Nuut onder die son
Wat was die belangrikste produkte vir die landbou van die afgelope eeu? En wat lê
voor? Jan C. Greyling kies 20 dinge wat boere se lewens makliker gemaak het.
ANORGANIESE KUNSMIS
Die geskiedenis van kunsmis begin in 1842 toe die Engelsman John Lawes die eerste anorganiese misstof ontwikkel het deur fosfaatrots met salpetersuur te behandel om superfosfaat te vorm. In dieselfde jaar het ’n Duitse navorser, Justus von Liebig, vasgestel dat plante stikstof nodig het om welig te groei. In 1909 het die Duitse chemici Fritz Haber en Carl Bosch ’n proses ontwikkel waardeur ammonium ekonomies haalbaar uit die atmosfeer gesintetiseer kan word. Slegs vyf jaar later het Bosch, saam met ’n BASF-navorsingspan, ’n fabriek vir die vervaardiging van ammonium opgerig. Dit was die begin van die hedendaagse kunsmisbedryf. Die tegnologie is nie onmiddellik aangegryp nie. Eers in die 1940’s het boere in Amerika anorganiese kunsmis op groot skaal begin gebruik. Dit het opbrengste drasties verhoog.
KRAGAFTAKKERS
In 1918 het die International Harvester Company (IHC) sy nuwe 8-16-trekker bekendgestel. Die trekker self was nie ’n groot sukses nie, maar dit was die eerste een met ’n kragaftakker soos ons dit vandag ken. Dié Franse boerepatent is die eerste in sy soort op ’n massavervaardigde trekker. Ander fabrikate het gou die waarde van die tegnologie ingesien en dit op hul trekkers aangebring.
FARMALL-TREKKER
Die International Harvester Company (IHC) se Farmall Regular (eers los geskryf as Farm All) van 1924 was nie die eerste driewieltrekker met hoë grondvryhoogte op die mark nie, ook nie die eerste veeldoel-trekker wat ook werktuie soos dorsmasjiene kon aandryf nie.
Die Farmall is ontwerp deur Bert Benjamin, ’n plaasseun met ’n fyn aanvoeling vir boere se behoeftes. Hy was vasbeslote om ’n veelsydige trekker te bou wat die uiteenlopende take op ’n plaas sou kon doen.
Die resultaat was die Farmall Regular, ’n robuuste, dog ligte trekker met ’n hoë grondvryhoogte. Dit kon met gemak oor rygewasse beweeg, maar was sterk genoeg om werktuie te sleep en om dit met ’n vliegwiel of kragaftakker aan te dryf.
Benjamin se Regular stel ’n nuwe standaard vir trekkerontwerp en definieer dit etlike dekades daarná.
DRIEPUNTE
In 1926 het Harry Ferguson die hidrouliese driepuntstelsel soos ons dit vandag ken, ontwerp.
Tot in daardie stadium is byna alle werktuie gesleep omdat trekkers bloot osse, muile of perde voor die stang vervang het. Dit was egter lewensgevaarlik, want talle trekkers het agteroor geslaan wanneer hul ploeg vassteek.
Om dit te keer, het Ferguson die driepunt ontwerp: Wanneer die ploeg vassteek, het dit die teenoorgestelde uitwerking en druk die trekker se neus af. Trekkers kon ook nou ligter wees omdat die ploeg in die grond druk op die agterwiele plaas.
RUBBERBANDE VIR TREKKERS
In die vroeë 1930’s kon die geklingel van meer as ’n miljoen staaltrekkerwiele op Amerikaanse plase gehoor word. Verskeie vervaardigers het met soliede of luggevulde bande begin eksperimenteer, maar hul ontwerpe kon nie die wringkrag deurstaan nie. In 1932 het Harvey Firestone en sy seun Leonard ’n laedrukband ontwerp met ’n groot oppervlak en spesiale kappe gebaseer op die vliegtuigbande wat hulle in daardie stadium vervaardig het. Dié nuwe rubberbande het trekkers se kraglewering verhoog en brandstofverbruik met 69% verlaag. Dit het ook groter gerief vir die operateur gebied.
Teen 1935 is 14% van alle nuwe trekkers met rubberbande verkoop. In 1936 was dit 31%, in 1937 skuif dit op tot 43% en in 1940 was dit 95%.
SELFBINDBALER
New Holland was in 1940 die eerste vervaardiger wat ’n selfbindbaler bekendgestel het. Voorheen moes ’n tweede persoon saam met die baler ry om die bale te bind. Die nuwe New Holland 76 het self sy bale gebind en kon ook die kaf of hooi van die grond af optel. Hierdie balers is dikwels met hul eie enjin toegerus omdat nie alle trekkers destyds ’n kragaftakker gehad het nie.
SPILPUNT
Die eerste spilpunt het in 1947 die lig gesien toe die Amerikaanse boer Frank Zybach moeg geraak het om besproeiingspype met die hand te versit. Die eerste weergawe is deur die water in die stelsel aangedryf en die spilpunt is in lyn gehou deur die spoed van die motors met stelsel van krane en kabels te varieer. Verskeie beter weergawes het gevolg. Teen 1952 het Zybach ’n ooreenkoms met die maatskappy Valley Manufacturing van Nebraska gesluit om sy uitvindsel te bou en aan te pas. Deesdae word spilpunte wêreldwyd gebruik en maak dit akkerbou moontlik in ongenaakbare landskappe.
VOGMETERS
Met die ontwikkeling van die neutronvogmeter in 1958 kon boere die eerste keer sien wat onder die grond gebeur en hul besproeiing na gelang van behoefte skeduleer. Die meters was akkuraat, maar duur. Hul gebruik is gevolglik beperk tot hoëwaarde-produkte en eksperimentele persele.
Omdat dit radioaktiewe stowwe gebruik om die vog te bepaal, was die toestelle ook gevaarlik. Die koste het egter skerp gedaal met die verdere ontwikkeling van meters wat die grondvog bepaal deur die geleibaarheid daarvan te meet. Dit stel boere in staat om veelvuldige sensors op verskillende dieptes op een land aan te bring.
SLATTERY-STROPER
In 1947 het A.D. Slattery en sy seun hul eerste grondboonplukker ontwerp en gebou. Teen 1957 is ’n mieliedorsmasjien toegevoeg en in 1962 het ’n trekkeraangedrewe mieliestroper die lig gesien. Vir die eerste keer het Suid-Afrikaanse boere ’n bekostigbare en eenvoudige alternatief gehad vir die arbeidsintensiewe handpluk en dors van mielies.
Vanaf 1963 tot 1972 het die Slattery-aanleg in Potgietersrus meer as 4 000 stropers gebou. In 1972 is 70% van alle mielies en grondbone met ’n Slattery geoes.
In dieselfde jaar is Slattery deur Massey Ferguson Suid-Afrika oorgekoop. Uiteindelik oortref die vermoë van selfaangedrewe stropers dié van die Slattery.
GLIFOSAAT
Die breëspektrum-onkruiddoder glifosaat is per toeval in 1974 ontdek, terwyl John E. Franz en sy span na ’n beter waterversagter gesoek het. Teen 1974 het Monsanto dit onder die handelsmerk Roundup geregistreer en word dit per volume die mees gebruikte onkruiddoder ter wêreld, veral nadat dit ook deel raak van die GMO-revolusie. Dit is al beskryf as die ideale onkruiddoder omdat die giftigheid laag is vir diere (moontlik laer as tafelsout en aspirien), dit nie in die grond beweeg nie, relatief gou afbreek (2-150 dae) en plante relatief moeilik weerstand daarteen bied.
ROTORSTROPERS
New Holland was in 1975 die eerste vervaardiger wat sy stropers met rotors toegerus het. Tot in daardie stadium het byna alle stropers “skoppers” gebruik om die koring van die kaf te skei, maar binne New Holland se TR70 word dit met twee rotors vervang wat die kapasiteit
aansienlik verhoog. Die eerste enkelrotorstroper het in 1977 gevolg toe International Harvester (vandag Case IH) sy 1400 reeks Axial-Flow bekend gestel het. Deesdae is die meeste stropers met rotors toegerus.
REKENAAR
IBM was in 1981 die eerste hoofstroommaatskappy wat ’n “persoonlike rekenaar” bekend gestel het, in teenstelling met ’n hoofraamrekenaar waartoe slegs regerings, universiteite en sommige maatskappye toegang gehad het. Die eerste hoofraamrekenaar is in die 1970’s op die Welgevallen-proefplaas op Stellenbosch geïnstalleer om koringproefdata te verwerk. Dit is glo deur 25 vroue met ponskaarte aan die gang gehou, omdat digitale interaksie nog nie moontlik was nie. “Persoonlike rekenaars” word in die 1970’s voorafgegaan deur “mikrorekenaars”, waaronder die Apple II van 1977. Later het rekenaars op plase ’n meer algemene gesig
geword. Vir baie boerderye was hul eerste rekenaar IBM se 368 wat in 1985 bekend gestel is.
INTERNET
Sedert Tim Berners-Lee in 1989 die “hypertext transfer protocol” (http) geskep het, is dit moontlik vir diverse rekenaarplatforms om dieselfde webwerf te besoek. Om dié rede word Berners-Lee as die “vader” van die wêreldwye web beskou. Die internet gee gebruikers amper onbeperkte toegang tot inligting en bring oombliklike kommunikasie. Dit verander die landbou ingrypend deur hoë volumes transaksies op internasionale markte toe te laat. Daarom is dit vandag moontlik om landboukommoditeite te verhandel op ’n ongekende skaal en geografiese gebied. Die internet maak dit moontlik om data te stuur, te hou en later te verwerk, soos grondontledings.
DIE SKUIF NA GMO
Herbert Boyer en Stanley Cohen het die GM-omwenteling in
1973 begin toe hulle die genetiese materiaal van een organisme na ’n ander oorgeplaas het. Soos met die ontwikkeling van bastermielies was die vordering aanvanklik traag, veral omdat die tegnologie verskeie etiese en gesondheidsvraagstukke tot gevolg het. In 1994 was die Flavr Savr-tamatiekultivar die eerste geneties gemodifiseerde landbougewas wat kommersieel geproduseer is. Insekbestande Bt-mielies het in 1995 gevolg en ’n jaar later glifosaat (Roundup)-bestande mielies en sojabone, asook insekbestande katoen. In 1997 is die eerste GM gewasse in Suid-Afrika aangeplant en deesdae het Suid-Afrika die negende grootste gebied onder GM gewasse. Wêreldwyd verteenwoordig dit 40% van alle gewasse. Hoewel daar steeds omstredenheid is oor die veiligheid van GMO’s, het 107 Nobelpryswenners in 2016 ’n dokument ten gunste daarvan onderteken.
GPS-SELFSTUUR
John Deere het in 1994 begin eksperimenteer met ’n GPS-bestuurstelsel. Teen 1997 het hy ’n werkende protipe (ontwikkel met die samewerking van die Stanford-universiteit) aan sy direksie gedemonstreer en in 2002 was John Deere die eerste groot vervaardiger wat dié tegnologie aan kliënte gebied het.
YOUTUBE
Jawed Karim, Steve Chen en Chad Hurley het in 2005 die eerste webtuiste geskep waarop gebruikers via die internet video’s met mekaar kon deel. In 2006 was ’n Nike-advertensie die eerste video wat meer as ’n miljoen keer gekyk is. Deesdae gebruik meer as 1,3 miljard mense elke dag YouTube om meer as 5 miljard video’s te kyk.
SLIMFOON
Steve Jobs het die Apple iPhone in 2007 onthul. Hoewel dit nie die eerste slimfoon was nie (IBM se “Simon” het reeds in 1994 die lig gesien), was dit die eerste werklik gebruikersvriendelike een. Boere kon toe ’n rits nuttige hulpmiddels, soos ’n weervoorspeller, sakrekenaar, kamera en soekenjin, in hul broeksak saamdra. Deesdae is daar talle toepassings wat help met enigiets van data-ontleding tot plaasbestuur.
SATELLIETBEELDE EN HOMMELTUIE
Die Russe het reeds in 1957 die eerste satelliet gelanseer, maar die grootskeepse gebruik van satellietbeelde moes eers wag tot die ontwikkeling van die digitale kamera, persoonlike rekenaar, internet en meer onlangs die hommeltuig. Vandag is dit moontlik om foto’s vanuit die ruimte of ’n hommeltuig te bekom waarmee plantgesondheid, oppervlak-grondvog en plantmassa vanuit die gemak van jou kantoor bepaal kan word.
SELFBESTUREND ÉN OUTOMATIES
Hoewel John Deere reeds in 1990 met die ontwikkeling van GPS-selfstuurtegnologie die eerste tree gegee het tot die ontwikkeling van outonome trekker en Case IH onlangs opslae gemaak met sy outonome konseptrekker, is die eerste ten volle outonome trekker nog nie beskikbaar nie. Die kwessie lê nie by die beskikbaarheid van die tegnologie nie, maar eerder by die ontwikkeling van sagteware wat die voertuig in staat sal stel om soos ’n mens te “dink”. Dit sal ’n “aanvoeling” moet kan hê van waarmee dit besig is, wat rondom dit aan’t ge
beur is, en sal ook uit ervaring moet leer. Dit is onseker wanneer dié tegnologie haalbaar sal wees, maar dit is net ’n kwessie van tyd.
‘TREKKERSWERMS’
Die toekoms van trekkers is dalk eerder kleiner as groter – én slimmer en skoner. Maatskappye, navorsingsgroepe en beginbesig
hede eksperimenteer met robottrekkers. ’n Voorbeeld is Fendt se MARS-projek wat mik om ’n “swerm” klein elektries aangedrewe robottrekkers te ontwikkel wat saam take met minimale toesig kan verrig. Die einddoel is dat hierdie mini-robotte take soos plant, spuit en skoffel outonoom sal kan uitvoer.