Wie is Manie?
Siektes, plae en rampe is ouer as Suid-Afrika self. In Landbouweekblad van
12 Maart 1952 gee dr. Theo Gerdener ’n oorsig van die ergste terugslae.
1650’S: BRANDSIEKTE
Een van die grootste en eerste rampe wat die Suid-Afrikaanse veeteelt tref, eis in Van Riebeeck se tyd sy slagoffers: “De schurft”. Meer diere is waarskynlik daaraan verlore as aan enige ander siekte wat in die eerste tweehonderd jaar sy verskyning in Suid-Afrika gemaak het. In sommige kuddes vrek vier uit elke vyf skape, en later beeste ook.
1746: SPRINKANE
Van Riebeeck het ook met sprinkane as verwoester van oeste kennis gemaak. In die somer van 1653 teken hy in sy dagboek aan dat dié insekte “groot schade aan de cool en de andere vruchten doen”. Die eerste werklike groot sprinkaanplaag tref die Wes-Kaap in 1746 ná ’n jaar van pragtige reën. ’n “Ongelooflijke menichte” van die insekte sak op die kolonie toe.
En die gevolg? Nie slegs die gesaaides en gras en vrugteboomblare nie, maar elke groen blad is verslind. Talle beeste en skape vrek weens die ontsettende verwoesting van alles wat eetbaar is.
1822: OORSTROMINGS
Honderde damme – “de trapswyse arbeid der laaste 50 jaaren” – word weggespoel of met dryfsand gevul ná een van die ergste oorstromings in die geskiedenis. In die Wes-Kaap is letterlik miljoene wingerdstokke onder water. Die regering vra ’n lening van £100 000 uit die buiteland aan en die land word vir die eerste keer by ’n buitelandse moondheid in die skuld gedompel. Sedertdien was hy nog nooit sonder buitelandse skuld nie.
1854: LONGPES
’n Bul wat van Holland ingevoer is en in Mosselbaai voet aan wal sit, bring longpes na die Kaap. In die eerste maande bly dit tot die Kaapprovinsies beperk, maar versprei dan vinnig na die noorde en ooste. Beeste vrek in groot getalle in die stamgebiede en veroorsaak erge spanning tussen swart en wit, omdat die opvatting bestaan dat die blanke die pes opsetlik versprei het.
Xhosa- en Tembu-stamme slag ’n groot aantal van hul beeste – na raming meer as 200 000 – omdat hulle glo dit sou tot ’n nuwe era van voorspoed lei. In die daaropvolgende hongersnood sterf 90 000 tot 120 000 mense. Nagenoeg ’n halfmiljoen beeste vrek weens longpes self.
1854: PERDESIEKTE
’n Onvergelykbare ramp het in 1854 begin. In daardie stadium het Suid-Afrika sowat 175 000 perde gehad. Boerderye was tot ’n groot mate van hulle afhanklik, veral nadat longpes die meeste van boere se beeste uitgewis het.
Lank nadat die longpes hom uitgewoed het, het die epidemie onder perde nog voortgewoed. Byna geen deel van die land het vrygespring nie. Baie boere het alles verloor. In 1856 is vasgestel dat sowat 40% van die land se perde, dit wil sê sowat 70 000, reeds dood is.
1895: RUNDERPES
Hierdie ramp was veel erger as die longpes en meer as 3 500 000 beeste vrek. Runderpes was lank reeds in Europa bekend. Gewoonlik het dit ná elke groot oorlog voorgekom. Die eerste internasionale veeartsenykundige kongres ooit is in 1863 gehou, hoofsaaklik om die stryd teen toekomstige runderpes-epidemies te bespreek.
In Oos- en Suid-Afrika was dit onbekend, tot dit in 1889 langs die Ooskus af versprei is. Teen die snelheid waarteen ’n ossewa beweeg, het die epidemie suidwaarts gekruip. In 1892 is die eerste uitbreking in Njassaland (Malawi) aangemeld. Teen die einde van 1895 was dit aan die oewers van die Zambezi en vier maande later in Mafeking (Mahikeng) en die destydse Noord-Transvaal.
Alle moontlike voorsorgmaatreëls is getref. Kwarantyn-regulasies is in die noordelike provinsies ingestel, maar het min gehelp. Soos ’n see van lawa wat stadig voortkruip en alles waarmee dit in aanraking kom vernietig, het die runderpes suidwaarts beweeg. ’n Poging is aangewend om dit uit die Kaapprovinsies te hou deur van kus tot kus ’n draad te span, maar hoewel dit die proses enkele weke lank vertraag het, is dit nie gestuit nie. Teen die einde van 1896 was die hele land besmet.
In die destydse Transvaal en Kaapland het 2 300 000 beeste gevrek, en volgens sommige kenners was die landsverlies meer as 4 000 000. Honderde boere was op die rand van bankrot- skap. Die land se beesstapel het ’n slag gekry waarvan dit nooit werklik herstel het nie.
Die Anglo-Boereoorlog het ook groot veeverliese meegebring, en boere het hulle permanent tot saaiboerdery pleks van veeteelt gewend.