Sterre en sporthelde lief vir die landbou
Landbouweekblad het oor ’n wye spektrum bekendes met ’n plaasverbintenis berig: Politici, akteurs, kunstenaars, rugbyspelers, digters, sangers, politici en selfs
die Britse koninklikes. Die volgende stories was destyds veral gewild.
KATINKA OP GALOP
1970. Katinka Heyns vertolk die rol van Linda in Jans Rautenbach se nuwe rolprent Jannie Totsiens, ’n liefdesverhaal wat afspeel in ’n inrigting vir sielsiekes. Linda is behep met ’n hobbelperd, vertel Katinka. “Ek is mal oor perde. Ek het ’n perd op ’n plaas in Oos-Transvaal (nou Mpumalanga) en haar naam is Tosca. Tosca was die eerste opera wat ek gesien het. Haar vul het ek Lika gedoop – Lika is die meisie in Arme Marat, waarin ek die eerste keer teenoor Cobus Rossouw gespeel het.
“Ek was in ekstase toe ek hoor daar is ’n perd in Jannie Totsiens. Ek het elke week ryskool toe gegaan om my perdry op te knap. Maar toe kom die ontnugtering. Dis mooitjies ’n houtperd en nie ’n rêrige perd nie.
“As ek perdry, is ek vry. Dis soos Linda – sy wil ook ’n perd hê waarmee sy kan wegry van alles af. Dit was heerlik om Linda te speel.
“Om soos Linda iemand anders te wil word, dis wat toneelspeel vir my is – nooit vervelig nie, want ’n mens ontdek altyd iets nuuts, iets anders.”
O, BOEREPLAAS
1963. Landbouweekblad verneem dat die operasanger Mimi Coertse vir ’n kort vakansiebesoek aan haar vaderland op haar plasie naby die Hartbeespoortdam kom aftuig het. Drie jaar gelede het Mimi die plasie, Caro Nome (dit beteken: Soetste Naam), van 24 morg (21 ha) gekoop met geld wat haar stem vir haar verdien het. Dit is hier waar ons haar ingewag het toe sy en haar moeder van Johannesburg af teruggekeer het ná ’n bedrywige tydjie in die Goudstad.
Want dit is nou maar een maal so: of Mimi vakansie hou of nie, die telefoon bly haar baas en hou haar soos ’n bedrywige by aan die gang.
“Ek smag om ’n slaggie alleen te wees. Niks sal vir my lekkerder wees as om sommerso alleen op ’n kaal vlakte te sit en . . . net te sit nie. O, hierdie kaal, wye ooptes van ons land bekoor my. Het jy al gesien as die Magaliesberge teen die aand se kant grou raak?”
As Mimi Coertse haar land en haar grond dan só liefhet, hoekom bly sy oorsee?
Haar vader, die sewentigjarige mnr. B.P.J. Coertse, sê: “Mimi
is al tien jaar aan die Weense Staatsopera verbonde. Sy tree tot 40 keer in ’n operaseisoen van agt maande lank op en dan tree sy boonop verskeie kere as gassangeres op. As dieselfde geleentheid in haar vaderland vir haar geskep word, sal sy sekerlik nie oorsee woon nie, maar hier kom sing . . . en boer.”
KONINKLIKE BOERVROU
1961. Die koningin van Suid-Afrika van wie ons as onderdane met die republiekwording vanjaar afskeid neem, is ’n boervrou, knap, netjies en agtermekaar.
Wanneer koningin Elizabeth en haar eggenoot, prins Philip, vir ’n naweek Windsorkasteel toe gaan, 20 myl buite Londen, is hulle in der waarheid op die plaas. Op die oewers van die Teems draai ’n nou plaaspaadjie van die hoofweg af. ’n Klompie vet Jerseybeeste wei daarlangs. Op die agtergrond toring die grys kliptorings van Windsorkasteel hoog bokant die landskap uit. Agter daardie grys mure is die rykste en bes bewaarde skatkamers van die Engelse kuns en kultuur. Maar om daardie mure lê ook 250 morg (214 ha) van die beste landbougrond in Engeland, waarop die koningin se boerdery bedryf word. Vanaf die kasteel strek die plaas myle aaneen langs die Teems. Die boerdery bestaan hoofsaaklik uit ’n stoetery Jerseys en Ayrshires en ’n stoetery Groot Wit-varke. Op Windsor het haar twee oudste kinders, prinses Anne en prins Charles, elk hul eie perd waarmee hulle dikwels oor die landgoed rondjaag. Die jong prins het ook al sy eie bul. Prins Philip is egter die boer in die familie. Wanneer die geleentheid hom voordoen, is hy in ou klere en ’n paar ou skoene op die plaas bedrywig. Soms is hy op een van die vyf dieseltrekkers te sien.
– HANS J. LOMBARD
DIE KAVALIERS
1966. Landbouweekblad het onlangs in die Rustenburgkloof gaan kyk hoe dit met Jamie Uysfilms se jongste rolprent, Die Kavaliers, gaan. Uit nuuskierigheid oor die film, ja, maar grootliks omdat ons in die perde belang stel. Wie hou dan nie daarvan om ’n pragtige perd in aksie te sien nie – soos ook dikwels in die prent voorkom wanneer die onverskrokke Kavaliers met die Britte slaags raak.
Kyk, dié filmmense is moeilik. Haas onmoontlike dinge op die ongemaklikste plekke word van die spelers verwag. In nou klipskeure en op ander bykans onbegaanbare plekke moet perd en ruiter toneelspeel. (In die Magaliesberge is daar oorgenoeg sulke onmoontlike plekke
waar die regisseur sy sin kan kry.) En moenie dink hierdie meneer is tevrede ná die eerste probeerslag nie. Maar Elmo de Witt, regisseur van Die Kavaliers, is meer as in sy noppies met die perde in sy film.
Hulle is spogperde van ’n hele klomp jong boere in die land en dié van die SA Polisiekollege in Pretoria – met die jong boere en polisiemanne as baasruiters op hul rûe. Die wit perd wat die rol van Fleur speel, genl. De Wet se beroemde perd, behoort aan mnr. H.C. Strauss, ’n boer van Bloemhof.
WYNPLASE STAAN STIL VIR ROLPRENT
1969. In die wintersonnetjie op die voorstoep van mnr. Jan Momberg se plaas Neethlingshof, naby Vlottenburg, het regisseur Dirk de Villiers nou die dag pyp in die mond aan Landbouweekblad vertel hoe Kavalier-Films hom genader het om ’n rolprent te maak van Die Geheim van Nantes, die radioverhaal waarna 500 000 mense daagliks geluister het en wat later ook as fotoverhaal in De Beeld verskyn het.
Die bekende Bolandse plase Neethingshof, Meerlust, Vredenburg, Rustenburg en Schoongezicht in die distrik Stellenbosch het gedien as “ateljees”.
Dit is te betwyfel, soos Jan Momberg tewens ook erken, of enige van die boere vooraf kon besef waarin hulle hulle begewe het. Want op sy ordelikste is rolprentproduksie chaoties. In Nantes se geval kon vyf plaaseienaars sowat agt weke lank enige dag ’n stuk of ses voertuie verwag wat toerusting kom afpak en ’n twintigtal tegnici en spelers in hul huise losgelaat het. Hulle is uit hul studeerkamers gehou en werk in die kelders het tot stilstand gekom.
Boonop is die boere gevra om in die prent te speel. Só is Pierre du Mont (Niek de Jager) en Sandra (Rae Dawn Stevens) se verlowingspartytjie op Neethlingshof gehou en deur die meeste boere van die omgewing bygewoon.
Die dag ná die rolprentmanne hul toerusting en rommel op Neethlingshof ingepak het en gereed was om te vertrek, het mev. Trienie Momberg met ’n knop in die keel gesê: “Dit sal soos die dood voel sonder julle . . .”
DIRKIE EN LOLLIE
1969. Jamie Uys se nuwe rolprent Dirkie gaan oor ’n klein seuntjie, net agt jaar oud, wat ná ’ n vliegtuigongeluk alleen met sy hondjie in die uitgestrekte Namib-woestyn van Suidwes ronddwaal. Spanning is daar oorgenoeg as Dirkie die een teenspoed ná die ander oorkom. Die fotografie is ook pragtig – veral van die barre woestynlandskappe en die wilde diere wat hy op sy swerftog teëkom.
Klein Wynand Uys, Jamie se seuntjie, speel die rol van Dirkie met oorgawe.
’n Mens deel in sy vrees en verbystering as hy alleen die woestynlandskap moet aanpak. Ook in sy hartseer as hy dink dat sy hondjie dood is en in sy vreugde as hy haar weer vind.
Dit is deesdae veral moeilik om ’n rolprent te vind wat werklik vir kinders geskik is, daarom is dit verblydend om op een af te kom wat met die grootste vrymoedigheid as vermaak vir die hele gesin aanbeveel kan word.
DIE DORRE LAND
1966. Die bekende skrywer en grootwildjagter, P.J. Schoeman, besoek saam met ’n span van die Nasionale Filmraad die Kalahari, en praat in Landbouweekblad sy hart uit oor dié dorre landstreek waar die stilte “die dieper en mooier mens in jou weer na bowe bring”.
“Ek ken hom al oor die dertig jaar en hy het vir my van die mooiste bome en gras in die hele Afrika. Ek rus nêrens so volkome na gees en liggaam as in die ou Kalahari nie. En ek is geestelik altyd ryker wanneer ek uit hom terugkom. Hy het ’n eienskap waaraan ek so geproe-proe het in die Namib-woestyn en in die Kaokoveld. Dit is die
eienskap of vermoë om jou ’n klein, stil mensie te maak wat by tye – veral saans en snags – jou Meester se stem in jou dieper wese hoor praat.”
Wat het die ou Kalahari – waar jy jou water moet saamry – wat ander dele van Afrika nie het nie?
“Ek dink dit lê in die aard van die mens om nederig en stil te raak wanneer hy instinktief voel: Ek is nou in ’n land waar die lewe nie waterlote duld nie. Hier kan ek nie op ’n ander man se rug ry nie. Hier het ek my medebroer nodig soos nêrens anders in die lewe nie.”
En wanneer jy miskien nog so ’n bietjie twyfel of jy sal kan leef waar ’n klipslanertjie, ’n tortelduif of wildehond sonder water kan leef, red die Boesman jou selfvertroue. Hierdie gebore woestynmense openbaar aan jou ’n watervoorraad wat jy nie in die beskawing ken nie – ’n watervoorraad in die vorm van tsammas, gemsbokkomkommers, bolle en wortels, wat elke dag duisende kele “in die land wat opgedroog het”, nat hou.
STOEIER WORD BOER
1961. Manie Maritz – een van Suid-Afrika se gewildste stoeiers wat ’n rukkie gelede die stoeikryt vaarwel gesê het – boer nou met Brahmane en Boerbokke naby Pretoria. Wat Landbouweekblad op sy plaas naby Kempton Park gesien het, was genoeg om ons te oortuig dat hy net so ’n knap boer as stoeier is. Omdat die Brahman egter ’n baie mak dier is, kry hy hier nie kans om een van dié beeste in ’n kopklem vas te vat of ’n volstruisskop te gee nie. Nee, op die plaas is Manie ’n mak man. En hy glo ook dat ’n mens ’n dier met geduld en liefde moet behandel. Daarom krap hy sy beeste dikwels met ’n halfkroon, terwyl sy vrou, Beatrix, lekkers aan die Boerbokke uitdeel.
Vir Manie en Beatrix – “ons is vennote in die boerdery” – is daar geen mooier en beter bees as die Brahman nie. “’n Mens hoef maar net na hulle te kyk om hulle lief te kry,” sê Beatrix, wat self ’n plaasnooi uit Natal is.
Manie laat egter nie heeltemal slaplê wat oefening betref nie. In Pretoria het hy ’n amateurstoeiklub waar hy jong manne afrig. Daar kry hy darem die kans om die kêrels ’n bietjie rond te gooi.
‘ONS BEKENDSTE BOER’
1965. Gary Player, Suid-Afrika se gholfheld, het nou eintlik meer planne vir die boerdery as vir sy toekoms in gholf.
Op die oomblik het hy twee plase – die een by Halfweghuis tussen Johannesburg en Pretoria en die ander in die Magoebaskloof naby Tzaneen. Die plaas in die Magoebaskloof het Gary reeds genoem na die gholfbaan op St. Louis, Missouri, waar hy
onlangs die derde man in die geskiedenis geword het om al vier die wêreld se groot gholftoernooie te wen: die Britse Ope, die Amerikaanse Meesters, die PGA en die Amerikaanse Ope. Hierdie gholfbaan is Belle Rieve, en ander gholfspelers het dit al as die Groen Monster beskryf.
Oor sy liefde vir die boerdery kan die gholfheld nooit uitgepraat word nie. Die plaaslewe sit in sy bloed – ’n mens kan dit met ’n sambok nie uit hom kry nie. Daarom vertel hy geesdriftig: “Ek kan dit nou eenmaal nie verhelp nie, man, ek hou van die plaas. Dáár kan ek wegkom van alles. Dáár is dit die gesondste. Ek het nog altyd ’n groot liefde vir die grond gehad. Ek wil dit in my hande voel en deur my vingers laat gly, so . . .” En hy maak sy hande bak om te wys hoe. — KOOS VAN DER MERWE
RUGBYMANNE
Bertus van der Merwe, ’n wynboer van Worcester, was in 1956 die eerste Springbokrugbyspeler om op Landbouweekblad se voorblad te verskyn. Hy en sy spanmaats Chris Koch en Mel Hanekom, albei van Moorreesburg, het vertel hoe hulle Australië en Nieu-Seeland se boerderybedrywighede wil bestudeer terwyl hulle daar op toer is, soos Murraysriviervallei se druiwe- en vrugteplase.
Sedertdien het ’ n magdom bekende rugbyspelers oor hul boerderye gesels: Jan Boland Coetzee, Jannie Engelbrecht, Henry Honiball, Joggie Jansen, Frik du Preez, Burger Geldenhuys, Danie Rossouw, Os du Randt, Hempies du Toit, dr. John Williams. Twee stories wat veral gewild was, was Mannetjies Roux se skaapboerdery en Piet (Spiere) du Toit se wynboerdery. Só is daar destyds geskryf:
1965. Een van die jongste, kleinste en ligste Springbokke wat binnekort na Australië en Nieu-Seeland vertrek, is Mannetjies Roux, blitsige senter van agt internasionale rugbytoetse. Hy is klein, maar ken sy rugby – en ook sy skaapboerdery.
Mannetjies en sy vrou, Charlotte, boer op die ou geskiedkundige plaas Noblesfontein naby Biesiespoortstasie in die distrik Victoria-Wes.
Die plaas wat van moederskant aan die Hugo’s behoort het, is reeds vier geslagte lank in die Roux-familie se besit. (C.J. Langenhoven se vrou was ’n nooi Hugo van Noblesfontein. Sy het op dié plaas grootgeword en hier het die gevierde skrywer vir haar kom kuier.)
Die eerste indruk wat ’n mens van Mannetjies Roux kry – en een wat jou bybly – is dat dié klein mannetjie (die naam “Mannetjies” het ’n kinderoppasser hom gegee) nie op sy mond geval is nie en weet waarheen hy wil. Hy is maar vyf voet ses duim lank en weeg sowat 165 pd.
Sy eerste rugbywedstryd het hy op negejarige ouderdom vir ’n o.80 pd.-spannetjie van die Laerskool Strand gespeel, waar hy ook skoolgegaan het.
’n Bestuurder sal die boerdery waarneem terwyl hy daar oorkant teen die All Blacks rugby speel. Nietemin is Mannetjies ’n bekommerde man, want “ver van jou goed is naby jou skade,” sê hy.
1972. Vir Springbokvoorryman Piet du Toit was dit nie maklik nie toe hy in 1961 gesê het: “Nou is ek klaar met rugby.”
Hy was toe maar 26 jaar en met 14 toetswedstryde agter die rug, het die rugbywêreld vir hom oop gelê.
In die rugbylande van die wêreld is sy naam met vrees en agting genoem en in sy eie land was daar niemand wat hom kon lig nie.
Aan die anderkant het sy wynplaas Kloovenburg, wat hy in 1958 gekoop het, verwaarloos gelê. Boonop het hy as Karooseun uit Petrusville se wêreld net mooi nul van wingerdboerdery af geweet. Hy het besef dat as hy op die plaas bo wil uitkom, hy ’n bars in dié skrum sal moet druk.
Hy erken dat hy niks van wingerdboerdery geweet het toe hy die eerste dag op Kloovenburg aangekom het nie.
“Ek het baie oor wingerdboerdery gelees en teorie en praktyk bymekaar probeer bring. As my mense moes snoei, het ek daaroor gaan oplees, gaan kyk hoe hulle dit doen en vrae gestel,” vertel die vriendelike kragman.
Ná die eerste jaar het hy ’n grondige kennis van wingerdboerdery gehad.
Hy praat egter met lof van die hulp en bystand wat hy van sy voorman, mnr. S.W. Laubscher, gekry het.
Om die twee blomkoolore begin dit al grys raak, maar as die vier groot vingers en yslike duim jou hand omklem, kom jy dadelik agter – dié man is nog Piet Spiere.
In die rugbylande van die wêreld is Piet Spiere se naam met vrees en agting genoem en in sy eie land was daar niemand wat hom kon lig nie.