierberge gekoop en noordwaarts na sy plaas in Noordwes aangery. Daar, op aangeplante weidings, het hy in ’n stadium tot 450 van dié “lewende legendes” gehad wat selfs toerismewaarde toegevoeg het!
Van toe af was daar geen keer aan die trekperdopbloei in die sentrale en noordelike provinsies nie, selfs al word hierdie perde nou ook al hoe meer in ander perdedissiplines gebruik.
WIND EN WEER
Gerekende trekperdskoue is trillende ervarings en kuierplekke by uitstek. Soos die een op Moorreesburg, waar die dawerende lagbuie van SA Vlaamperd-plesieriges tot laataand teen die hoë bloekombome opklink. Selfs die hewigste reënbuie wat in die vroeë lente op Tulbagh se skou uitsak, kon nog nooit die geesdrif dáár demp nie. Op Beaufort-Wes weer, wanneer die knapste Hackneys jaarliks daar wedywer, kan die Karooson behoorlik steek.
Eweso is die binnenshuise skou wat deesdae op Parys gehou word, ’n gewilde saamtrekplek vir trekperdgeesdriftiges vanuit alle windrigtings.
Hoewel die jaarlikse Bloemskou in die Rosestad veral vir sy bekoorlike perde onder die saal bekend is, is die gejil ook groot wanneer van dié perde en ander rasse die karwieletjies in die enkeltuig- en siertuigklasse laat rol.
Stadsjapies wat hulle verwonder aan die hoogtrappers wat die skoubaan binnestoom wanneer die arenahek oopgegooi word, het nie die vaagste benul van die dae of selfs weke lank se geskarrel op die plaaswerwe wat dié skouspele voorafgaan nie.
Dit is beslis nie net vir opsaal en inspan nie. Die diere word lank voor die tyd ingeoefen, daarná gepamperlang, die “trekgoed” moet geïnspekteer en die tuie gewas en ingesmeer word – toentertyd nog met warm beesvet – en in wit bollings word dit eenkant geberg vir die gróót vertoon.
Vir die dorpsmense was die eerste gerunnik van die skouperde op pad na die skouterrein so asof die sirkus weer dorp toe kom. Vir die boere en hul gevolg – die stalmanne en leiselhouers – was dit ook die enigste groot plaaswegbreek van die jaar.
Op Steynsrus het Peet Crous en sy pa lank voor die tyd reeds by die stasiemeester gaan kuier om hul treinwaens na Bloemfontein te bespreek. Dit was nie net vir hul Hackneys nie, maar sommer vir al wat skoudier is wat hul plaas kon voortbring – Afrikaners, Ayrshires, SA Vleismerinoskape, Landrasvarke en selfs skou-eende.
Met hul Tames-lorrie is die werksmense vervoer, asook proviand vir byna twee weke. Selfs beddens, kombuis- en klerekaste, ’n yskas en natuurlik die bielie van ’n tent waarin dié groot gesin moes oorbly. Dan moes daar ook nog plek wees vir ’n melkkoei!
ONBESONGE HELDE
In die binnekringe van die trekperdgenootskappe kon die drifte soms oorkook. Hier was mense wat reguit, sonder omhaal, hulle sê wou sê. Sterk figure, soos Ben Mostert van Oranjeskraal, Moorreesburg – die legendariese trekperdpionier wat op ’n keer 80 van sy perde op die plaaslike skou ten toon gestel het!
Toe hierdie “vader van die Friesperd” in Suid-Afrika in die 1970’s aan my vertel dat hy só lief vir sy perde was dat hy dit ná sy heengaan aan niemand sou nalaat nie, was sy bisarre plan omtrent ’n scoop. Veral toe hy sê hy gaan dit in sy testament laat beskryf dat hulle reguit slagplaas toe gestuur moet word!
Danksy Landbouweekblad veral is hierdie voorneme van die ou perdemeester toe in só ’n mate die land ingedra dat dit die perdewêreld behoorlik geskok het. Genadiglik het Ben van sy ongewilde plan afgesien.
Só lief was Jan Eksteen van Uitkyk, Agter-Paarl, weer vir sý perde dat hy sommer maklik vir byna ’n week lank in die stal geslaap het by ’n perd wat siek was! Nooit het hierdie groot eksponent van die agtperdespan dit oor sy hart kon kry om met die sweep onder hulle in te klim om hulle beter te laat vertoon nie.
Selfs al was die aandrang van die Bloemskou se organiseerders gróót dat hy sy beroemde span Friesperde dáár moes vertoon, kon Jan dit nie oor sy hart kry om dié lieflinge van hom aan die lang rit vanuit die Kaap bloot te stel nie.
Vir sy prestasies met spanne van agt, maar ook met hand- en ander tuigperdkampioenskapskoue, het hy die silwer bekers en trofeë behoorlik ingeryg.
Ek het in ’n stadium by die 400 blinkgevryfde bekers en trofeë getel!
Kort voor hy op 90 jaar oorlede is, was hy steeds op die wakis van sy rammelende wa op skoue te sien. Jan was oor ’n driekwart eeu as koetsier altyd die man met die sweep en in beheer van die briek. Langs hom sy hoofleiselhouer en agter op die wa nog twee of meer manne om die span verder te beheer. Sonder Josop Martin en Joos van Wyk, sy onbesonge helde, sou sy prestasies sekerlik nie moontlik gewees het nie.
Só was daar ook talle betroubares wat bekende gesigte agter
op al wat skouwaens van ook ander gesoute skouvertoners was – Albert Present en Klaas Brink van Oranjeskraal, Man April van Doornfontein, Jan Brink van Hooikraal en vele ander.
Baie van hierdie staatmakers was ook top-staljongens en -drawwers wat perde voor die beoordelaars moes laat pronk. Dan was daar ook die wamakers, tuiemakers, hoefsmede en talle ander “onbekendes” waarsonder die skousimfonie nie tot uitvoering gebring kon word nie.
STOF TOT STOF
Dit was juis met die wa-spanne dat van die onverskrokke vertoners vir benoude oomblikke op skoue gesorg het. Dié staaltjies laat steeds die manne kraai.
Daar was die manne wat eenvoudig nie ’n pak kon vat nie. Só was dit ook die dag op Heidelberg met ’n ervare vertoner wat uit blote woede vir die beoordelaars sy span perde te kort laat draai het. Die tuie het meegegee en hy het met die verwilderde diere op die bloekoms langs die baan afgepeil.
In dié chaos het die disselboom gebreek en die wa het in ’n stofwolk tot ruste gekom. En dít net omdat sy Hackneys deur ’n span Vlaamperde die loef afgesteek is!
Daar was ook die tafereel wat hom by ’n ander geleentheid afgespeel het. Dit was toe twee broers hulle vooraf in oormaat aan te veel versterkinkies vergryp het en ná die beoordeling eenvoudig net nie hul span muile by die arenahek kon uitkry nie.
Só al om-en-om die baan het hulle onverstoord voortgekruie. Die herhaalde smeekbede oor die luidsprekers om die baan te verlaat, was vir dowe ore. Oor en oor is die ovaalbaan as ’t ware verder uitgetrap.
’n Jong Willem Smith moes manalleen vir al wat lewe agterop die wa aan die bondel leisels klou tot ’n weldoener darem later nader gehardloop het om die spulletjie tot bedaring te bring.
Op enkele uitsonderings na het wedervaringe soos dié saam met die lewensloop verbygegaan. Op die vergeelde bladsye van jare gelede se uitgawes van Landbouweekblad, toe kleurfoto’s nog in die verskiet gelê het, word baie van dié herinneringe darem lewend gehou.
En op afgeleë plase, tussen ou familiefoto’s teen ’ n muur, is gelukkig nog enkele “kunswerke” van die onvergeetlikes in perdefotografie, naamlik Jan Genade en Bennie van Lingen. Net tot ook dít eendag stof op ’n solder sal vergaar . . .
Hennie Basson is ’n oudredaksielid van Landbouweekblad en skrywer van die boek Trekperdpioniers van Suid-Afrika 1906-2006.