Boere kweek ook ’n taal
Kommunikasie op die platteland het ’n ver pad gekom. Willem van der Berg kyk terug
na poskarre, slingerfone, handsentrales, radiodramas en die koms van televisie.
Mooifontein se nommer was 1311. As die groot swart telefoon op my pa se lessenaar aan die voorkant van die huis een kort en een lang lui gegee het, was die oproep vir ons bedoel.
Trieng-triiieeeeng, triengtriiieeeeng, trieng-triiiieeeng . . .
Wanneer ons geantwoord het, het ons gesê, “Een drie dubbel een, goeiemiddag”. Terwyl jy dan oor die telefoon gesels het, het ander mense wat die 13-lyn met jou gedeel het, soms hul telefone opgetel en gevra: “Besig?” Hulle kon nie bel of oproepe ontvang terwyl jy gepraat het nie.
Soms sou iemand vir jou sê hulle moet dringend ’n oproep maak. Ander kere is jy sommer vertel jy praat hopeloos te lank.
Almal op die 13-lyn kon mekaar sommer self lui. Jy het net die slinger langs die telefoon gedraai soos wat jy wou gehad het die lui moet klink. Twee kort draaie en een lange om 1321 te bel. Vier lang draaie vir 1304.
Om ander lyne in die hande te kry of om “ver” te bel, het jy die sentrale op Reddersburg gelui met een laaaang draai. Maar jy moes ook nie te lank draai nie, want dan sou die sentrale vies antwoord: “Dit is nie nodig om so in my ore te lui nie.” Maar gewoonlik het die sentrale geantwoord met: “Nommer asseblief?” Dan het jy die nommer vir hulle gegee om te lui. My pa het gewoonlik eers met die persoon in die sentrale gesels voor hy sou vra: “Kan jy vir my ’n nommer in Bloemfontein skakel, asseblief Johan?”
En wanneer die weer begin opsteek het, het my pa ook die sentrale gelui. Om te hoor of dit al op Reddersburg reën en of daar al nuus van ander boere is wat reën gekry het.
Jy kon die sentrale ook laat weet het as jy nie by die huis gaan wees nie en vra dat hulle vir jou boodskappe neem as iemand bel. Of jy kon sê as jy by mense in die omgewing gaan kuier dan het hulle soontoe gelui as iemand jou soek.
In 1999 het ons Olifantshoek toe getrek en die plaas (Rietfontein) buite die dorp se nommer was 1704. Dit was ons laaste handsentralenommer. Maar in die Karoo, rondom Fraserburg en Carnarvon, het vriende van my nog tot 2008 deur handsentrales gewerk.
Dit is maar tien jaar gelede en dit klink reeds vir baie mense soos ’n aardigheid in ’n wêreld vol selfoonseine, optiese vesel en iClouds. En hoewel tegnologie die lewe vir ons vergemaklik, neem dit ook die persoonlike kontak tussen ons weg. Dit is wat die skrywer Lientjie Barnard (in ’n Landbouweekblad van 2007) laat terugverlang na die tannies by die sentrales.
“Ek mis die tannie Maries van die handsentrales. Behalwe dat ek weet hoe sy lyk, waar sy bly en wat haar kinders se name is, was sy ook so toeganklik. En so bereikbaar dat my pa, wanneer hy ’n dringende oproep wou maak en die sentrale nie gou genoeg sou antwoord nie, in sy motor kon spring en die ses kilometer poskantoor toe kon jaag. ‘Antwoord tog nou die foon,’ sou hy dan sommer deur die gaasdeur van die sentrale roep, ‘ek het ’n dringende oproep om te maak’.”
As die beeld op die TV so beginne krimp, het jy geweet die battery is aan die pap raak. O, jinne. Dan moes dit nou net nie in die middel van jou storie wees nie.
POSKARRE
Maar 100 jaar gelede kon net ’n paar mense oor telefone gesels. Al het Port Elizabeth al in 1882 ’n sentrale met 25 lyne gehad, moes die platteland en boere lank wag vir dié luuksheid.
Die skrywer F.A. Venter, wat in die vroeë 1920’s op ’n plaas in die Britstown-omge
wing grootgeword het, vertel in sy boek Kambrookind dat hul enigste kommunikasie deur middel van briewe geskied het. “Ek het gewag dat die oom met sy twee appelblou ponies met die poskar van Britstown af moet kom. Een maal in die week het die poskar die pos tot by ons gebring en daar het al die mense hul pos kom haal – te perd of met die perdekar of selfs met die donkiekar. Koffie gedrink, gesels, grappe vertel en sommer net die dag lekker verbygekry omdat hulle uitgehonger was om te praat. As dit posdag is, werk ’n mens nie, dan kuier jy.”
Noodgevalle? Dit was in daardie jare dikwels ’n baie groter krisis as vandag.
Toe Venter as kind dodelik siek raak van maagkoors, moes die dokter op Britstown laat weet word. Daar was geen telefone nie en sy ouers het ook nie ’n voertuig gehad nie.
“Oom Hendrik jaag met oupa Frans se Fordjie Britstown toe en toe ou dokter Williams eindelik met sy motorkarretjie en swart portmanteau opdaag, lê my sandjies maar laag in die loper.”
In 1934 (hy was toe in matriek) pos Venter sy eerste kortverhaal aan Landbouweekblad. ’n Paar weke daarna ontvang hy ’n brief van die tydskrif.
“’n Kort briefie, met ’n tjek daaraan vasgesteek. ’n Pragtige groen tjek met helder letters. Die eerste tjek wat ek in my lewe van naby sien.”
En deur sy studiejare op Stellenbosch en eerste tyd as joernalis in die Kaap (1934-’38) is die enigste kontak tussen Venter en sy ouers in die Karoo steeds briewe.
“Ma se briewe – elke week een – was die dun koord wat ons aanmekaar gebind het. Baie dae wanneer ek onrein gevoel het nadat ek ter wille van die koerant in die donker hole moes rondsnuffel, het ek Ma se briewe oor en oor gelees.”
In 1931 was daar net vyfnommers op Wesselsbron in die Vrystaat se telefoongids: Barclays Bank; Coetzer & Coetzer Prokureurs; Stasiemeester; Swerdlow, C. Wool Livestock Buyer; en die Wesselsbron-hotel. Eers in 1945 was daar drie telefoonlyne wat plase met die dorp verbind het. Ja-nee, boere moes soms baie lank wag om deel te hê aan die plesiere van nuwe tegnologie.
RADIOVERMAAK
Mnr. Karel van der Berg, wat al jare lank tussen Bloemfontein en Verkeerdevlei boer, onthou toe die radio vermaak was. “In die aande is daar stories, soos Die Du Plooys van Soetmelksvlei, uitgesaai. Ons het saam om die radio gesit en luister en as die storie klaar was, het mense mekaar gebel om te gesels oor wat nou weer met oom Bartel-hulle gebeur het.
“Die mense in daardie stories het soos jou familie geraak. Dit was al wat ons gehad het. Die enigste stukkie verbeelding.”
Mnr. Robert Young, oud-omroeper en bestuurder van die Afrikaanse radiodiens, vertel dat daar nooit veel gebeur het in Die Du Plooys van Soetmelksvlei nie.
“Hulle drink baie tee, tant Hybie is gereeld op die foon, baklei met die exchange, sy wil met Hester praat . . .”
En as die akteurs ’n fout gemaak het, is dit ook opgeneem, want in daardie jare is die opnames regstreeks op plate gedoen en dit kon glad nie geredigeer word nie, vertel Robert.
“Maar ten spyte van alles het die Du Plooys baie gewild geword. Dit was die dae van kortgolfradio en dit was die enigste vermaak wat mense gehad het. En dit het gewild geword omdat die mense hulle kon vereenselwig daarmee.”
Op Sondagaande het Karel op die stasie LM (Lourenço Marques, deesdae Maputo), ingeskakel. “Dan het David Davies die Hit Parade gespeel. Dit was nou al die grootste treffers van daardie tyd. Maar ’n mens het nie sommer gesê jy luister na LM nie. Die ouer mense het niks daarvan gehou nie en ons boere was mos nou nie juis lief vir Engels nie.”
PLAASVEILIGHEID
Daar was ’n tyd dat dit in jou guns getel het as jy op ’n afgeleë plaas in die noorde van die land geboer het. In die 1970’s en 1980’s was die regering baie gesteld oor die bewaking van die land se grense. Daarom is baie moeite gedoen om boere langs die noordelike grense te beveilig.
In 1979 berig Landbouweekblad dat boere rondom Kuruman in die Kalahari met hul Marnet-radio’s op die SA Weermag se gebiedsradionetwerk kan inskakel en só regstreeks met die weermag kan gesels.
“Die boer neem bewegings in die veld waar. Hy ken die natuurlewe en die gedrag van diere en van die plaaslike bevolking. In die soort oorlogvoering waarmee Suid-Afrika op ons grense te doen het, is daardie eienskappe van ontsaglike belang,” lui die artikel.
Hierdie grensplase was ook van die eerstes wat krag en outomatiese telefone ontvang het. My pa het in 1999 die plaas Mokalanen tussen Van Zylsrus en Askham, reg teen die Botswanagrens, begin huur.
Mokalanen het Eskom-krag en ’n outomatiese telefoonlyn gehad, terwyl baie plase nader aan Olifantshoek en Upington hul eie krag moes opwek en deur handsentrales moes bel.
Mnr. Coenraad Kotze, ’n boer tussen Upington en Olifantshoek, was altyd baie ontsteld dat ons in die boendoes sulke luukshede gehad het, terwyl hulle in die “ordentlike deel van die land” moes sukkel met Lister-enjins en mense wat inluister op die plaaslyne. Maar Coenraad-hulle het darem begin selfoonsein opvang, terwyl ons daar tussen die hoë duine net-net na RSG kon luister.
My pa het sy selfoon só min gebruik dat hy een aand besef het daar is ’n vreeslike spul opgehoopte minute wat die volgende dag sou verval. Ek het met sy foon die yslike marnetradiotoring langs die huis begin uitklim op soek na sein, want só kon ons nie mors nie.
Driekwart teen hom uit en meters bo die huis se dak het ’n strepie sein op die skermpie verskyn. As ek die foon Van Zyls se kant toe gedraai het, het daar nog een bygekom.
“Ek het sein!” het ek vir my
pa geskree.
En toe het ek almal begin bel wat ek ken. Die foon in die regterhand, Van Zylsrus se kant toe gedraai, en met my linkerhand het ek aan die toring geklou. Vir lank. Tot ek later die moed bymekaar geskraap het om Lorraine se huisnommer te lui en vir haar ma te vra om met haar te praat.
Ná die ontdekking van sein hoog bo die huis se dak het my pa toe ’n antenna gekoop wat ons aan die toring vasgemaak het. Die kabel was lank, maar het dit net gehaal tot in die kombuis. Aan die punt van die kabel
was so ’n plat plastiekgedeelte waarteen jy die selfoon moes druk om die sein op te vang. Dit het gewerk en ons kon daar reg langs die gasstoof oproepe van die selfoon af maak.
TV SE KOMS
Toe TV-uitsendings eindelik in 1976 in Suid-Afrika begin is, kon net ’n hand vol boere in die land dit opvang.
In Junie 1975 het Landbouweekblad ’n artikel gehad oor die “ontvangsones” en “dooie kolle”. Daaruit het dit geblyk dat hoogstens 15% van boere
gemeenskappe ontvangs sou hê. Die oprigting van ’n “ingewikkelde en duur antennastelsel” kon moontlik die kanse om televisie te kyk verbeter.
“Nogtans,” het die artikel verder duidelik gemaak, “is dit raadsaam om eers deeglike ondersoek te laat instel en ’n uitvoerige prysopgawe te kry voordat sodanige antennastelsel opgerig word. Die kool kan dalk die sous nie werd wees nie.”
Karel vertel daar was ander dinge wat in die eerste jare van televisie ook jou kykgenot belemmer het.
“Min plase het daardie jare krag gehad. Ons het self so ou batterystelseltjie gehad met ’n kragopwekker wat net genoeg krag gegee het vir ligte in die huis. Jy het so ’n klein TV’tjie gekry wat op daardie 32 V-batterye gewerk het.
“As die beeld op die TV so beginne krimp, het jy geweet die battery is aan die pap raak. O, jinne. Dan moes dit nou net nie in die middel van jou storie wees nie. Want dan moet ek hol om ’n gelaaide battery by die kragopwekker te gaan haal.”
Daar was net twee uur in die aande “waarop alles ingedruk was”, vertel Karel. “Haas Das, die nuus en ’n oorsese storie wat oorgeklank was.”
Later het hulle krag gekry, groter TV’s en ook ’n groter verskeidenheid programme. Toe M-Net begin uitsaai, het Karel nie aangesluit nie. Maar hy onthou wel dat daar in die middae ’n ruk lank “oop” kyktyd was en dan kon nie-betalende kykers ook inskakel en die gewilde sepie Egoli opvang.
Nou, ja. Hoe kommunikasie oor nog 100 jaar gaan lyk, weet ons nie.
Teen die spoed wat dinge deesdae ontwikkel, hoop ek net daar sal darem nog ’n paar kolle wees waar ’n mens sal kan wegkruip vir sein en sosiale media. Want ’n stukkie stilte raak al hoe meer van ’n luuksheid.