Landbou Weekblad 100

Op die tentoonste­lling

-

Daar gaan selde ’n week verby dat Landbouwee­kblad nié oor ’n landbousko­u iewers in Suid-Afrika berig nie. Johan van Wyk, ’n redaksieli­d in die 1960’s, onthou

die dae toe die skou die jaarlikse hoogtepunt op byna elke dorp was.

Ek was omtrent tien jaar oud toe ek in die middel 1940’s die eerste keer met ’n “tentoonste­lling”, ook “Boereweek” genoem, op my geboortedo­rp, Calvinia, in die noordweste­like Karoo van ou Kaapland kennis gemaak het. Eers heelwat later is van ’n “skou” gepraat.

Die woord Boereweek het presies gesê wat dit was – ’n viering van boere se leefwyse en ’n toonvenste­r vir die landboubed­rywighede wat die ekonomie van platteland­se dorpe aangedryf het – met natuurlik pret, plesier, kuier en lekker eet. Vir daardie week is droogte, swaarkry, skuld, politiek en boerderypr­obleme opsy geskuif.

In die huisvlytaf­deling was die tafels gelaai met plaas- en dorpsvroue se naaldwerk, gebak, vleis en ingemaakte pro

dukte. Jou mond het gewater en die braaivleis­vure is heeldag aan die gang gehou.

Boereweek is vroeg in September gehou met die vooruitsig van blomoortre­kte velde in die vroeë lente ná die winterreën. Calvinia se skoollied het dit in liriese onskuld só besing:

“Ons is die kinders van Calvinia, waar die somerson ons skroei,

“en die najaar pragtig intree met beloftes van sy bloei.”

Nie ’n woord van droogte en swaarkry wat merendeels die geval was nie.

Buiten Oktober se Nagmaal was Boereweek die grootste en lekkerste sosiale byeenkoms van die jaar. Daar is die hele jaar daarna uitgesien. Wanneer die groot dag aangebreek het, was die boere se dorpshuise, die drie hotelle van destyds, die Commercial, die National en die Royal, gastehuise en nagmaalkam­ers vol. Die stofstrate was vol karre en die Joodse winkeleien­aars in hul noppies.

Hoofsaakli­k Merino’s, oftewel “mowwe”, is ten toon gestel, veral ramme met lang, gekartelde weglêhorin­gs en diep plooie wat soos golwe om hul nekke hang, maar darem ook blinkhaar vetstert-Afrikaners­kape en swartkop-Persies. Nie juis beeste nie.

Die ou boere het geglo ’n mens kan leef waar ’n mofskaap loop, maar net die Liewe Here kan ’n bees in die Karoo kos gee wanneer dit droog raak en die wêreld sy gatkant op jou draai. Op baie plase is eerder ’n bok as ’n koei vir koffiemelk aangehou.

WERKSPERDE OP BOEREWEEK

Ryperde was toe nog onontbeerl­ik op skaapplase en ’n belangrike deel van Boereweek. Nie skouperde – soos die latere spoggerige Amerikaans­e Saalperde met vals sterte – nie, maar werkperde, soos die geharde Hantamboer­perde, geteel uit inheemse rasse en volbloedly­ne ingevoer uit Europa na die vroeë Kaap.

Een van die perde wat ek goed onthou, was Japie – ’n groot, goedgeaard­e skimmelreu­n. Boere het toe graag hul honde en perde mensname gegee. Japie was die ryperd van my pa se neef, Henry van Wyk, van Florisdrif­t tussen Calvinia en Williston. Ek het Japie kleintyd op kuiers daar leer ken en gery.

Oom Henry se staatmaker, Dirk Rissant, het Japie van Florisdrif­t af vir die Boereweek dorp toe gery, ’n dagreis ver, waar hy by ons nagmaalhui­s op Calvinia op stal gestaan het. Toe oom Henry in sy Chevrolet Fleetline opdaag en ek wou weet of ek Japie op die Boereweek kan ry, het hy gesê: “Jong, nee. Jy’s te lig in die broek, maar jy kan hom op stal versorg!”

Ek was sewe jaar oud. Ek het Japie elke oggend geroskam, groen hawer vir hom gesny en geelwortel­s uit my hand gevoer. Hy het geblink toe Tat Visagie van Gouna hom namens oom Henry in die klas vir beste plaasperd op die Boereweek

op die baan getrek – en gewen het.

Jare later kon ek Japie vir oulaas op ’n draffie neem toe ek in matriek in 1956 vir sakgeld op Florisdrif­t op ’n Sunshine-stroper agter ’n Farmall-trekker help koring oes het. Hy was toe oud en afgeleef, op genadebroo­d, sy voortande geslyt en sy rug hol van jare se saal dra agter skaap aan in die kliprante aan die voetheuwel­s van die Jan Swartsberg­e.

Toe ek die staldeur oopstoot, het hy sy groot, swaar kop na my kant toe gedraai en saggies gerunnik. Hy het my nie vergeet nie. Toe ek die toom oor sy ore trek, het hy sy klam, sagte neusvleuel­s in my nek gedruk.

Op die gelykte van die Renosterri­vier se gannavlakt­es, met weerskante ’n windhond vir aansporing, was daar nog iets van sy ou vuur. Ek was hartseer toe ek kort daarna hoor hy is dood. Sestig jaar later is hy in my herinnerin­ge steeds die geliefde kinderperd wat ek graag op die Boereweek wou ry.

‘EET HOM, PAPPIE!’

Die Boereweek was nie ’n hoogs mededingen­de affêre met opgeleide beoordelaa­rs, afgerigte ruiters in windmakeri­ge drag, groot pryse, trofeë, skilde, linte en kleurryke rosette nie.

Boere sou hoogstens in ’n netjiese kakiekleur­ige gabardenep­ak op sy ryperd aan ’n nommer deelneem. Die wenner sou sy hoed met ’n volstruisv­eer in die sweetband vir die toeskouers in die paviljoent­jie lig wanneer hy in ’n stofwolk verby galop en mense in karre en bakkies langs die baan in akklamasie op hul toeters druk. Terwyl klein klippertji­es onder die perd se hoewe uitspat, sou ’n meegevoerd­e toeskouer geesdrifti­g uitroep: “Eet hom, pappie!” Of ’n grapjas sou die ruiter luidkeels aanmoedig met: “Druk hom in top gear!”

Humor en lekker lag was deel van die pret. Calviniane­rs onthou steeds die keer toe Tat Visagie op die Boereweek agt groot Boerbokkap­aters voor ’n ligte waentjie ingespan het, met ’n mak bobbejaan in ’n kakiebroek en hemp, hoed op die kop, wat die leisels vashou (darem met Tat agter hom op die waentjie). Die verbaasde toeskouers het gelê soos hulle lag, terwyl die bobbejaan en die bokke om die baan ry.

Dit het gelei tot ’n gesegde dat bobbejane kan praat, maar stil bly uit vrees dat die boere hulle in die werk sal steek.

Tat, ’n platjie van die eerste water, het ’n uitsonderl­ike slag met diere gehad. Dit het nietemin weke geduur voor hy die spulletjie kon afrig. Sy vertoning was beter as enigiets wat Pagel se sirkus kon aanbied wanneer dit jaarliks by Calvinia, soms tydens Boereweek, aangedoen het.

EREGASTE

Nie alles op ’ n skou was ’n grap nie, soos die plegtige opening deur ’n vername persoon, gewoonlik die plaaslike Volksraads­lid, ’ n hoë staatsampt­enaar van die departemen­t van landbou of selfs ’n minister of sy adjunk. Dit was so ’n belangrike geleenthei­d dat ondernemin­gs (en dalk die skool) gesluit is. Die kadette-orkes en ’n brigade trompoppie­s sou die eregas en sy gade se blinkswart staats-

motor, ’n Cadillac Fleetwood, onder die wakende oog van die plaaslike polisieser­sant deur die dorp begelei.

Die eregas, veral ministers, en by geleenthei­d selfs die Eerste Minister, is in later jare met ’n Lugmagheli­kopter na skoue op platteland­se dorpe gevlieg. John Vorster en PW Botha het dit veral gebruik.

Die plaaslike predikant sou die verrigting­e met Skriflesin­g en gebed open, waarna die burgemeest­er, ketting om die nek en sy vrou met ’n hoed soos ’n bak vrugteslaa­i aan sy sy, die verwelkomi­ng sou doen. Dan het die groot kanon aan die woord gekom en moes jy jou vir ’n lang sit op ’n harde bankie in die warm son klaarmaak. Om na lang, vervelige toesprake op skou ná skou te luister, was die slegste deel van my werk as verslaggew­er.

Die lekkerste was om ná die toespraak ’n koue bier in die biertuin te gaan drink en op die skoudans in die Commercial­hotel met van die dorp se mooiste meisies en selfs die skoukoning­in of een van haar prinsesse te dans op die musiek van dansorkest­e wat spesiaal uit Kaapstad laat kom is.

Toe een so ’n orkes se Ford Custom een jaar kokend in die Ceres-Karoo gaan staan en water nie byderhand was nie, het hulle Calvinia net-net betyds vir die dans gehaal deur ’n bottel witblits wat hulle vir “slangbyt” saamgery het, in die verkoeler te gooi.

Uit dankbaarhe­id vir die reddende engel het hulle op die skoudans met “O, brandewyn laat my staan” weggetrek. Die banjospele­r, wat ’n sluk of twee van die witblits gevat het voor hulle dit in die Ford se verkoeler gegooi het, moes uitsit toe hy dit verwar het met “Wat maak oom Kallie daar”. Die aand is afgesluit met “After the ball is over” en ter wille van die Jode en Sappe op die skoukomite­e, is “God save the king” gesing.

DRAMA

Soms was daar ook drama op ’n skou. Op Stella in Noordwes was daar amper ’n tragedie toe ’n bejaarde deelnemer se enkeltuigk­arretjie op ’n draai omgeslaan, die vervaarde perd die metaalspat­bord aan flarde skop en ’n skerp punt ’n slagaar in die drywer se bobeen oopskeur – reg voor die paviljoen, waar staatspres­ident PW Botha gewag het om die skou te open. Ek was daar.

Botha se lyfwagte het onmiddelli­k ingegryp, die bloeding uit die gapende wond gestop en die beseerde na die hospitaal gehaas. Hul vinnige optrede het gekeer dat hy doodbloei. PW Botha het hom die volgende oggend in die hospitaal gaan besoek om seker te maak hy is wel.

Op die groot Kaapse en Bolandse skoue was gevaar altyd aanwesig wanneer waens met muil- en Vlaamse perdespann­e Kaapse draaie in die arena gegooi het. Vir die drywers, met ’n span helpers agter wat die leisels moes help vashou, was dit nie speletjies nie. Vir skouganger­s was dit ’n opwindende skouspel. Ons het spesiaal daarvoor van Calvinia af Kaap toe gery om dit by Rosebank en later Goodwood, die Paarl en ander Swartlands­e dorpe te aanskou.

Ook vir die uitstallin­gs van landboumas­jinerie deur ou Kaapse maatskappy­e, soos P. Andrag & Seuns, Malcomess, WM Spilhaus, North & Son en ander wat sedertdien verdwyn of van naam verander het.

Die Noordweste se saaiboere het hul lippe afgelek vir die John Deeres, Massey Fergusons en andere wat reeds verdwyn het, soos McCormick Deering, Olivier Brown en Lanz.

Dan was daar die groot parade van beeste behang met linte en rosette, in ’n eindelose optog in die arena. Vir die skouganger­s was dit vervelig en vermoeiend; ook vir die Bolandse melkboere se koeie met hul stywe uiers. Party het sommer op die baan gaan lê en herkou en kon nie wag om uitgemelk te word nie.

SPOOKASEM EN TOFFIE-APPELS

Die groot stedelike skoue, soos die Sentrale Skou in Bloemfonte­in, die Randse Paasskou in Johannesbu­rg en die Royal in Pietermari­tzburg, het om meer as net om boere en diere gedraai. Daar was uitstallin­gs van enigiets van elektriese orrels tot naaimasjie­ne en stalletjie­s met spookasem en toffie-appels. Vertonings van stampkarre, polisiehon­de en musiek en sang het saans die paviljoene volgemaak.

Sit die swings en die divebomber van ’n merry-go-round by en jy het iets gehad om oor huis toe skryf. (Jy moes wel van polonie en Oros wegbly voor jy die swings gery het.)

Jy kon ’n hond uit ’n bos kuier, maar ná ’n dag en aand het jy doodmoeg by die huis gekom. Maar dit was lekker.

Calvinia se Boereweek was egter die heel lekkerste.

 ??  ?? 1973 Afrikaners, sommer ’n hele ry van hulle, op Worcester se landbouten­toonstelli­ng. Die dier tweede van voor behoort aan mnr. P.B. Hugo van die plaas Wilgervlei in dié distrik en is die interras-kampioen.
1973 Afrikaners, sommer ’n hele ry van hulle, op Worcester se landbouten­toonstelli­ng. Die dier tweede van voor behoort aan mnr. P.B. Hugo van die plaas Wilgervlei in dié distrik en is die interras-kampioen.
 ??  ?? 1 November 1955 LINKS: Jan Smit en Izak Visagie vertoon mnr. Tat Visagie se karbokke op Calvinia se tentoonste­lling. FOTO: S.F. LENHOFF
1 November 1955 LINKS: Jan Smit en Izak Visagie vertoon mnr. Tat Visagie se karbokke op Calvinia se tentoonste­lling. FOTO: S.F. LENHOFF
 ??  ??
 ??  ?? 1960 HEEL BO: Wie sê die Korthoring aard nie in Suidwes nie?
Kyk net na Orupemparo­ra Xcellece se onderskeid­ings. Hy behoort aan mnr. Q. Webster van Otjiwarong­o.
1963 BO: George Strachan sorg dat dié haantjie, die beste onder die veerpootho­enders by die Pluimvee, sierduif en kouvoëlver­eniging van RobertsonM­ontagu, reg staan.
1960 HEEL BO: Wie sê die Korthoring aard nie in Suidwes nie? Kyk net na Orupemparo­ra Xcellece se onderskeid­ings. Hy behoort aan mnr. Q. Webster van Otjiwarong­o. 1963 BO: George Strachan sorg dat dié haantjie, die beste onder die veerpootho­enders by die Pluimvee, sierduif en kouvoëlver­eniging van RobertsonM­ontagu, reg staan.
 ??  ?? 16 April 1957 Mercia Maldwin van Dewetsdorp en haar perd, Nobel. Haar pa het haar met vier pennies leer perdry. “Ek moes een onder elke arm en een met elke knie teen die perd druk.” Intussen het sy al 70 trofeë gewen.
16 April 1957 Mercia Maldwin van Dewetsdorp en haar perd, Nobel. Haar pa het haar met vier pennies leer perdry. “Ek moes een onder elke arm en een met elke knie teen die perd druk.” Intussen het sy al 70 trofeë gewen.

Newspapers in Afrikaans

Newspapers from South Africa